Reeva Steenkamp se gesin kry eie speurder
2013-02-23 23:04
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Jacques Steenkamp en Adriaan Basson
Reeva Steenkamp se gesin het ’n private speurder aangestel om hulle
op die hoogte te hou van die moordondersoek teen Oscar Pistorius.
Lance Epstein was die afgelope week saam met lede van Reeva se
Johannesburgse “familie” – Desi en Kim Myers – in die hof toe Pistorius op
borgtog van R1?miljoen vrygelaat is.
Reeva het sedert September by die Myers-gesin gewoon.
Epstein se onderneming word bemark as “een van die voorste spanne
private ondersoekers in Suid-Afrika. Die spanlede het saam meer as 100 jaar
ervaring in die polisie, private ondersoekwerk en die
intelligensie-bedrywe.”
Die polisie se ondersoekspan het die afgelope week in die hof
deurgeloop toe ao. Hilton Botha, die ondersoekbeampte, verskeie belangrike
toegewings in kruisverhoor gemaak het.
Landdros Desmond Nair het Botha in sy uitspraak skerp gekritiseer.
Botha is intussen vervang deur ’n span senior ondersoekers onder leiding van die
nasionale speurhoof, lt.genl. Vinesh Moonoo.
Dit moes vroeër al gebeur het, het brig. Derick Furter, voormalige
hoof van die polisie se handelstak in Gauteng, gister gesê.
Vroeër jare het senior offisiere self getuig of opdrag gegee dat
die mees ervare en kundige speurondersoekers aangestel word, het hy gesê. Maar
deesdae is die “tendens” dat senior offisiere nie verplig voel om in enige sake
te getuig nie, want dis die werk van die adjudant-offisiere, sersante en
konstabels.
Furter meen baie sake sneuwel omdat junior offisiere onbekwaam of
onervare in die hof is.
Gary Barnard, ’n voormalige speurder wat tans as spesialis-
forensiese ondersoeker werk, sê om in borgtog-aansoeke te getuig, is altyd
moeilik omdat jou ondersoek nog nie klaar is nie.
Die ondersoekbeampte het in dié vroeë stadium nog nie die uitslae
van forensiese toetse nie.
Dit neem byvoorbeeld sowat drie weke net om selfoonstate van die
misdaadintelligensie-eenheid af terug te kry.
’n Gedugte regsverteenwoordiger van die kaliber van adv. Barry Roux
sou waarskynlik enige ondersoekbeampte onbekwaam laat voorkom het.
Juis daarom moes die polisie hul beste man of vrou gevra het om die
ondersoek te lei, meen Barnard.
Na verneem word gaan Moonoo toesig hou oor die ondersoek, maar die
dossier is oorhandig aan kapt. Mike van Aardt, wat baie ervaring het.
Van Aardt is ’n speurder wat onder die baasspeurder Piet Byleveld
gewerk het. Hulle het onder meer die Leigh Matthews-moordsaak opgelos.
Forensiese getuienis gaan ongetwyfeld ’n kernrol in Pistorius se
verhoor speel.
Nair het in sy uitspraak te kenne gegee die probleme wat hy in
Botha se getuienis uitgewys het, is nie die einde van die staat se saak nie.
“Die staat se saak sal bestaan uit forensiese bewyse,” het hy gesê.