Regering onderhandel nou oor e-tolstelsel
2012-09-22 23:13
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die regering gaan die komende week met verskeie belanghebbendes vergader in ’n finale ronde van gesprekke oor die toekoms van die e-tolstelsel in Gauteng.
Thabo Masebe, woordvoerder van adj.pres. Kgalema Motlanthe, het gister gesê die eerste ronde samesprekings sal Dinsdag met die Bondgenootskap Teen Stedelike Tol (Outa) by die Uniegebou gevoer word.
“Die regering sal die kwessies wat hier geopper word in ag neem wanneer daar besluit word oor die pad vorentoe,” sê Masebe.
“Die regering is duidelik bewus van die publiek se kommer oor die koste van die e-tolstelsel. Ons behoort teen volgende week op die klagtes te reageer,” sê Masebe.
Pravin Gordhan, minister van finansies, het Vrydag laat blyk hy is steeds nie gekant teen ’n tolstelsel nie, maar die besluit berus nie by hom nie.
“Ons moet ons afvra wat die beste manier is om vir die nuwe hoofweë in Gauteng te betaal.
“Ons wil nie alle belastingbetalers op ’n foutiewe wyse daarmee belas nie, so die vraag is wat is die regte balans?” het hy Vrydag in ’n onderhoud op SAfm gesê.
“Daar is verskeie opsies om te oorweeg, soos om voort te gaan met die e-tolstelsel of om terug te keer na ’n fisieke tolstelsel. Die moontlikheid word ook ondersoek om die brandstofheffing te verhoog,” sê Gordhan.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het skuld van R21 miljard aangegaan om die snelweë in Gauteng te verbeter.
Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, het die regering intussen gewaarsku om “nie te durf waag” om die e-tolstelsel in te stel nie en gedreig met ’n “aksieprogram”.
Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group, sê die jongste gebeure wys die politieke leierskap in die land is nie in staat om besluite te neem nie.
Roodt sê die hofinterdik wat die afgelope week deur die konstitusionele hof tersyde gestel is, het die land ook moontlik miljoene rande gekos.
“Dit was uiters skadelik vir die land se beeld en sy kredietwaardigheid,” sê Roodt.
“Uiteindelik is die regering egter verantwoordelik vir die fiasko,” sê hy.
Die konstitusionele hof het Woensdag die interdik tersyde gestel wat Sanral tydelik verbied het om tolgeld op Gautengse paaie te hef, hangende die hooggeregshof se hersiening van die hele stelsel in November.
Regter Bill Prinsloo het die interdik op 28 April in die hooggeregshof in Pretoria op versoek van Outa toegestaan.