Regstel-aksie: Bloedneus dreig
2012-07-21 23:52
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
As die vakbond Solidariteit se rits hof-oorwinnings oor regstellende aksie enige aanduiding is, kan die regering hom regmaak vir ’n bloedneus wat die toepassing van dié beleid in die ganse staatsdiens ingrypend kan verander.
Solidariteit het Donderdag hofstukke by die arbeidshof in Johannesburg ingedien waarin hy vra dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se regstellende aksie-plan vir 1 Januarie 2010 tot 31 Desember 2014 in sy geheel ongeldig verklaar word.
Die vakbond glo dit is strydig met die Wet op Gelyke Indiensneming en die Grondwet.
Solidariteit het ál sewe die sake oor regstellende aksie in die polisie waarin uitspraak al gelewer is, gewen.
Nóg sewe is hangende.
Die vakbond het ook drie ander regstellende aksie-sake teen onder meer die departement van korrektiewe dienste, Denel en die Tshwane-stadsraad gewen.
Agt ander sake teen ander instellings is ook nog hangende.
’n Beslissing in die guns van Solidariteit in die jongste geding kan verreikende gevolge vir die hele staatsdiens hê aangesien ander staatsdepartemente se beleid van regstellende aksie op dieselfde beginsels as dié van die polisie gegrond is.
Die hofstryd teen die polisie het die geval ingesluit van kapt. Renate Barnard, wat ’n paar jaar gelede oor die hoof gesien is vir bevordering omdat sy wit is.
Die arbeidshof het die polisie in Februarie 2010 beveel om Barnard tot superintendent te bevorder.
Solidariteit is ook in die Wes-Kaap by ’n arbeidshofgeding betrokke waar bruin lede van die departement van korrektiewe dienste ook hul werkgewer oor dié se rasgegronde regstellende aksie-plan pak.
Solidariteit sê hy is nie in beginsel teen regstellende aksie gekant nie, maar is oortuig die SAPD se voorneme om teen 2014 die ganse polisiediens absoluut verteenwoordigend van Suid-Afrika se bevolkingsamestelling te hê, is strydig met die Grondwet en die Wet op Gelyke Indiensneming.
Dr. Dirk Hermann, uitvoerende adjunkhoof van Solidariteit, sê die beginsel van absolute verteenwoordiging moet in die hof getoets word.
“Want wat die polisie se plan doen, is om ‘regstel’ deur ‘ras’ te vervang in sy regstellende aksie-plan.
“Ons sê daar moet op die insette van opleiding en ontwikkeling gefokus word, eerder as op die uitsette van ras en getalle.”
Luidens Solidariteit se hofstukke kom die polisie se regstellende aksie-plan neer op maatskaplike manipulasie, gegrond op ras- en geslagkwotas.
“Die plan neem nie die vaardighede van polisielede in ag nie en offer dienslewering op ten gunste van rasseverteenwoordiging.
“Die primêre verantwoordelikheid van die polisie is nie rasse-transformasie nie, dit is die veiligheid van Suid-Afrikaners.”
Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se arbeidshof-afdeling, sê die polisie se plan maak net voorsiening vir ras.
“Dit word so absoluut en op elke posvlak in die polisie toegepas dat dienslewering daaronder ly.
“Dit skend elke Suid-Afrikaanse burger se reg om sy of haar eie professie of loopbaan te kies.”
Die polisie het nog nie besluit of hy die aansoek gaan teenstaan al dan nie.