Reza was teater se literêre ‘mistieke figuur’
2012-01-28 23:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Marlene Malan in Kaapstad
Reza de Wet was vir die Afrikaanse drama wat Elisabeth Eybers vir die Afrikaanse poësie was – iemand met ’n ongelooflike talent, maar beskeie en stil daaroor.
So het die dramaturg Pieter Fourie gister aan Rapport gesê nadat De Wet, wat twee keer die Hertzogprys vir drama gewen het, eergister aan leukemie gesterf het.
Die siekte is in Oktober verlede jaar by haar gediagnoseer. Sy het in haar slaap in haar huis op Grahamstad gesterf.
Vir Fourie was sy “die volmaakte teaterwerker – van aktrise tot lektrise, regisseur en dramaturg”.
De Wet was ook een van die min Afrikaanse skrywers/dramaturge wat die Hertzogprys twee keer gewen het.
Sy het 12 dramas binne 15 jaar geskryf, waarvan vyf in Engels en sewe in Afrikaans, en nege pryse vir haar dramas gewen.
Die produksies van haar dramas het meer as 40 teaterpryse gewen.
“Reza de Wet was die Suid-Afrikaanse literêre wêreld se mistieke figuur. Haar een bruin en een groen oog was van die elemente wat aan haar ’n beeldskone, geheimsinnige voorkoms gegee het. Dié voorkoms kon in ’n sin verder gevoer word na elemente in haar werk, soos die dualisme daarin,” sê Fourie.
Prof. Nico Luwes, hoof van die dramadepartement aan die Universiteit van die Vrystaat, sê: “Reza kon met die magiese realisme omgaan soos geen ander dramaturg nie.
“Ek het drie van haar dramas opgevoer, en wat uitstaan – behalwe die uitsonderlike gehalte van die teks – is haar perfekte teateraanwysings. Jy hoef niks by te voeg nie. Ek kon in haar werk die ritme aanvoel waarteen ’n drama gespeel moet word.”
Luwes beskryf haar as “vriendelik, deur die blare, en iemand wat ure lank na iets soos ’n hoender se oog kon sit en kyk”.
De Wet het haar man, Lindsay Reardon, in die 1970’s ontmoet op ’n verhoogproduksie van hom, Fando and Lis, van Fernando Arrabal.
Haar laaste drama was Die see, wat onlangs by Protea verskyn het.