Rooi hale lê oor kind se rug
2013-02-23 23:24
* Vir 'n opvolg op dié berig, lees hier.
’n Tweejarige seuntjie is glo so erg by ’n kleuterskool geslaan dat die rooi hale oor sy rug en boudjies gelê het.
Sy ma het Vrydag ’n klag van aanranding by die polisie aanhangig gemaak. Dit is onaanvaarbaar dat iemand haar kind slaan, sê Jolene Ouwenkamp (32) van Moreletapark, Pretoria.
“Justin is nie die soort kind wat ’n mens hoef te slaan nie.
“Hy is so ’n liefdevolle, gelukkige kind.”
Ouwenkamp sê toe sy Justin die Woensdagmiddag by die kleuterskool Prinsies en Prinsessies in Elarduspark gaan oplaai het, het hy iemand se naam genoem met die woorde “slaan hard” daarna. “Ek het nie dadelik daaraan aandag gegee nie omdat ek nie gedink het dit was so ernstig nie. Omdat ek die kleuterskool en sy personeel vertrou, ondersoek ek nie elke middag my kind as ek hom by die skool gaan haal nie.”
Eers toe sy hom by die huis gehelp het om op ’n potjie te gaan sit, het sy die slaanmerke gesien.
Sy het dadelik personeellede van die kleuterskool gebel.
Rita van Aswegen, een van die twee hoofde, het haar gevra om die volgende dag na die skool te gaan.
Twee personeellede wat by Justin se versorging betrokke was, is ingeroep, maar albei het ontken dat hulle iets van ’n voorval weet.
Een van hulle het volgens Ouwenkamp wel erken dat sy “soms haar skoen uittrek om die kinders ’n ‘tik’ vir dissipline te gee”, iets wat vir Ouwenkamp onaanvaarbaar is.
Die kleuterskool het volgens haar die twee vroue tot komende Vrydag geskors, wanneer ’n tugverhoor gehou sal word om te bepaal wat gebeur het.
Ouwenkamp het die afgelope Woensdagaand foto’s van die merke geneem en haar seuntjie die volgende dag vir ’n mediese verslag na ’n dokter geneem.
Op die skool se versoek het sy die afgelope Vrydag ’n vergadering met personeellede bygewoon waar ’n arbeidskonsultant teenwoordig was.
Ouwenkamp het haar seuntjie dié dag uit die skool gehaal en soek nou na ’n ander kleuterskool.
Hy was voor die beweerde voorval goed op pad om van doeke af te wees, maar sedertdien wil hy nie op ’n potjie gaan sit nie, sê sy ma.
Van Aswegen wou nie kommentaar lewer nie omdat die saak volgens haar hangende is.