Ruil só en keer vir ’n vlooi in die kooi
2013-02-02 23:26
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Gavin Prins in Johannesburg
Hoe gereeld vervang jy jou bedlakens? Een keer ’n week? Maandeliks? Jaarliks?
In ’n studie wat onlangs in Brittanje gedoen is, is bevind ’n vyfde van Britte slaap meer as ’n maand lank op vuil beddegoed.
Daily Mail berig ’n studie wat vir die Britse meubelwinkel Dunelm Mill gedoen is, het verstommende bevindings oor mense se slaapkamergewoontes gemaak.
Sowat 2 000 Britte is gevra hoe gereeld hulle hul beddegoed was en/of vervang.
Net 40% van die deelnemers ruil hul beddegoed weekliks, soos wat die meeste kenners aanbeveel.
Sowat 36% ruil hul lakens elke twee weke, terwyl 17% erken dat hulle hul vuil beddegoed een keer per maand vervang.
Sowat 1% van die mense wat by die studie betrek is, vervang hul lakens net een keer per jaar.
Vroue is glo die grootste sondaars wat weke wag voordat hulle lakens vervang.
Prof. Anthony Okoh van die departement biochemie en mikrobiologie aan die Fort Hare-Universiteit sê een keer per week is ideaal.
“Persoonlike higiëne is belangrik hier. Om te keer dat kieme oorleef en jy infeksies kry, moet jy beddegoed gereeld vervang.”
Kenners waarsku vuil beddegoed trek bedgoggas, wat allergieë soos asma, ekseem en hooikoors meebring.
Hulle word gelok deur menslike afskeidings soos sweet, olie, hare en vel.
Dr. Karl Rumbold, ’n senior lektor in biotegnologie aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê: “Jy moet ongetwyfeld jou bedlinne gereeld vervang en in warm water was. As jy tyd in jou bed deurbring weens siekte, moet jy dit elke twee tot vyf dae vervang.”