SA animasiefliek kry groot stemme
2012-08-26 00:06
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n Animasiefliek wat oorsee tussen vier en vyf jaar sou vat om te maak, is deur 80 mense in Kaapstad binne twee jaar kafgedraf.
Zambezia, die eerste fliek deur die 33-jarige Kaapse regisseur Wayne Thornley, het boonop minder as $20 miljoen (R170 miljoen) gekos om te vervaardig – ook ’n fraksie van die produksiekoste in die buiteland.
Daar was egter een groot haakplek toe Amerikaanse verspreiders die fliek vir die eerste keer sien: die aksente van die voëls wat die hoofkarakters is in die driedimensionele animasiefliek was almal Suid-Afrikaans.
Dit sou nie in ’n internasionale mark werk nie.
Nou praat die voëls, wat woon in die fiktiewe Zambezia naby die sproeireën van die Victoria-watervalle, met die stemme van Amerikaanse bekendes soos Samuel L. Jackson, Jeff Goldblum en Richard E. Grant.
Die fliek oor ’n valk genaamd Kai is deur Triggerfish Animation Studios in Kaapstad vervaardig.
Kirstin Barwise, hoof van bemarking by Triggerfish Animation Studios, sê die idee het sewe jaar gelede posgevat.
“’n Amerikaanse egpaar, Greg en Claire Becker, het twee jaar lank in Suid-Afrika gewoon en hulle wou ’n fliek maak wat hul vyf kinders sou geniet.
“Hulle het dan ook die finansiering gereël vir ’n proef-episode en daarna het hulle uiteindelik deur verskeie kanale by Triggerfish beland.”
Barwise sê sowat 12 mense het bymekaar gekom en idees uitgeruil, waarna Thornley, Andrew Cook, Raffaella Delle Donne en Anthony Silverston die teks geskryf het.
“Hulle het ook met oorsese teksskrywers gekonsulteer om seker te maak die konsep werk ook vir die internasionale mark.”
Suid-Afrikaners kan op 26 Desember die fliek in plaaslike teaters sien.