SAUK-base kan aangekla word
2012-09-22 23:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ses voormalige SAUK-base word deur moontlike strafregtelike klagte en siviele eise in die gesig gestaar oor miljoene rande wat die openbare uitsaaier in onreëlmatige, bedrieglike en korrupte transaksies verloor het.
’n Siviele eis wag moontlik op Dali Mpofu, voormalige hoofbeampte, vir sy beweerde betrokkenheid by die R326 miljoen-kontrak vir digitale migrasie wat die SAUK met Siemens gesluit het. City Press het ’n verslag gesien wat Sully Motsweni, SAUK-hoof van risiko en bestuur, opgestel het waarin sy aanbeveel regstappe word gedoen teen Mpofu en Mafika Sihlali, oudhoof van regsdienste. Sy stel ook voor die spesiale ondersoekeenheid moet ’n ondersoek doen.
Motsweni sê in haar verslag Mpofu en Sihlali het ’n besluit verontagsaam wat hulle verbied het om kontrakte van meer as R10?miljoen te sluit.
Ander voormalige base onder die loep is:
* Gab Mampone, voormalige hoofbeampte, wat blykbaar ’n memorandum met Siemens onderteken het;
* Mvuzo Mbebe, voormalige hoof van programinhoud, oor sy rol in die ondertekening van Spaanse sokkerregte met die Nigeriese maatskappy Entertainment Highway Limited;
* Matilda Gaboo, oudhoof van buitelandse aankope, het na bewering R170 miljoen se programme aangekoop wat die SAUK nie uitgesaai het nie; en
* Sharoda Rapeti, voormalige waarnemende tegniese hoof, het glo vir die SAUK se uitvoerende komitee gelieg oor die Siemens-kontrak. Sy het gesê die kontrak sal R10 miljoen kos, terwyl sy geweet het dit sal R23 miljoen kos.
Die eenheid het ook dissiplinêre optrede teen 369 voormalige en huidige SAUK-personeellede aanbeveel; 304 was teen Julie nog in diens van die SAUK.
Kaizer Kganyago, SAUK-woordvoerder, wou nie kommentaar lewer nie.