Sabie: Trane van blydskap vloei

2012-08-18 23:49

Sarel Loots, bekend as MasterChef se “Sarel van Sabie”, het sommer in een van die watervalle gaan baljaar toe hy die goeie nuus hoor.| Foto: Brett Steele

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

“Sabie wen goud!”

Plakkate wat die goeie nuus versprei dat Sabie as Rapport en Kwêla se Dorp van die Jaar vir 2012 gekroon is, het verlede Sondag oral in dié dorp gepryk.

Die kompetisie is in samewerking met Leopard’s Leap-wyne aangebied.

Inwoners van dié dorp in Mpumalanga het mekaar spontaan in winkels en kafees omhels toe hulle Rapport oopslaan. Die Kwêla-kameraspan het hulle ook verras terwyl die gelukwensinge én die vonkelwyn gevloei het.

Sabie se prestasie is te danke aan al die inwoners en maatskappye se samewerking, sê Debbie Möller, die voorsitter van die taakspan wat stemme gewerf het.

“Ek het begin huil toe ek die goeie nuus hoor. En ek huil nie maklik nie!”

Sy sê vir die stemwerwery is kaartjies uitgeloot waarmee BlackBerry’s en helikopterritte gewen kon word, ’n gholfdag is gehou om geld in te samel en die taakspan het dae lank by skole deurgebring waar die kinders gestem het.

Daarby het die span omliggende winkelsentrums besoek met ’n stalletjie om stemme te vra en in die sakeondernemings is die Kwêla-insetsel herhaaldelik op groot skerms vertoon.

Die Wimpy het ’n plakkaat-kompetisie geborg toe die skoolkinders ingespan is om hul dorp te adverteer.

Die MasterChef SA-finalis Sarel Loots (Sarel van Sabie) het ook die ander finaliste aangemoedig om stemme vir Sabie te help werf.

Volgens Loots kyk die plaaslike mense nou met ander oë na hul eie dorp.

“Dit voel soos tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi, maar dié keer het Sabie gewen!”

Wen of verloor, is ’n oop uitnodiging aan al die inwoners gerig om verlede Sondag by die Merry Pebbles-restaurant vir middagete bymekaar te kom.

Adri Goss van die Thaba Chweu-munisipaliteit sê sy wonder in hoeveel dorpe is die mense nog soos een groot, hegte familie.

Charné Meyer, wat saam met haar man die saagmeule Sabie Pine Shavings besit, sê hulle is geseënd om in die wendorp te woon.

“Wat ’n lekker kuier is dit nie vandag nie!”

Christopher Georghiades van The Woodsman Pub & Restaurant meen Sabie gaan nou ’n “sprokiesdorp” word.

Vir Rina van Niekerk van die Wimpy is dit die natuurskoon van die omgewing wat uitstaan.

Jakes van Staden van Cycle Junkies sê Sabie is in meer as een opsig ’n wendorp omdat dit ook die beste plek vir fietsryers is om te oefen en om teen mekaar mee te ding.

Gerhard Coetzer, ’n staatmaker in Spar, sê weer hy kan nie méér glimlag nie. “Dié kompetisie gaan wonderwerke doen vir Sabie.”

Moenie Woensdagaand Kwêla om 19:30 op kanaal 111 misloop nie. Meer inligting word oor die makietie bekend gemaak en die groep Adam se nuwe musiekvideo word vir die eerste keer op televisie gespeel.

***

Die groot makietie om Sabie se wendorp-status te vier, vind Saterdag 25 Augustus plaas.

Die makietie word deur Rapport, Kwêla, kykNET en Leopard’s Leap geborg.

Rapport en Kwêla vang dan ook al die dag se aksie op kamera vas.

Die twee ingangsborde om aan besoekers te wys dat Sabie gewen het, word reeds voor die vieringe opgerig.

Die hekke van die Laerskool Sabie open Saterdag om 13:00, waar verskeie stalletjies iets vir die keel sal bied.

’n Optog begin om 14:00 vanaf die Sabie-buiteklub wat insluit ou motors, fietsryers, Milo die bokkie wat vuur beheer en ’n brandweerwa, trompoppies, Wildebees-motorfietse, Sarel van Sabie en al die ander sjefs van die dorp, ’n perderuiter, ’n vragmotor met ’n orkes op en sommer almal wat in die feesvieringe wil deel.

Baie kunstenaars is ook deel van die optog en die perdekar is juis vir Emo Adams.

Die plaaslike kunstenaars klim 15:00 op die verhoog en die kompetisiepryse word ook in die tent oorhandig.

Om 17:00 word die Dorp van die Jaar-trofee aan Sabie oorhandig.

Die groep Adam maak 18:00 die litte los, gevolg deur Emo Adams om 19:00 en Juanita du Plessis om 20:00.

Die kunstenaars se CD’s word ná die optredes in die tent verkoop.

Toegang is R30 vir volwassenes en R10 vir kinders.

Toegangkaartjies na die makietie gaan ook Saterdagoggend voor die aanvang van die optog by die buiteklub verkoop word.

Vir enige navrae oor die groot feesviering bel Hetta Saunderson by 082 920 3444.

***

Aaron Olihele Mokolometsa van Schweizer-Reneke sê hy gaan voort­aan Rapport koop en Kwêla kyk.

Dis immers danksy die Dorp van die Jaar-kompetisie dat hul gesin nou met ’n splinternuwe Kia Picanto EX ter waarde van R120?000 rondry.

Hulle het nie ’n motor gehad nie.

Mokolometsa se tienjarige seun, Rethabile, het die groot slag geslaan.

“Die onderwysers by die skool het vir die kinders gevra om selfone saam te bring sodat hulle kan leer hoe om ’n SMS te stuur,” vertel die pa wat as klerk by die departement van gesondheid werk.

“Die onderwysers het ook vir die kinders die nommer gegee waarheen hulle die dorp se naam moes stuur. Rethabile het 12 SMS’e gestuur.”

Mokolometsa sê hy was uit sy vel van blydskap toe hulle hoor Rethabile het die motor gewen.

Die reëls bepaal indien die wenner minderjarig is, word die voertuig op sy voog se naam geregistreer en gelisensieer.

Pa en seun was Maandag by Kia Bloemfontein waar die Picanto deur die handelaarshoof, Pieter Delport, aan hulle oorhandig is.

“Ek sal vir my seun ’n groot geskenk moet gee. Kyk net wat het hy vir ons gegee,” sê Mokolometsa.

Maryna Darries (40) van Prins Albert is die gelukkige wenner van ’n vakansie ter waarde van R65 000 by die Heritage Le Telfair Resort & Spa-hotel in Mauritius, geborg deur World Luxury Hotel Awards.

“Ek was nog nooit in my lewe oorsee nie!” sê die 40-jarige ma van twee.

Darries werk as huishulp vir Zelia Mullins van Prins Albert se toerismeburo, wat ’n groot dryfveer was in die “Stem vir Prins Albert as Dorp van die Jaar”-veldtog.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-16°C Showers early. More sun than clouds. Cool. Pta: 8-20°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-13°C Mostly sunny. Refreshingly cool. Bfn: 0-12°C Sunny. Cool.
Dbn: 12-21°C More sun than clouds. Refreshingly cool. PE: 12-17°C More sun than clouds. Cool.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot R2000 op die gewildste elektroniese ware

Kry elke dag besparings wat jou kop sal wegblaas op die gewildste elektroniese ware. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!