Safa in sop oor hy dié hoof afdank
2010-12-04 23:04
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Presies hoe ver die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) gegaan het om Fifa, die wêreldsokker-beheerliggaam, tevrede te hou vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi, kom nou aan die lig.
Safa het ’n pak slae in die Johannesburgse arbeidshof gekry oor die “blatante onregverdige ontslag” van mnr. Zane Cleophas as hoof van veiligheid tydens die voorbereidingsfase vir die toernooi.
Regter Edwin Molahlehi het gesê Cleophas se afdanking het te doen gehad met “baie vreemde en skokkende” redenasies van “iemand by Safa” dat Fifa die onregmatige ontslag sou goedpraat.
Volgens getuienis wat voor die hof gedien het, was Cleophas ’n verdagte in ’n diefstal wat tydens ’n toernooi van die Raad van Suider-Afrikaanse Sokkerverenigings (Cosafa) in 2008 gepleeg is.
Mnr. Raymond Hack, voormalige uitvoerende hoof van Safa, het Cleophas ontbied en volgens die veiligheidshoof aan hom ’n ultimatum gestel.
Dít was dat die diefstalklag sou verdwyn as Cleophas bedank, maar die klagte sou voortgaan as hy weier.
Cleophas het geweier om te bedank, maar is nie die kans gegun om sy kant van die saak te stel voordat hy in November 2008 afgedank is nie.
Safa-werknemers het getuig dit maak nie saak dat die klag dalk net ’n set teen Cleophas was en of sy inhegtenisneming regmatig was nie.
Hulle wou net ’n skandaal teenoor Fifa en die publiek afweer.
Die sukses van die Wêreldbekertoernooi het afgehang van indrukke, het hulle gesê.
Die saak teen Cleophas is in Januarie 2009 teruggetrek.
’n Arbiter het beslis Cleophas moet weens sy afdanking altesame R670 000 kry, ’n jaar se salaris, maar Fifa het dit in die arbeidshof betwis.
Molahlehi het Safa se hersieningsaansoek van die hand gewys en gelas dat die sokkerbase al Cleophas se regskoste ook betaal.