Slagoffers vertel van water-skade
2013-01-27 00:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die stormskade aan die Krugerwildtuin en plase in Limpopo is iets ysliks, maar danksy droër weer die laaste paar dae kon met opruimings- en herstelwerk begin word.
Volgens die Rooi Kruis is 973 mense in Limpopo met helikopters gered en sowat 500 gesinne in die gebied is haweloos.
Volgens iAfrica.com het tien mense weens die oorstromings in Limpopo omgekom.
Die oorstromings het ook 36 lewens in Mosambiek geëis en sowat 70 000 mense is dakloos gelaat.
Mpumalanga is ook erg deur die swaar reën getref en verskeie gebiede hiér is oorstroom.
Die Limpoporivier het oor sy walle gestroom en talle plase is oorstroom met gewasse en diere wat versuip het.
Coert Erasmus, ’n sitrusboer wat langs die Limpoporivier in Musina woon, sê sy skade beloop miljoene rande.
Hy sê baie van sy vee het versuip en sy mielie- en tamatielanderye het die ergste deurgeloop.
Die rivier het so vinnig afgekom dat hy en sy gesin moes vlug.
“Saterdag het dit hard gereën. Ek het bekommerd geraak oor die riviervlak wat styg. Daar is ’n klein rivier op die plaas langs my buurman se huis. Ek is soontoe om te gaan kyk wat aangaan. Ek was skaars tien minute weg toe bars die Limpoporivier omtrent oor sy walle. Ek moes huis toe vlug en die duurste goed bo in die huis sit. Daarna het ek en my gesin gevlug.”
Duné Erasmus, wat ook hier boer, het in trane gesê sy het baie goed met sentimentele waarde verloor.
“Ek voel so deurmekaar. Ons meubels is alles stukkend en vol modder. Een van my honde het ook verdrink. Ons het net die klere oor wat ons Saterdag aangehad het.”
Adele du Toit berig uit Nelspruit dat dele van die Kruger-wildtuin weer oop is, maar ander dele is te erg verspoel en nog gesluit vir die publiek.
Stephens Ledwaba, wildtuin-woordvoerder, sê in dié stadium weet hulle nie hoeveel die skade beloop nie.
“Talle hekke is weer oop vir die publiek, soos die Krokodilbrug-, Malelane-, Orpen-, Numbi- en die Phalaborwa-hek, maar die Pafuri- en Pafuri-grensgeriewe is nog toe.”
Volgens die Suid Afrikaanse Weerdiens het die Kruger-wildtuin tussen 120 mm en 250 mm reën gehad in die eerste 48 uur van die vloed.