Só word geveg vir Afrikaans se regte
2012-02-04 22:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n “Vegplan” van miljoene rande vir Afrikaans is eergister deur die beweging Solidariteit aangekondig.
Dit kom in reaksie op die jongste weergawe van die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale wat staatsdepartemente verplig om minstens drie amptelike tale te gebruik, waarvan twee inheems moet wees – Afrikaans uitgesluit.
Só lyk Solidariteit se vegplan vir Afrikaans:
* Regsweë: Solidariteit gaan die grondwetlikheid van die voorgestelde wetsontwerp in die hof toets, sou dit as wet aanvaar word.
* Die behoud van Afrikaanse skole: Solidariteit se burgerregte-inisiatief, AfriForum, het reeds met ’n veldtog begin teen pogings om Afrikaans uit skole te verdring.
* Beurse aan Afrikaanse studente: Solidariteit Helpende Hand gaan vanjaar meer as R7 miljoen aan Afrikaanse jongmense toeken – binne tien jaar R30 miljoen jaarliks.
* Afrikaans as wetenskap- en onderrigtaal: ’n Kampus waar Afrikaanse opleidingsinstellings gehuisves gaan word, word teen R150 miljoen gebou.
* Afrikaans terug in die hoofstroom-ekonomie: Dit word as ’n begin gedoen deur die korttermynversekeraar VirSeker.
* Afrikaans in die gedrukte media: ’n Eie uitgewery, Kraal-uitgewers, word bedryf.
* Afrikaans op die internet: Dit word gedoen deur Maroela Media, ’n internetkuierplek.
* Afrikaans in die werkplek: Veldtogte soos dié waar Afrikaanse eksamenvraestelle vir finansiële adviseurs beskikbaar gestel word.