Sokkervelde vir wagte
2012-10-07 00:17
Pres. Jacob Zuma se private tradisionele landgoed by Nkandla, waaraan meer as R200?miljoen se belastinggeld bestee word, sluit twee sokkervelde met sintetiese gras in wat Zuma se veiligheidswagte kan gebruik wanneer hy daar tuisgaan.
Die astro-velde, waarby die kenteken pryk van die KwaZulu-Natalse departement van sport en ontspanning, lyk of niemand dit nog gebruik het nie.
Heinings skei die sowat 20 veiligheidshuisies – wat meestal leeg staan – van die hoofwoning vir die president en sy groot familie.
In die middel van die landgoed is ’n onthaal-area wat volgens bronne gereed sal wees wanneer Zuma vir Kersfees huis toe gaan.
Rondom die partytjie-area is ’n reeks huise vir Zuma, sy vroue en kinders, waarvan sommiges met ondergrondse tonnels verbind is. Dan volg die gesin se private kliniek, ’n brandweerdepartement, huisvesting vir oppassers en personeelkwartiere.
Bo die hoofhuis is ’n dubbel- landingsplek vir helikopters van Zuma en belangrike besoekers.
Die heining rondom die landgoed word gemonitor deur talle sekuriteitskameras wat gekoppel is aan ’n sentrale beheersentrum op die perseel.
En Zuma se omstrede neef, Khulubuse, het ook ’n huis in die kompleks, wat slegs uit ’n beskeie versameling grasdakhuisies bestaan het toe Zuma in 2009 president geword het.
Vir die verbeterings van meer as R200 miljoen het Zuma slegs sowat R10 miljoen betaal.
Die eiendom staan op ’n stuk grond wat behoort aan die Ingonyama-trust en aan die departement van openbare werke verhuur word.
Dit is in April 2010 tot ’n nasionale sleutelpunt verklaar.