Soldate ontplooi
2012-09-16 00:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Mmanaledi Mataboge, Lizel Steenkamp, Suné Kitshoff en Jacques Steenkamp
Die ANC hou Brittanje, populisme en “wildewragtigs” soos Julius Malema verantwoordelik vir die gewelddadige stakings by Marikana en ander myne.
Dié aantygings is vervat in ’n verslag wat gister buite Pretoria deur die ANC se nasionale?werkkomitee (NWK) aan die party se topleiers voorgelê is.
In ’n dag van hoogdrama is sowat 150 lede van die weermag gister in die Marikana-omgewing in Noordwes ontplooi waar die polisie al van vroegoggend af besig was met ’n grootskaalse ontwapening van betogers.
Swaar gewapende polisielede het om 04:00 op die Karee-hostel van die myn toegeslaan en bakkievragte vol pangas, messe, knopkieries en stokke gekonfiskeer. Mynwerkers wat later in ’n veld saamgedrom het, is met traangas en rubberkoeëls verjaag.
By die Nkaneng-township het inwoners paaie met brandende bande, boomstompe en klippe versper terwyl die polisie in Njalas talle groepies mense laat spaander het. Mans is uit hul sinkplaat-huisies gepluk terwyl vroue die polisie verskree en die Njalas met klippe bestook het.
Teen die tyd dat ’n weermaghelikopter bo die gebied gesirkel het, het ’n dik laag rook en traangas oor die township gehang. Gerugte dat die weermag op pad is, het inwoners na hul tuistes laat vlug.
Minstens vier mense, van wie drie vroue, is deur rubberkoeëls getref en sowat twaalf mense is in hegtenis geneem, onder meer weens “onwettige byeenkomste”.
Mac Maharaj, pres. Jacob Zuma se woordvoerder, én kommentators het gister die voortslepende myn-onrus as die “grootste toets” vir die land se demokrasie bestempel.
“Ons gaan nóú moet besluit: Óf ons gaan gly tot anargie, óf ons gaan doelbewus bou aan hierdie land,” het Maharaj aan Rapport gesê.
Prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, het gesê: “Wat ons nou hier sien, is die grootste krisis wat die Zuma-regering nog getref het, indien nie die grootste sedert die ANC in 1994 oorgeneem het nie.”
In die NWK se verslag aan die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) word gesê Malema moet strafregtelik aangekla word omdat hy werkers van ander mynmaatskappye aangemoedig het om Marikana se voorbeeld te volg.
Die NWK het voorts aangevoer Lonmin, die eienaar van die Marikana-myn, en die Britse media is verantwoordelik.
“Die klem op Lonmin, wat ’n Britse mynmaatskappy is, spruit uit die Britse media se aanslag op die Suid-Afrikaanse regering sonder om na die rol van die werkgewer te verwys.
“Dié eng benadering het ruimte geskep vir die gebelgdheid jeens swart Suid-Afrikaners – onder wie minderheidsaandeelhouers (soos die NUK-lid Cyril Ramaphosa) wat toevallig ook swart is – wat die skuld kry dat hulle alleen verantwoordelikheid dra in die maatskappy.”
Volgens die NWK word “Marikana in wisselwerking met Mangaung gebruik” wat sinspeel dat Marikana sprekend is “van die swak leierskap” wat by die leiersverkiesing in Mangaung vervang moet word.
Voorts word “opportuniste wat gekant is teen die ANC” uitgesonder saam met die splinter-mynwerkersvakbond Amcu.
* Pravin Gordhan, minister van finansies, het Vrydag op ’n mediakonferensie by die Uniegebou in Pretoria gesê die opstande bedreig die ekonomie.
Benewens ’n laer groeikoers, sal die land se begrotingstekort styg omdat minder platinum uitgevoer word. Mense kan hul werk verloor en beleggersvertroue word ondermyn.
Die regering se noodmaatreëls om die onrus in bedwang te bring is ook toe aangekondig.
Onder dié maatreëls is ’n verbod op gevaarlike wapens en byeenkomste in die mynsektor.
Die produksie van platinum, Suid-Afrika se grootste uitvoerproduk, is weens die stakings bykans tot stilstand geruk.
Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group, sê swakker platinum-uitvoer gaan lei tot ’n swakker rand.
“Wat beteken ons gaan meer betaal vir olie – dan gaan die petrolprys op, inflasie styg, ons sal sit met hoër rentekoerse en groter werkloosheid.”