Stellenbosse miljoenêr woedend oor spookbieër
2012-02-18 22:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Om me. Wendy Appelbaum vir laster te dagvaar, is gevaarlik.
Dis ’n uitnodiging aan haar regspan om al die geraamtes in die kas van mnr. Rael Levitt, waarskynlik Kaapstad se mees flambojante afslaer, uit te grawe.
So het Appelbaum, invloedryke sakevrou en miljoenêr, gister gereageer oor die lasteraksie wat Levitt, uitvoerende hoof van Auction Alliance (AA), teen haar begin het.
Dit kom nadat sy twee maande gelede ’n suksesvolle bod ingesit het vir die Stellenbosse wynlandgoed Quoin Rock van die bankrot sakeman mnr. Dave King. Sy het gebie, maar haar bod van R55 miljoen is ’n week ná die transaksie deur die likwidateurs afgekeur.
So ontstoke is sy oor die “foutiewe” veilingprosedure dat sy dit na die Nasionale Verbruikerskommissie verwys het. Sy sê sy oorweeg regstappe en beweer die prys is deur ’n “spookbieër” opgejaag. “Ek het teen myself gebie.”
Sy beweer ook Levitt se personeel het drie keer hul storie verander oor wie so ernstig teen haar gebie het.
Volgens Levitt was die ses geregistreerde bieërs Appelbaum, mnre. Dave Cawood (Didata), Marais Steyn (Randgold), Whitey Basson (Shoprite Checkers), Douglas de Jager (voorheen Remgro) en ene Deon Leygonie.
Appelbaum hou egter vol daar was geen teken van ’n ander bieër nie wat die landgoedprys tot R60 miljoen opgejaag het, maar “wie se bod toe glo nie ’n bod was nie”.
Appelbaum beweer so ’n bieër is nêrens op veilingsbeeldmateriaal te sien nie. “By my herhaalde navrae het AA se mense eers gesê dis Cawood, toe Steyn, toe Basson en toe uiteindelik ’n ‘Deon Leogonie’ (sic), ’n handelaar in tweedehandse meubels.
“Dié ‘Leogonie’ het ook die herehuis-inhoud teen R1,4 miljoen gekoop, is gesê – inhoud wat net R300 000 werd is.
“My regsmense het bevind ‘Deon Leogonie’ bestaan nie.”
Dit kom te midde van ’n debakel wat die afgelope week om Levitt se kop losgebars het weens beweringe dat Auction Alliance ’n “geldmaakskema” (money-making racket) is, met beweerde kommissies aan regslui, bankamptenare en likwidateurs.
Levitt het Donderdag ’n tydelike hofbevel verkry om die publikasie van koerantberigte hieroor te probeer keer.
Hy is terselfdertyd in ’n hooggeregshofgeding gewikkel met nóg ’n ryk Kapenaar, me. Suzette Main.
Sy het verlede jaar ’n regsgeding teen hom begin weens beweerde “wanvoorstellings” rondom die verkoop van ’n handelseiendom in Kampsbaai van sowat R44 miljoen aan haar. Sy beweer dit is sowat die helfte hiervan werd.
Die Quoin Rock-eiendom is einde verlede jaar onder die hamer geplaas weens die honderde miljoene rand wat King aan die belastinggaarder skuld.
Quoin Rock is in Julie voorlopig gelikwideer.
Appelbaum sê die veiling is op R30 miljoen geopen. ’n Bieër “buite my gesigsveld” het die prys tot R60 miljoen opgejaag. “Levitt het verwag ek gaan R65 miljoen aanbied. Ek het dit van die hand gewys en Levitt het gesê hy sal R61 miljoen aanvaar. Ek het weer geweier. Daarna het hy die ander bieër, wat agter in die vertrek gesit het, gevra: ‘O, jammer, meneer, was R60 miljoen nie ’n bod nie? Terug by u, dame, teen R55 miljoen dan.’ Die bod is op my toegeslaan.”
Appelbaum sê sy het ook die meublementveiling bevraagteken.
“My adviseurs het gereken dis so R300 000 werd. Maar ek is gedruk tot R1,3 miljoen. Toe word dit vir R1,4 miljoen aan die meubelman verkoop.
“Waarom sou iemand heeltemal te veel betaal vir die binnegoed van die huis? Dis absurd.”
Dis toe dat sy en haar regsmense ondersoek begin instel, sê Appelbaum.
Beeldmateriaal toon nét sy het gebie, sê Appelbaum. “Ek weet hoe ek lyk.”
Verdere ondersoek toon “Gideon Joubert Leygonie” werk vir AA. Nou beweer Levitt dis Leygonie wat namens mnr. Ariel Gerbi van Israel gebie het.
Maar Gerbi was nie ’n geregistreerde bieër nie. En mnr. Craig Berman, ’n AA-direkteur, sê hy’t nog nooit van Leygonie gehoor nie. “Levitt speel ’n gevaarlike speletjie deur my vir laster te dagvaar. My regspan word uitgenooi om onder elk van sy klippe te kyk; al sy kasdeure oop te maak.”
Rapport het sedert Donderdag herhaaldelik met Levitt in aanraking probeer kom om sy kommentaar te kry.
Hy het deur sy publisiteitsagent, Luxury Brands, laat weet hy lewer geen kommmentaar nie omdat die sake sub judice is.