Steun vir Griekwastad-aangeklaagde
2012-10-24 14:47
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die mense wat briewe skryf aan die tienerseun wat van die Griekwastad-moorde aangekla word, wonder oor sy onskuld, maar “bied hul ondersteuning en liefde onvoorwaardelik aan”.
Só sê die vrou wat dit haar taak gemaak het om mense aan te moedig om vir die 16-jarige seun te skryf en wat die briewe vir hom by ’n posbus in Kimberley afhaal.
Sy glo in die onskuld van die kind wat van die moorde op 6 April op Deon, Christel en Marthella Steenkamp in hul plaashuis naby Griekwastad aangekla word.
Die trant van die bykans 100 briewe wat die tiener van mense ontvang het, is ondersteunend, sê sy.
“Daar was net een lelike brief. Die mense is so dierbaar en neem hom aan as deel van hul eie gesinne. Een vrou skryf selfs dat sy hom sien as haar eie seuns se ouer boetie. Die mense bid vir hom en stuur Bybelse boodskappe. ’n Mens kan sien dat hulle self baie smart en pyn het en dat dit hulle help om daaroor te skryf.
“’n Mens kan aflei dat hulle wonder oor sy skuld of onskuld. Tog bied hulle dadelik hul onvoorwaardelike ondersteuning aan.
“Wat ook al die uitkoms is, ek sal by hom staan. Sou hy skuldig bevind word, sal hy my nog meer nodig hê.
“Die familie en die seun is geweldig dankbaar oor al die briewe en bedank die mense uit die diepte van ons hart.
“Dit beteken verskriklik baie vir die seun. Daarom het hy toestemming gegee dat ons uittreksels aan die media mag gee. Ons het nie die briewe aan verslaggewers gegee om te lees nie. Dit bly alles privaat.
“Hy is ongelooflik dankbaar dat so baie mense in sy onskuld glo.”
Die vrou sê die ontvangs van die briewe vir die seun, is die minste wat sy kan doen om die seun se voog, Bennie Heckroodt, te ondersteun. “Hy (Heckroodt) moet na hom (die seun) omsien en ook sy sake-onderneming en plaas bedryf.”
Sy het die seun nie geken voordat hy kort ná sy 16de verjaardag in hegtenis geneem is en vir ’n week in die Galeshewe-polisieselle in Kimberley aangehou is nie.
Dit was hangende die uitspraak in sy suksesvolle aansoek om borgtog waarteen die staat nou appelleer.
Die vrou vertel: “Ek het soggens vir hom ’n Big Mac-burger geneem. Dit was die enigste ding wat hy gemaklik met sy hande kon eet omdat hulle nie eetgerei mag gebruik nie.
“Die seun was baie kalm en sterk. Soveel mense het my toe gevra hoekom ek soontoe gaan en of hulle boodskappe na hom kan stuur. Dit is toe dat ons besluit het mense kan vir hom skryf.”
Die staat se appèl teen die borgtog vir die tiener wat van die driedubbele moorde aangekla word, word op 5 November deur twee regters in die hooggeregshof in die stad aangehoor.