Steve sê sy sê oor Pta se naam
2012-10-07 00:17
CARIEN KRUGER IN PRETORIA
Vir een groep Suid-Afrikaners is die naam “Pretoria” sinoniem met verdrukking, maar vir die ander het dit geen verbintenis met apartheid nie.
Dít was die twee kampe van menings tydens gister se openbare vergaderings wat die Tshwane-munisipaliteit oor die hoofstad se naamsverandering gehou het.
Daar was ANC-kleure en -klere te sien, maar ook tweekleur- en ander kakiehemde.
In Centurion het die gemoedere aanvanklik hoog geloop omdat die tegnologie wat die verrigtinge in ’n aangrensende vertrek moes uitsaai, ingegee het.
Mense moes in gangetjies in die stampvol raadsaal staan of op die vloer sit. Boonop het die lugversorging wat aanvanklik nie gewerk het nie, almal warm onder die kraag gehad.
Oscar Matafa, raadslid, het versoeke dat die vergadering uitgestel word, verwerp en almal gemaan om mekaar te respekteer.
By die verhore in Centurion en die Pretoriase stadsaal het mense die sprekers met wie hulle saamgestem het luidkeels toegejuig, maar ander uitgejou.
Talle sprekers het hul steun aan die naam Pretoria toegesê oor die rol wat Afrikaners gespeel het om die stad te vestig.
Ivan Molepo het egter gesê vir hom is Pretoria die plek waar dr. H.F. Verwoerd gesê het swart mense moet weet dat gelykheid met wit mense hulle nie beskore is nie.
“Pretoria is die hoofstad van apartheid. Ek wil nie hierdie erfenis vir my kinders nalaat nie.”
Subesh Pillay, voorsitter van Tshwane se stadsbeplanningskomitee, het gesê daar is ’n belangrike boodskap van versoening wat gehoor moet word.
“Ons erken die belangrike rol wat Afrikaners gespeel het.”
Volgens hom sal name soos Pretoria, Centurion en Soshanguve steeds binne die stad Tshwane voortbestaan.
Cilliers Brink, DA-raadslid, het die party se voorstel bepleit dat die gekombineerde naam Tshwane-Pretoria gebruik moet word om ’n keuse tussen die twee te verhinder.
Volgens AfriForum se geskrewe voorlegging was daar verskeie flaters in die munisipaliteit se naamsveranderingproses.
Volgens hulle is dit ’n wen-wen-oplossing om Pretoria te behou en die metroraad Tshwane te noem, maar ’n naamsverandering sal neerkom op disrespek teenoor minderhede.
Die sanger Steve Hofmeyr het die vergadering in die stadsaal bygewoon, maar net geluister.
Hy het aan Rapport gesê: “Ons moes gepraat het toe ons nog kon, in 1994” en “Ek noem stede wat ek wil.”
* Die munisipaliteit gaan ’n verslag oor die publiek se bydraes stuur na Paul Mashatile, minister van kuns en kultuur, wat oor die naam moet besluit.