Sy wil beskerm, maar polisie sê sy ‘help’ boewe
2012-02-04 22:50
Sy was ’n pionier van die polisie se verkragtingseenheid, maar vier jaar nadat sy tot bekering gekom het, is dit juis die polisie wat haar tronk toe wil stuur weens regsverydeling omdat sy ’n kind wou beskerm.
Me. Anneri du Plessis (43) is op 12 Augustus verlede jaar deur sowat 12 gewapende polisiebeamptes in Vanderbijlpark in ’n kerk (die kantore van Crossroads, haar organisasie) in hegtenis geneem.
Dit was nadat sy geweier het om ’n 13-jarige meisie, wat glo deur sowat 17 mans verkrag is, aan die polisie te oorhandig.
Du Plessis is kort daarna vir die derde keer in drie jaar van onder meer regsverydeling aangekla. Haar saak het einde verlede maand in die plaaslike landdroshof voorgekom.
Talle polisiebeamptes in die dorp sê Du Plessis het “’n baie goeie hart”, maar dat sy regstreeks daarvoor verantwoordelik is dat ’n hele klomp verkragters skotvry in Vanderbijlpark rondloop.
“Sy meng te veel in en daarom word ons sake uit die hof gegooi. Sy bedoel seker goed, maar ons kan nie só werk nie.
“Sy kan nie die duiwel vir alles wil blameer nie,” sê ’n polisielid.
Du Plessis meen sy tree in die belang van kinders op.
Sy besef sy is dalk net te toegewyd, maar sy het ’n liefde vir stukkende mense en dis daarom haar plig as ’n ware Christen om hulle by te staan.
“Goeie goed gebeur met God se kinders, maar slegte goed ook. Ek is hier om hulle (die polisie) te help en om ’n verskil te maak, nie om te baklei om my eie oorlewing nie,” sê Du Plessis.
Du Plessis was 12 jaar lank ’n polisielid. Sy was een van die drie stigterslede van die verkragtingseenheid van die Pretoriase moord-en-roofeenheid. Die eenheid het destyds baie aandag getrek.
Volgens haar dien dit vandag geen doel om sekere misdade by die polisie aan te meld nie, want dit word eenvoudig nie vervolg nie.
“Ek’s spyt ek het die polisie ooit genader, want dit is nou al twee jaar wat hulle elke saak opdonner. Hulle is lui en weet nie wat hulle doen nie,” sê Du Plessis in trane.
Sy sê die meisie wat sy verlede jaar wou beskerm, is dae later deur die polisie “gesteel” en in ’n plek van veiligheid geplaas waar die eienares glo deel van ’n sekte is.
“Daai kind is van God af weggevat. Dit is vreeslik verkeerd. Ek wil graag met haar praat, maar sy wil my nooit weer sien nie,” sê Du Plessis.
Volgens ’n bron kan die meisie se aanvallers nie van verkragting aangekla word en suksesvol vervolg word nie omdat Du Plessis haar te lank versteek het.
DNS-monsters kon dus nie by haar geneem word vir bewyse nie.
“Dit is die derde soortgelyke voorval hierdie waarvan ek weet waar Du Plessis ingemeng en waar die verdagtes weggekom het. Dit kan nie so aangaan nie,” sê die bron.
Du Plessis se regsverydelingsaak is tot 15 Februarie vir verdere ondersoek uitgestel. Sy word deur die Pretoriase prokureur mnr. Oeloff de Meyer verdedig.