Te bang vir boelies om te kan leer
2012-12-16 02:27
Suid-Afrika het nog ’n twyfelagtige prestasie behaal: Dis die land waar laerskoolleerlinge die meeste afgeknou word en hul skoolwerk ly daaronder.
So is bevind toe 49 lande se leerlinge verlede jaar deur die Progress in International Reading Literacy Study (Pirls) getoets is.
In Suid-Afrika het 55% van gr. 4’s gesê hulle loop weekliks onder boelies deur.
Internasionaal sê net sowat 20% van kinders hulle word weekliks geboelie en 47% sê hulle word nooit by die skool afgeknou nie.
Van die Suid-Afrikaanse gr. 5’s wat die toets afgelê het, het 55% van die Afrikaanse en 46% van die Engelse kinders gesê hulle ervaar dit weekliks.
Suid-Afrikaanse kinders se leesgeletterdheid was, soos in die 2006-Pirls, nie goed nie.
Altesame 43% van die gr. 5’s het nie die basiese vaardighede wat internasionaal op ’n gr. 4- vlak vereis word nie. Van die gr. 4’s het 29% nie die vaardighede wat internasionaal op ’n gr. 2-vlak vereis word nie.
Afknouery is uitgesonder as ’n kernfaktor in dié swak resultate.
Die 2011-Pirls wys die leerprestasie van kinders in skole waar afknouery weekliks voorkom, is sowat 120 punte (uit ’n totaal van 1 000) laer as in skole waar dit skaars is.
Prof. Sarah Howie van die Universiteit van Pretoria en die Pirls-koördineerder in Suid-Afrika, sê weeklikse afknouery kom min voor in Noord-Europese lande soos die toppresteerder, Finland (9%).
Gita Dennen van Childline Gauteng sê afknouery is ’n soort mishandeling en kinders wat gereeld mishandel word, word “hiperwaaksaam”.
“Die kind sal minder fokus op woorde en meer op tekens in sy omgewing wat op bedreigings dui,” sê Dennen.
“Dit het ’n regstreekse en negatiewe invloed op ’n kind se vermoë om nuwe inligting in te neem.”
Sy trek ’n verband tussen die hoë voorkoms van afknouery in Suid-Afrikaanse skole en die land se geweldkultuur, waaronder die wydverspreide en voortdurende gebruik van lyfstraf in huise en skole.
“Dit lei tot die normalisering en aanvaarding van gewelddadige gedrag. Afknouery kom meer in skole voor waar dit nie goed verstaan en hanteer word nie en waar daar ’n gebrek aan bestuursvaardighede is,” sê Dennen.
Dr. Lynette Jacobs, navorser oor skolegeweld aan die Universiteit van die Vrystaat, sê: “Skole móét hulp kry en hulle móét ’n beleid teen afknouery hê.
“Dit gaan nie weggaan nie en ’n kitsplan wérk nie.”