Toe die kos min raak ...
2012-01-21 23:12
Dinsdag het mnr. Gerhard Lourens van Johannesburg Mpumalanga toe gery om hom daar by sy familie op die wildplaas Ingwelala aan te sluit.
Dit was rampspoedige tydsberekening.
Dieselfde dag het reën begin val wat hulle een van verskeie groepe mense sou maak wat deur oorstromings in die gebied vasgekeer is.
Toe hy die oggend ná sy aankoms opstaan, sê Lourens, was die brûe wat Ingwelala, sowat 60 km van Hoedspruit, met die buitewêreld verbind onder water en moes hulle begin wag op redding.
Die skade wat die afgelope week se oorstromings in die omgewing van Hoedspruit, Lydenburg en dele van die Krugerwildtuin veroorsaak het, het Vrydag duidelik sigbaar begin word toe die vloedwater uiteindelik gesak en verwoeste brûe en huise en motorwrakke wat in modder wegsink oral in die distrik sigbaar was.
Minstens een mens het gesterf en ’n onbekende groep mense wat met motor en al meegesleur is toe hulle van die Blyderivierbrug afgery het, word steeds vermis.
Lourens sê kort nadat hulle van die buitewêreld afgesny is, is die watertoevoer afgesny, die elektriese drade is weggespoel en die telefoonlyne het gebreek.
Selfs in die kamp se klein winkeltjie is die kos uitverkoop. “Ons moes reënwater gebruik om die toilette te spoel en koelemmers buite sit om reënwater op te vang wat ons gekook het om mee te was.”
Teen Vrydagoggend, toe hulle die laaste koekie eet, het hulle erg benoud geraak. “Dis dan dat jy besef dit is nie meer ’n vakansie nie.”
Danksy Lourens se vrou, René, wat in Johannesburg was en die Hoedspruit-lugmagbasis gebel het, het ’n Oryx-helikopter van die basis Vrydagmiddag opgedaag om die gesin na veiligheid te neem.
Kol. André Barends, bevelvoerder van die basis, sê meer as 230 mense is sedert Dinsdag deur 19 Eskader se vlieëniers gered.
Hulle het aanvanklik mense opgetel wat in lewensgevaar was (sommige is uit bome opgepik deur lugmaglede wat met kabels uit ’n helikopter laat sak is) en daarna het hulle mense soos die Lourense, wat betreklik veilig was, begin optel.
Teen die naweek was ’n soektog nog onderweg na ’n groep mense wat Donderdagaand in ’n grys motor van die Blyderivierbrug afgery het, hoewel reddingswerkers sê dit is onwaarskynlik dat die insittendes oorleef het in ag genome die sterk strome en die baie krokodille.
In die Krugerwildtuin, waar skade veral aangerig is toe die Sabierivier oor sy oewers gebars het, was die roetes na verskeie kleiner kampe soos Hamilton en Talamati teen die naweek nog gesluit.
Volgens dr. David Mabunda, uitvoerende hoof van SANParke, was dit veral infrastruktuur wat deurgeloop het. Die wildtuin se ekologie is daarenteen grotendeels ongeskonde en kan selfs deur die swaar reën bevoordeel word.
“Ons optrede teen renosterstropery gaan voort. Die bewaarders is op hul poste en danksy die nat grond is dit selfs makliker om stropers op te spoor.
“Honderde strome en riviertjies loop nou op ’n gewysigde koers, maar dit beteken baie sediment is weggewas en dat die wildtuin nuwe lewe kry. Dit is ook ’n stimulus vir die aanteel van waterdiere.”
Daar is volgens hom geen karkasse gevind van enige groot soogdiere wat versuip het nie.
“Die meeste diere het na hoër plekke beweeg nog voordat die swaarste reën begin het. Hulle is baie slim as dit by sulke dinge kom.”
Volgens mnr. Reynold Thakhuli, SANParke-woordvoerder, word die omvang van infrastruktuur-skade nog bereken, maar dit is minder as die verwoesting in die vorige groot oorstroming in 2005 in die wildtuin.
Volgens mnr. Jacques Benade, direkteur van die nasionale rampbestuursentrum se Mpumalanga-afdeling, word dit oorweeg om dele van die provinsie tot rampgebied te verklaar, maar ’n amptelike besluit is nog nie daaroor geneem nie.
Intussen berig Sapa meer as 5 000 gesinne moes reeds in Mosambiek hul huise verlaat en een man het in Suid-Afrika gesterf weens onophoudelike reën aan die kus van die Indiese Oseaan en in die verre ooste van die land.
Honderde huise, skole en klinieke in Mosambiek is beskadig, paaie is verwoes en in talle distrikte is boerdery feitlik uitgewis.
In Suid-Afrika is die eerste sterfte in die afgelope week se oorstromings bevestig nadat die dak van ’n huis in Tonga, naby die Mosambiekse grens, Donderdag ineengestort het.
Een van twee mans wat in die huis geslaap het, het gesterf.
Sy naam is onbekend, maar daar kon wel bevestig word dat hy ’n Zimbabwiër was, het ’n munisipale amptenaar gesê.
Die tweede man in die huis het erge rugbeserings opgedoen.