Toyota SA herroep motors
2012-10-11 10:35
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Toyota Suid-Afrika sal plaaslike motoreienaars wat geraak word deur die herroeping van sekere modelle wêreldwyd kontak as daar ’n probleem is met die skakelaar van hul voertuig se elektriese ruite.
Die Japanse maatskappy het gister volgens Reuters gesê daar is wêreldwyd probleme met sekere modelle se vensterskakelaars aan die bestuurderskant.
Dit sluit sommige Yaris- en Corolla-modelle in.
Leo Kok, woordvoerder van Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM), het gesê daar kon nog nie vasgestel word hoeveel motors in Suid-Afrika geraak word nie.
TSAM ontvang ’n lys voertuig-identifikasienommers uit Japan. Die eienaars van dié voertuie sal dan gekontak word.
Die skakelaar van die geraakte motors sal moeilik werk, of “in die ergste gevalle” begin rook, het Kok gesê. Volgens hom was daar nog nie enige geval van brand nie.
“Die fout kan gratis oor ’n koppie koffie reggemaak word,” het hy gesê.
Die probleem het te doen met die onvoldoende aanwending van smeermiddel aan die skakelaar.
Besorgde motoreienaars kan hul plaaslike geakkrediteerde handelaar kontak, wat dan navraag by TSAM sal doen, “of hulle kan gerus net wag dat Toyota hulle self kontak indien hul motor geraak word”, het Kok gesê.
Toyota het gesê hy sal 7,43miljoen voertuie wêreldwyd herroep. Dit is die grootste enkele herroeping van voertuie sedert dié van Ford in 1996.
Japan se grootste motorvervaardiger probeer juis nou vertroue terugwen ná ’n reeks herroepings tussen 2009 en verlede jaar, berig Reuters.
Die internasionale groep het nie gesê hoeveel die herroeping hom gaan kos en hoe dit sy verdienste kan raak nie. -- SAKE24