Trevor vir premier?
2013-02-23 23:24
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Trevor Manuel, beplanningsminister, word bearbei om hom beskikbaar te stel as die ANC se premierskandidaat in die Wes-Kaap in 2014 se algemene verkiesing in ’n poging om die provinsie by die DA af te rokkel.
’n Klein groepie, waaronder ’n senior lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), het onlangs informele gesprekke met hom gehad om hom te oorreed om die ANC se Wes-Kaapse veldtog aan te voor.
’n Bron wat verlede maand by die vergadering teenwoordig was, sê Manuel is nie gekant teen die idee nie, maar oorweeg ook ander moontlikhede.
“Sommige mense sê Trevor wil volgende jaar die sakewêreld betree of dat hy moontlik betrokke sal raak by ’n struktuur rakende die nasionale ontwikkelingsplan,” sê die bron.
Manuel het aan City Press, Rapport se susterkoerant, gesê die kwessie van sy kandidatuur as premier “is nog nie geopper nie, dus het ek geen mening nie”.
’n Bron het volgehou: “Al wat Trevor hoef te doen, is om ‘ja’ te sê. Die vraag is nie of hy die regte kandidaat is nie, maar wel of hy bereid is om die uitdaging te aanvaar.”
Cosatu het blykbaar vir Tony Ehrenreich – die ANC se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad tydens 2011 se munisipale verkiesing – genader om hom ook verkiesbaar te stel.
Ehrenreich het gesê dit is vir die ANC om te besluit en Cosatu gaan nie kommentaar lewer nie.
– Bykomende verslaggewing deur Sabelo Ndlangisa