Trojaanse perd bedreig Zille
2012-08-13 11:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ontevrede lede van die DA maak hulle gereed om Helen Zille oor drie jaar uit die kussings te lig.
Maar vir eers is sy nog veilig, sê hulle, want hulle het die “Zille-handelsnaam” vir die algemene verkiesing in 2014 nodig.
Intussen
gaan hulle by die DA se kongres in November twee van hul “eie” benoem
om teenoor twee van Zille se regterhande – James Selfe, voorsitter van
die federale bestuur, en Wilmot James, nasionale voorsitter – op te
staan.
Die ontevredenes hoop dat diegene in Zille se binnekring
wat hulle goedgesind is die kanse sal verswak dat sy by die DA-kongres
in 2015 eenvoudig haar opvolger sal “salf”.
By dié kongres sal hulle Zille die stryd aansê.
Wie hulle as haar opvolger wil hê, is onbekend.
Zille
het al laat blyk dat sy die tuig wil neerlê. Sy het tot onlangs toe nog
’n paar vooraanstaande mense genader, onder wie die akademikus en
aktivis dr. Mamphela Ramphele.
Maar sonder sukses.
’n
Ontevredene wat liefs anoniem wil bly omdat die plan nog in ’n vroeë
stadium is, sê Athol Trollip, DA-LP, is genader om Selfe teen te staan.
Trollip het verlede jaar die trekpas gekry toe die parlementêre koukus Lindiwe Mazibuko as parlementêre leier verkies het.
Nog
’n DA-LP, Masizole Mnqasela, sal James die stryd aansê. Mnqasela moes
Zille onlangs om verskoning vra ná ’n onderonsie tydens verlede jaar se
koukusverkiesingsveldtog.
Drie openbare DA-verteenwoordigers sê
hulle is ontevrede met James, wat ook koukus-voorsitter is, want al is
hy ’n goeie akademikus, is hy nie ’n buitengewone politikus nie.
“Ons
moet sorg dat wanneer ons oor transformasie en diversiteit in die party
praat, dit nie net gaan oor velkleur of om na die pype te dans van
diegene in die paleise van mag nie,” sê een.
Trollip het bevestig hy is genader, “maar ek het nog nie besluit nie”.
Mnqasela het gesê: “As ek benoem word, sal ek dit aanvaar, maar die proses het nog nie begin nie.”
Die teenstand teen Zille kom te midde van ontevredenheid oor hoe besluite in die party geneem word.
’n
DA-LP sê sommige in die parlementêre koukus was so ongelukkig dat die
DA se plan vir werkskepping en ekonomiese groei, wat deur James gedryf
is, nie voor die bekendstelling aan hulle voorgelê is nie dat hulle die
bekendstelling verlede maand in Pretoria geboikot het.
’n Ander
een sê partyleiers het dié beleid, wat as ’n vroeë verkiesingsveldtog
bestempel word, bekend gemaak sodat hulle in November herverkies moet
word om kontinuïteit in die veldtog te verseker.
Selfe sê die
komitee wat die komende kongres moet reël, vergader vandeesweek om die
planne op te stel wat in September aan die federale uitvoerende komitee
voorgelê gaan word.
Die party het nog nie besluit wanneer die benoemings sal begin nie.