Twiet met k-woord eggo om wêreld
2012-05-05 23:46
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Kaapse model Jessica Leandra dos Santos gaan professionele hulp kry om haar te help om in die toekoms voorvalle van seksuele teistering te hanteer.
Die 20-jarige skoonheid is sedert Vrydag in die spervuur oor haar gebruik van die k-woord op Twitter toe sy haar vir ’n man in die Spar in Germiston vererg het.
Sy hou voet by stuk dis glad nie in haar aard om rassistiese taal te gebruik nie.
Dos Santos het gister gesê sy het die afgelope 24 uur baie oor haar dade besin.
“Ek het nie die woorde om my opregte verskoning vir my emosionele uitbarsting op Twitter uit te druk nie.
“Die mense wat my ken, wéét dit is nie in my natuur om sulke woorde te gebruik nie.”
Sy sê sy is nog baie jonk, en as sy kan leer om sulke voorvalle beter te hanteer, kan vroue oor die algemeen baat vind by haar ondervinding.
Dos Santos is egter haar FHM-titel as 2011 se Model van die Jaar én borgskappe kwyt nadat sy Vrydag getwiet het:
“Just, well took on an arrogant and disrespectful k****r inside Spar. Should have punched him, should have.”
Haar Twitter-opmerking het tot in die buiteland opslae gemaak met Britse en Amerikaanse koerante wat daaroor berig het.
Dos Santos het minute later die twiet verwyder, maar dit is toe reeds deur baie van haar meer as 4?000 aanhangers aangestuur.
Sy het toe om verskoning gevra en gesê sy het “onverantwoordelik getwiet” en ’n “skerp en onwelvoeglike” woord gebruik oor ’n man wat haar “met seksuele aanmerkings en geluide gekonfronteer” het.
Die Britse koerant Daily Mail het geen doekies omgedraai met sy opskrif nie: “Jessica Leandra used word ‘k****r’ (uitgeskryf) – a derogatory term for a black person.”
In Amerika het die Global Post ook gefokus op die feit dat sy ’n “afstootlike rassistiese term wat na ’n swart persoon verwys”, gebruik het.
Volgens die oorsese koerante het die twiet dadelik reaksie ontlok “in ’n land waar verhoudings tussen verskillende rasse steeds ’n sleutelrol speel – 18 jaar ná die einde van apartheid”.
Brendan Cooper, redakteur van FHM in Suid-Afrika, het gister aan Rapport gesê Dos Santos het anderhalf jaar gelede in die tydskrif verskyn.
“Ons het ons baie vinnig van haar gedistansieer deur haar van haar titel te stroop en al haar foto’s van ons webtuiste te verwyder.”
Cooper sê hulle het haar ook gebel en gesê dat hulle niks in die toekoms met haar te doen wil hê nie weens haar blatante rassisme.
Hy sê niemand neem die titel by haar oor nie omdat die 2012-wenner, Ellen Mahlangu, reeds in Februarie vanjaar aangewys is.
QuickTrim SA, ’n verslankingsproduk wat deur Kim Kardashian ondersteun word, het hul kontrak met Dos Santos onmiddellik beëindig.