Twis oor Afrikaans v. Xhosa gaan aan
2012-05-05 23:47
Sabelo Skiti en Carien Kruger
’n Taakspan van die Oos-Kaapse onderwysdepartement ondersoek ’n taaltwis, asook die geldigheid van die beheerliggaamverkiesing by die Gonubie Primary School in Oos-Londen.
Rapport het verlede week berig hoe die skool se keuse van Afrikaans bo Xhosa as eerste addisionele taalvak ouers by die skool op ’n rassegrondslag verdeel het.
Kragtens die kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklarings (Caps) wat vanjaar in werking getree het, moet leerlinge in gr. 1 met ’n eerste addisionele taal begin en dit slaag om tot ’n volgende graad te vorder.
Ayanda Duma, ’n ouer van ’n leerling aan die skool, dagvaar die skool in die gelykheidshof oor sy keuse van Afrikaans omdat ouers volgens haar nie geraadpleeg is nie.
Duma en ander swart ouers het ook by die onderwysdepartement gekla oor die beheerliggaamverkiesing wat volgens haar gehou is selfs nadat ooreengekom is dat dit uitgestel sou word.
Loyiso Pulumani, onderwyswoordvoerder, sê die taakspan het die afgelope week met ongelukkige ouers en verkiesingsbeamptes vergader en vergewis hulself van die feite.
Naledi Mbude, die departement se bestuurder vir die inwerkingstelling van taalbeleid, sien geen rede waarom die skool nie sowel Afrikaans as Xhosa as eerste addisionele taal kan aanbied nie, soos deur alle ouers ooreengekom is.
Volgens haar is daar reeds twee Xhosa-onderwysers by die skool wat dit as ’n derde taal aanbied.
“Ons hoef net ’n vaardigheidsoudit van die onderwysers te doen.”
Die skool se beheerliggaam, wat tot die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) behoort, wou nie kommentaar lewer nie, onder meer weens die hangende gelykheidshofsaak.
Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, het wel oor die algemeen oor veranderings aan die eerste addisionele taalvak kommentaar gelewer. Volgens hom moet daar minstens 40 leerlinge in ’n laerskoolgraad of 35 in ’n hoërskoolgraad wees wat ’n ander taal as eerste addisionele taalvak wil neem.
Colditz sê dit is onmoontlik om op laerskoolvlak ’n tweede addisionele taalvak by te voeg omdat daar nie genoeg tyd in die rooster is nie.
Caps het juis die getal laerskoolvakke verminder om kinders nie te oorlaai nie. Sou ’n skool leerlinge ’n keuse van eerste addisionele tale wou bied, beteken dit dikwels dat ’n bykomende onderwyser aangestel moet word, waarvoor die ouers moet betaal.
Colditz sê sulke onderwysers met die regte opleiding en vaardighede is nie geredelik beskikbaar nie. Fedsas staan veeltaligheid voor en sou wou sien dat leerlinge benewens ’n eerste addisionele taal nog ’n taal op kommunikasievlak aanleer.
Beheerliggame is volgens Colditz lugtig om ’n bykomende taal aan te bied omdat die Skolewet sedert verlede jaar bepaal dat taalvakke op dieselfde peil aangebied moet word.