‘Tyd op die verhoog is my terapie’ - Amor
2012-07-28 23:57
Christine van der Westhuizen
Vier aande ’n week sing en dans Amor Vittone opgetof in asemrowende kabaret-uitrustings.
Dis die ene glans, blinkertjies, vere en stiletto’s.
Maar wanneer sy haar twee kinders, Jordan (8) en Kylie (6), skool toe neem, is sy dikwels nog in haar pajamas met haar hare in ’n poniestert.
“Dan wil Jordan nie hê ek moet uitklim nie,” sê sy en lag. “Daar is ma’s wat uitgevat is, dan wonder ek hoe doen hulle dit?”
Vittone verskyn nog tot einde September by Emperors Palace aan die Oos-Rand in haar kabaretvertoning Amorisqué.
Dit word beskryf as “van burlesk tot Moulin Rouge, rock tot rose en Chicago tot Benoni”.
“Ek is 40 en ek het my eie vertoning! Ek het met die openingsaand skoon ’n rilling gekry toe ek dit besef. Drome kan waar word.
“Dis ’n lekker vertoning,” sê die vervreemde vrou van die voormalige Bokheld Joost van der Westhuizen.
“Ek hou van die spontaneïteit, want dit is hoe ek is. Dis lekker om in die gehoor in te gaan en te sê: ‘Haai, hoe gaan dit?’?”
Ná 25 jaar in die bedryf (sy was 15 toe sy deel was van die Body Beat-dansprogram) raak sy steeds senuagtig.
“Vir ’n uur en half voor die tyd fokus ek net op die vertoning.”
Dan word sy Amor die vermaaklikheidster, haar naam in blink liggies uitgeskryf. Dan vergeet sy van enkelouer wees, aan almal se verwagtinge voldoen, haar persoonlike dramas wat in die media uitgeblaker word.
“Deur alles het ek nog nooit ’n sielkundige gesien nie. Die tyd op die verhoog is my terapie.
“Ek is só grootgemaak: Jy moet jou beste gee, anders gaan jy jouself nooit vergewe nie. Ek het nog nooit gedink ek kan iets nie doen nie.”
Wanneer Vittone van Woensdag tot Saterdag saans optree, neem oupa Dario en ouma Delyse oor. “Hulle trek letterlik by my in,” sê sy.
“As ek weet alles is reg met my kinders, hulle is oukei, kan die show begin, kan ek afskakel.”
Sy het vóór Amorisqué al begin werk aan ’n (nog ongetitelde) album wat later vanjaar bekend gestel word. Dit is haar eerste een in vier jaar.
Daar is die vertoning en die album, en dan?
“Dalk klere ontwerp, of juwele. Ek wil graag vir my kinders iets agterlaat. ’n Onderneming begin wat hulle kan oorneem. Ek sal ook graag meer televisiewerk wil doen.”
Haar kinders wil graag hê sy moet nog ’n baba kry. “Maar dan is hulle gou om vir my te sê mamma moet eers ’n man kry!
“Mense dink ouens bel my heeltyd, maar dis nie so nie. Ek dink mans is bang, bang vir my sterk persoonlikheid, die bedryf, die media, die publisiteit.
“Maar diep binne my weet ek dit sal gebeur wanneer dit moet gebeur.”