Van ontkenning na ywer
2012-01-28 23:14
Johannes de Villiers in Pretoria
In 2005 het die organisasie Right to Care se MIV/vigskliniek in Alexandra, Johannesburg, ’n sukkelbestaan gevoer. Al het derduisende mense in die township met die virus geleef, het die kliniek net sowat 400 mense behandel. Dit was die era van pres. Thabo Mbeki se vigsontkenning. Finansiering was skaars en gemoedere swaar.
Vandag behandel dié kliniek tot 8 000 mense. As jy op ’n weekdag inloer, kan jy skaars beweeg soos mense vir behandeling saamdrom.
Die afgelope sewe jaar het iets met MIV/vigsbehandeling in Suid-Afrika drasties verander, sê mense soos mnr. Kurt Firnhaber, operasionele hoof van Right to Care (wat MIV/vigsbehandeling aan sowat 135?000 Suid-Afrikaners verskaf).
Die regering se aanslag het van ontkenning na ywer omgeswaai. Suksesse het mense gewilliger gemaak om behandel te word.
En sedert 2004 het die VSA deur die Pepfar-projek (President’s Emergency Plan for Aids Relief) R25 miljard aan MIV/vigsbestryding in Suid-Afrika bestee.
Right to Care word volledig deur Pepfar gefinansier. “Vyf jaar gelede het MIV/vigssorg in Suid-Afrikaanse klinieke net voortgestrompel. Vandag stel MIV/vigsbehandeling die peil vir ander vorme van gesondheidsorg,” sê Firnhaber.
Die VSA het Pepfar in 2003 van stapel gestuur en verskaf daardeur sowat ’n derde van alle geld vir MIV/vigssorg in Suid-Afrika.
Dit is die grootste stuk welsynbesteding nog deur een skenker aan een pandemie.
Pepfar het 800 000 besnydenisse wêreldwyd gefinansier, meer as 114 000 gevalle van moeder-na-kind-oordrag help keer en gesorg dat daar sedert 2008 wêreldwyd ’n toename van 84% in die getal mense op MIV/vigsbehandeling was.
Daar was ’n tyd dat die regerings van Suid-Afrika en die VSA openlik vasgesit het oor Suid-Afrika se vigsbeleid, vertel mnr. Donald Gips, Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika. Maar deesdae is daar uitstekende samewerking tussen die twee regerings.
“Die doel is om kapasiteit in Suid-Afrika te versterk sodat die land nie net op sy eie sal regkom nie, maar ook ander lande in die streek in die stryd kan ondersteun,” sê dr. Mary Fanning, Pepfar se koördineerder in Suid-Afrika.
Dr. Thurma Goldman, direkteur van die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer in Suid-Afrika, vertel: “Toe ons Pepfar hier begin het, moes ons mense uitstuur om projekte te begin. Nou is alles daar en kan ons mense uitstuur om die bestaande kapasiteit te versterk.”
Die besteding sterk die stryd op onverwagte maniere:
Gesondheidswerkers sê soos meer mense danksy medisyne gesond leef, word ander gemotiveer om ook behandel te word.
Inisiatiewe om verpleegsters ’n groter rol in die behandelingsproses te gee, maak dit moontlik dat meer mense behandeling kan kry.
En verder wys toetse diegene wat vigsmedisyne gebruik, verminder hul kans om die siekte aan hul lewensmaats oor te dra met tot 97%, met die gevolg dat MIV/vigsbehandeling verdere infeksies voorkom.
Die enigste bekommernis is dat die VSA weens sy finansiële probleme dié geld kan begin inkort.
Gips ontken dat Pepfar sy geld enigsins besnoei, maar MIV/vigswerkers soos Firnhaber sê hulle sien tog die geldkrane word effens toegedraai. Veral in arm lande kan dit rampspoedige gevolge hê.
Maar intussen is daar heelwat rede vir hoop, vertel Firnhaber.
In Nelspruit het hulle ’n paar jaar gelede ’n kliniek geopen wat eintlik maar ’n hospies was. Mense het dit genoem “Die plek waar mense gaan om te sterf”.
Maar deesdae is die beddens daar leeg. “Nou gaan mense soontoe om aan te hou lewe.”