‘Vavi gaan die leier bly’
2012-09-16 00:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Lizel Steenkamp in Kaapstad
Daar is g’n kans dat vakbondlede Zwelinzima?Vavi?gaan?pos nie.
Ingeligtes voorspel Vavi, een van die Zuma-administrasie se felste kritici, sal die komende week as hoofsekretaris van Cosatu herkies word. Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse leier van Cosatu, sê selfs die verkiesing sal onbestrede wees.
“Sommige vakbondleiers wil van hom ontslae raak voor Mangaung (die ANC-leierstryd), maar hul lede gaan nie daarvoor val nie. Vavi is baie gewild, hy gaan dit maak en dit sal onbestrede wees.”
Vavi was meer beskeie toe Rapport hom daaroor gevra het.
“Ek gaan nie voorspellings waag nie. Ek het hard gewerk om Cosatu vorentoe te vat, maar dis vir die lede om te besluit.”
Cosatu se nasionale kongres wat môre in Midrand begin word as ’n kleedrepetisie vir die ANC-verkiesing in Mangaung beskou. Die topleiers van dié ANC-alliansievennoot word betrek by die politieke magstryd tussen pres. Jacob Zuma en diegene wat hom in Desember wil vervang.
Sommige meen dit kan ’n terugslag vir Zuma wees as Vavi sy leiersposisie behou omdat Vavi blykbaar nie meer ten gunste is van ’n tweede termyn vir Zuma as ANC-leier nie.
S’dumo Dlamini, Cosatu-president, word as ’n Zuma-bondgenoot beskou.
Internasionale belangstelling in hoe dinge die volgende vier dae in Midrand gaan uitdraai, loop hoog. Tot 255 joernaliste, waaronder bykans 40 van buitelandse media soos die BBC en Franse koerante en radiostasies, sal regstreeks vanaf Gallagher Estate berig.
Luidens die voorlopige agenda sal Zuma môre die hoofrede lewer en dr. Blade Nzimande, SAKP-leier, gaan ná hom praat. ’n Ingeligte het aan Rapport gesê groepe binne Cosatu wat Zuma goedgesind is, sal dié spreekbeurte benut om openlik hul steun te wys en Vavi by te kom.
“Maar Vavi sal herkies word. Hy is die sigbaarste (leier).”
Vavi het erken Cosatu staan voor ’n groot uitdaging ná verlede maand se Marikana-mynslagting. Volgens hom sal daar môre reguit gepraat word oor die vervreemding tussen vakbondlede en vakbondleiers. “Marikana is die topprioriteit vir dag een.”
Ehrenreich waarsku Cosatu kan hom nie by die ANC se magstryd laat betrek nie en sal moet fokus op dít wat vir vakbondlede belangrik is.
“Marikana was ’n wekroep vir ons almal,” sê hy.
Buiten die onrus in die mynbedryf, sal brood-en-botter-kwessies soos salarisse en werkverliese, splintervakbonde, arbeidsmakelaars en ekonomiese beleid die botoon voer. Ideologiese vyande soos “wit kapitaal”, neo-liberalisme en die vryemarkekonomie sal opnuut gebrandmerk word as die oorsake vir ongelykheid en armoede.
Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, verwag Cosatu sal eindelik “nie veel verantwoordelikheid aanvaar” vir die land se probleme nie en bloot van die staat en maatskappye verwag om met oplossings vorendag te kom.
“Ek dink hulle sal hulle sterk uitspreek teen korrupsie en swak dienslewering en te velde trek teen (Julius) Malema.”