Vermoor 'om hom stil te hou'
2012-12-16 02:27
Net ’n maand nadat sy lewensmaat op hul plaas buite Philippi vermoor is, is Arnold Schultz (68) verlede Saterdag op dieselfde plaas vermoor.
Sy dogter glo iemand wou hom stilmaak.
Die polisie het Schultz se lyk in ’n “hokkie” agter sy huis gevind nadat sy dogter, Suzette Sithole (39), hom vroeër die dag as vermis aangemeld het.
“Ek het geweet iets is verkeerd toe hy nie sy selfoon antwoord nie,” sê Sithole.
“Ons het vandag (Donderdag) sy lyk gaan uitken. “Dis die aakligste ding wat ek nog ooit moes deurmaak.”
Volgens kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, is Schultz met ’n skerp voorwerp gesteek.
Schultz se lewensmaat, Hester Koch (62), is na bewering vermoor deur ’n egpaar wat sy geken het.
Sy is verkrag en verwurg en Schultz was die enigste ooggetuie.
“My pa was vreesbevange dat die mense wat haar vermoor het, sou terugkom vir hom.”
Jade White (24), Koch se kleindogter, het vroeër gesê haar ouma het drie maande voor sy vermoor is ’n vrou by ’n verkeerslig sien bedel.
“Sy was swanger en my ouma het haar jammer gekry. Ouma het haar saamgenooi huis toe en vir haar ’n heenkome gegee op die plaas waar sy en my oupa gewoon het.”
Skaars twee weke later het die vrou se man opgedaag en sommer ook ingetrek.
“My ouma het dit so aanvaar. Die man het in die tuin begin werk en my ouma het hulle soos familie behandel.”
Kort voor lank het die paartjie glo begin tik gebruik en steel.
’n Week voor die moord het Koch hulle gevra om te loop.
Hulle is toe weg, maar het na bewering teruggekeer met nog twee mans en haar vermoor.
Ná die moord is ’n vuurwapen glo teen Schultz se kop gedruk.
“My pa het net gebid. Die aanvaller het die sneller getrek, maar die vuurwapen het nie afgegaan nie,” sê Sithole.
Drie mans en ’n vrou is in hegtenis geneem en Schultz het hul hofverskyning bygewoon.
“In die hof het die verdagtes vir hom soentjies geblaas. My pa was verskriklik bang dat hulle borgtog sou kry.”
Die vier het nie borgtog gekry nie, maar van hulle het glo bande met bendes op die Kaapse Vlakte.
Sithole sê Schultz het ’n week lank by haar gewoon ná die moord op Koch.
“Ek was daarna elke dag by hom, behalwe laas Vrydag. Saterdag is hy dood.”
Sithole voel die polisie kon meer gedoen het om haar pa te beskerm.
“Ek weet nie hoekom hy nie in ’n getuiebeskermingsprogram was nie. Dalk moes ons as familie daarop aangedring het.”
Die polisie wou nie Rapport se vrae beantwoord oor hoekom Schultz nie onder polisiebeskerming geplaas is nie.
Niemand is nog in verband met sy moord gearresteer nie.