Volledigste mens-voorsaat gevind in SA
2012-07-13 10:39
KAAPSTAD. – Die oplettendheid van ’n student wat ’n tand in ’n rotsblok vol wildsbok-fossiele raakgesien het, het daartoe gelei dat Suid-Afrika nou die mees volledige voorbeeld van ’n vroeë menslike voorsaat het.
Justin Mukanku het onlangs ’n rotsblok van sowat 1 m in deursnee in ’n laboratorium van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) van nader bekyk.
Dié rots vol wildsbok-fossiele is op die Malapa-terrein in die Wieg van die Mensdom gevind, in die grot waar die Australopithecus sediba-hominiede (voorsate van die mens) gekry is.
Mukanku het die tand aan die hoof van die projek, prof. Lee Berger van die Instituut van Menslike Evolusie aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), gewys. Berger se vrou, dr. Jackie Smilg, is ’n radioloog en het die rots geskandeer.
“Binne-in het ons dele van ’n kaak, ’n volledige femur (dybeen), ribbe en rugwerwels gekry. Dit behoort aan die eerste fossiel wat ons gekry het, dié van die 13-jarige seun.
“Dié nuwe vonds maak hom die mees volledige vroeë menslike voorsaat wat tot nog toe gekry is,” het Berger, wat tans in China is, gesê.
Hy het dié aankondiging gister in China gedoen, waar hy volledige afgietsels van die seun en die vrou wat tot dusver beskryf is, aan die Shanghai-museum vir wetenskap en tegnologie oorhandig het.
REGSTREEKSE WETENSKAP
Wits, asook die Gautengse en nasionale regering, het gister ook aangekondig hulle gaan vir die eerste keer in die geskiedenis wys hoe fossiele in werklike tyd voorberei word deur middel van ’n videoskakel wat enige lid van die publiek of wetenskaplike reg oor die wêreld sal kan sien.
Dié laboratorium-ateljee word by die Maropeng-besoekersentrum in die Wieg van die Mensdom gebou en is ontwerp met die hulp van die National Geographic Society.
Mense sal óf daar kan gaan kyk presies hoe kundiges fossiele uit ’n rotsblok haal óf op die internet daarna kan kyk. Dié laboratorium sal ook met kameras met dié by Wits en die Malapa-terrein geskakel word.
“Dit sal mense ongekende toegang gee tot wetenskap en tot die ontdekking van dit wat nuut is,” het Berger gesê.
Virtuele buiteposte sal by groot museums reg oor die wêreld geskep word, waar die videoskakels te sien sal wees.
Die ateljees sal binne ’n jaar klaar wees.
- Die Burger