Vraagteken hang nog oor groen VVV
2012-09-09 01:07
Johannes de Villiers in Johannesburg
Daar is vreemde vlieënde voorwerpe (VVV’s) en dan is daar vreemde vlieënde foefies.
Die tweede soort het Johannesburgers die laaste paar dae op hol gehad.
Eers was dit helder groen ligte wat verlede week bokant die township Alexandra in die noorde van die stad opgemerk is en daarna ’n helder sigbare vlieënde piering wat Maandagaand bokant die rykmansbuurt Bryanston en die aangrensende Fourways opgemerk is.
Foto’s van die groen ligte bokant Alexandra is deur die dagblad The Citizen gepubliseer en het tot geesdriftige bespiegelings onder lesers gelei dat dit laserstrale van ’n nagklub, Chinese lanterns of selfs iets meer wêreldvreemd kon wees.
Nadat die tuig bokant Bryanston/Fourways afgeneem is, was Cristo Louw, voorsitter van die Suid-Afrikaanse VVV-hulpbronorganisasie, op sowel 5FM as Talk Radio 702 om oor die aard van die tuig te bespiegel.
Een van die mense wat dié piering afgeneem het, was Mike Turner, baskitaarspeler van die groep Granny Smith.
Turner het op Twitter opgemerk dat hy gesien het hoe dié tuig ’n paar oomblikke in die lug hang voordat dit weer koers gekies het.
Maar teen die einde van die week het die Cartoon Network laat weet die VVV bokant Bryanston/Fourways was ’n ballon wat hulle daar laat hang het as publisteitsfoefie vir die TV-reeks Ben 10 Omniverse wat van 6 Oktober uitgesaai word.
By navraag het die skakelmaatskappy wat dié foefie gereël het laat blyk hoewel hulle die piering kan verklaar, het hulle niks te doen gehad met die groen ligte bokant Alexandra nie.
Só minstens een vlieënde verskynsel bokant Johannesburg bly nog onverklaar.