Vrou praat ná aanval met byl
2013-02-23 23:24
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dorothea Brits (59), die predikantsvrou van Harrismith wat 40 dae gelede met ’n byl aangeval is, het vir die eerste keer oor haar oorlewingstryd gepraat.
Brits het ernstige breinbeserings opgedoen in ’n aanval waarin haar man, ds. Willem Brits (60), en haar aanstaande skoonseun, Gerhard Vermeulen (25), doodgekap en -geskiet is.
Sy was drie maande lank in die hospitaal en ’n rehabilitasiesentrum in Bloemfontein. Sy het nie breinskade oorgehou nie, maar is feitlik blind.
Ds. Bobby Scherrer, emeritus-predikant van die NG kerk Kerkenberg en woordvoerder van die familie, sê lidmate was aangegryp toe Dorothea hulle verlede Sondag toegespreek het.
Haar man was 33 jaar lank daar predikant.
“Sy het getuig watse absolute wonderwerk van die Here haar oorlewing is, en hoe Hy haar in dié moeilike tyd ondersteun het om met die vrae te worstel oor hoekom dit gebeur het.”
Haar aangenome seun Martin Brits (28) en Elliot Mhlambi (42) is weens die aanval en moorde in hegtenis geneem en verskyn op 4 Maart weer in die hof.