Vrou vat kind en vlug van Mandela
2012-08-20 05:57
Anaïs Mandela, vervreemde vrou van Mandla Mandela, kleinseun van oudpres. Nelson Mandela, kruip met haar seuntjie Qheya op die eiland Réunion weg “vir my veiligheid en die veiligheid van my seun”.
’n Lelike geveg het tussen die Mandela-egpaar, wat in 2010 getroud is, losgebars nadat Mandla dié Franse vrou van hom daarvan beskuldig het dat sy hom met een van sy broers verneuk het.
Qheya is verlede jaar gebore en is as die seun van Anaïs en Mandla beskou. Madiba het self dié agterkleinseun sy naam gegee.
Maar Anaïs het met kind en al teruggevlug na die eiland waar sy gebore is, terwyl Mandla die afgelope week ’n verklaring uitgereik het om te sê die baba se eintlike pa is een van sy broers, met wie Anaïs hom verneuk het.
Die woonstel waarin sy nou met haar baba wegkruip, is haar ma s’n en in ’n middelklas- woonbuurt van die dorp Le Tampon geleë – ’n wêreld verwyder van die spogplek Mvezo wat sy met haar man en sy ander vrou gedeel het.
Sy het gister gesê sy gaan beslis nie terugkeer Suid-Afrika toe nie.
“Mandla Mandela is ’n slegte mens,” het sy telefonies gesê.
“Ek wil niks met hom te doen hê nie. Vir my veiligheid en die veiligheid van my seun.”
Veel meer wou sy nie uitlap nie, want “die Mandela-familie is baie magtig. As ek iets sê, sal hy (Mandla) dit net weerspreek?.?.?. Dis verby. Ek wil nie daaroor praat nie. Dit sal ’n normale egskeiding wees.”
Ondanks haar onwilligheid om oor haar verhouding met haar vervreemde man te praat, het sy wel volgehou dat Mandla haar kind se pa is. Haar man se aantygings dat haar kind by haar swaer verwek het, is volgens haar “snert”.
“Ek het die verklaring gesien wat hy uitgereik het. Die verklaring lui dat die baba sy broer s’n is. En watse snert ook al. Hy stel sy gesin se lewe in gevaar.”
Op die reguit vraag oor of Mandla die baba Qheya se pa is, het sy effens gehuiwer en toe gesê: “Ja. Natuurlik is hy sy seun.”
Sy ontken ook dat die Mandelas haar na haar ma se huis teruggestuur het en hou vol sy het self geloop.
“Baie van die goed wat hy gesê het, is onwaar. Niemand het geweet ek is weg nie. Dis nie asof hy enigiets met die familie bespreek het nie. Dis loutere snert.”
Op die vraag of sy na Mvezo wil terugkeer, het Anaïs woedend gereageer: “Vir wat? Mandla is ’n ingewikkelde mens. Hy vertoon verskillende persoonlikhede.
“Ek kan jou nie vertel waarom ek weg is nie, want dit sou die bom wees. Dis die beste deel van die storie. Want dan moet ek jou vertel van die poligamie en alles. Ek moet dit eers met my prokureur bespreek.”