Vrystaat-wenner: Clarens

2012-07-07 13:52

Clarens is die soort dorp waar jy op ’n Vrydagmiddag stilhou vir koeldrank op pad na jou bestemming – en teen die Sondag drentel jy steeds deur die strate met ’n rugsak vol geskenke vir almal by die huis terwyl jy al ’n paar van die inwoners op hul voorname ken.

En die mense wat hier woon is oortuig hul dorp is ’n waardige wenner van die titel as streekwenner vir die Vrystaat in Rapport en Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie.

Koos Rosslee, uitvoerende hoof van Clarens Golf Estate, sê die dorp is “’n klein paradys” wat so sentraal geleë is dat dit maklik bereikbaar vir omtrent enigiemand is.

“Alles is hier ordentlik... ons het ’n ordentlike winter, ’n ordentlike somer, ordentlike mense...”

Om van die ordentlike gholfbaan nie eens te praat nie.

“Die baan is ontwerp deur Sean Quinn. Dis die land se hoogste gholfbaan bo seevlak: 1 870m.

“Die dorp is baie buiteluggedrewe en gholf is uiters gewild,” sê Rosslee.

Ollie Esplin van Clarens Ex­treme is die man wat sorg dat adrenalienverslaafdes nie teleurgestel word nie.

Hy het twee zip-lines van 150 m elk en dan bied hy ook alles van rotsklim en vierwielmotorfietse tot pyl-en-boog en vlieghengel aan.

“Ek kyk elke dag na die natuurskoon om my en dan dink ek hoe bevoorreg ek is om dit as my ‘kantoor’ te hê. As mense eers een keer in Clarens was, kom hulle altyd terug.”

Vir Michael Scheepers van die Brambleberry-restaurant is die feit dat Clarens omtrent misdaadvry is, ’n groot pluspunt.

“Hier is huise wat nie voordeursleutels het nie. En jy sal dikwels motors in die straat geparkeer sien staan met die sleutel binne-in.”

Die rye en rye winkeltjies bied so ’n groot verskeidenheid dat selfs die manlike geslag, wat soms maar traag is om saam met vroulief inkopies te doen, beslis iets interessants sal vind.

“Hier is nie jou alledaagse kettingwinkels wat jy in elke dorp kry nie. Ons probeer juis die winkels uniek hou,” sê Scheepers.

Een so ’n winkel is Bossie Knives. Fritz Boshoff se stokperdjie het sy werk geword toe hy agt jaar gelede heeltyds begin messe maak het.

“Ek het seker al maklik 3 500 messe in my lewe gemaak,” sê hy. “Ek gebruik ingevoerde staal vir my lemme en dan maak ek wat mense spesifiek wil hê of hulle kan kies uit die ontwerpe wat ek deur die jare getoets het.”

Hy het klante van so ver as Duitsland en Spanje.

“Dit gebeur baie dat mense hier instap en spyt is hulle het nie daardie stomp kombuismes saamgebring nie, want ek maak dit sommer gou hier skerp.”

Ná ’n suksesvolle inkopietog wag Clarens Brewery vir die seer voete (en droë keel).

Die assistent-bestuurder, Sonja van der Walt, sê hulle brou hul eie bier en bied ’n keuse van vyf soorte bier en drie siders. Tydens ’n gratis proesessie kry besoekers ’n glasie van elk van die biere.

As die vliegtuig nog nie oor die brouery is nie, is daar altyd Highland Coffee. Chris Pefanus rooster self sy koffiebone wat hy van Afrika, Sentraal-Amerika en Suid-Amerika invoer.

“Mense kan hier kom koffie drink of hulle kan die bone of gemaalde koffie koop.”

Pefanus glo mense mag nooit hul vriende slegte koffie laat drink nie. So ook nie besoekers aan Clarens nie.

Die inwoners vat graag hande met die Golden Gate Highlands- Nasionale Park net buite die dorp. Die toerismebestuurder van die park, Victor Mokoena, sê die twee entiteite is so te sê getroud.

“Die park is so ’n groot deel van die dorp dat dit lekker is om te sien hoe almal saamwerk. Elke dorp het iets spesiaals, en in Clarens is dit sy skoonheid.”

Die park self spog met die Basotho- kulturele nedersetting wat spesiaal vir besoekers gebou is om te wys hoe die Sotho-mense eeue gelede geleef het.

Een van die trotse inwoners van Clarens, Tammy Hancock, is oortuig besoekers moet net een keer hier stilhou om te sien hoe die inwoners vandag leef en dan sal hulle altyd weer terugkom.




* David Groenewald en sy familie van Clarens Dinosaur Tours (083 469 4703) sal jou alles van die fossiele in die omgewing kan vertel. In Golden Gate is die bekendste dinosourus-fossiel, die Ma­ssospondylus, wat 195 miljoen jaar oud is.

* Christo Roos van Bokpoort Holiday Farm (083 628 5055) is die omgewing se eie cowboy en perdry is die hoof-aanloklikheid op sy plaas. Sy 26 perde sluit ook ’n paar Basotho-ponies in en besoekers kan safari’s van tot drie dae lank onderneem.

* Onder die vele winkeltjies is: MooiNooi (058 256 1199), waar Zelda Boshoff handsakke en kostuumjuwele verkoop; ­Astle Mortong se The Cherry Company (082 783 2731), waar alles van kersies gemaak is, soos kersieseep, kersiesjokolade en kersielikeur; The Blanket Shop (058 256 1313) met sy Basotho-komberse en wat bestaan “vandat mense in TV se beginjare Clarens gesien het”, vertel Gertie de Jager; Clarens Rock (058 256 1931) wat klippe van oor die wêreld heen verkoop; en die delikatesse-winkel Bon Appetit (072 017 7318).

* Die Clarens Wellness Day Spa (082 887 1503) bederf jou van kop tot tone.

* Clarens se 23 kunsgalerye is ’n kunsliefhebber se droom. Loer in by die Helen Claassen-galery (058 256 1494), Art & Wine (058 256 1298) vir kuns en ’n groot verskeidenheid boetiek-wyne, die Johan Smith-kunsgalery (058 256 1665) en Blou Donki (058 256 1757).

* As die hongerpyne knaag, maak ’n draai by: Celia Morton se Vito’s (058 256 1328) vir alles van pizza en pasta tot ’n bobaas-kerrie; The Courtyard van Jane Ball (082 650 1503) wat bekend is vir ’n heerlike ontbyt wat jou die hele dag sal hou; Carl Swerts van La Casa (058 303 1413) wat spesialiseer in Italiaanse geregte en sy vleis en kaas van Italië af invoer; Shelley Tresidder se Clementine’s (058 256 1616) wat spesialiseer in fine dining en die groot verskeidenheid op haar spyskaart bied alles van pasta en hoender tot lam en vark; Hunter’s Pub & Tavern (082 973 6362) van Solomon Khabu in die Kgubetswana-woonbuurt wat altyd oop is vir ’n dors keel.

Baie dankie aan Johann Lehman van Ash River Lodge (058 256 1717) vir die verblyf aan die Rapport-en Kwêla-span.


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-19°C Sunny. Mild. Pta: 5-22°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-17°C Sunny. Mild. Bfn: 0-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 10-23°C More sun than clouds. Mild. PE: 14-17°C More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe gobii-slimfone vanaf R999!

’n Kamera aan die voor- en agterkant, tweeledige SIM-verrigting en 200MB se GRATIS Cell C-data elke maand vir 12 maande, is maar net ’n paar van die eienskappe van dié slimfone. Kry joune nou! Koop hier.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!