Wet ‘verstewig’ Engels
2012-01-21 23:12
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale is verwater en onvoldoende om die verengelsing in die regering ten koste van die ander tien inheemse tale, waaronder Afrikaans, te stuit.
Belangegroepe het die afgelope week in die parlement aangevoer Suid-Afrikaners het die reg op moedertaalonderrig, om oor die toonbank by staatsdepartemente in die taal van hul keuse bedien te word, amptelike vorms in hul moedertaal in te vul, munisipale diensterekeninge in hul moedertaal te ontvang en om wetgewing in al 11 amptelike tale te kan lees.
Die wetsontwerp moet bogenoemde kwessies pak deur die grondwetlike vereiste van veeltaligheid in werking te stel.
Die meeste van sprekers by die openbare verhore het die wetsontwerp skerp gekritiseer en gesê dit sal die status quo van Engels as voorkeurtaal in die regering verstewig omdat dit van die regering vereis om net in 2 van die 11 amptelike tale met mense te kommunikeer.
Die onderwyskundige dr. Neville Alexander het selfs aangevoer die wetsontwerp stel die vordering in gevaar wat met die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale van 2003 gemaak is. Volgens Alexander het die regering dié wetsontwerp deur die huidige vervang weens die koste om al 11 landstale te bevorder.
“Ons middelklas is gemaklik in Engels en ons gee nie ’n duiwel om vir die res nie. As ons werklik ernstig is oor ons demokrasie, moet ons ernstig wees oor moedertaalonderrig en die ontwikkeling van inheemse tale,” het hy gewaarsku.
Net dr. Danny Titus, ATKV-direkteur, het by die portefeuljekomitee oor kuns en kultuur gepleit om die wetsontwerp te aanvaar soos dit is omdat die regering al sedert 1997 met ’n taalbeleid sloer. “Ons kan nie vir nog 15 jaar hieroor kibbel nie. Ons kan nie langer tyd mors nie.”
Titus meen die wetsontwerp is nie so swak soos sekere groepe voorgee nie en die fynere punte oor die regering se taalbeleid kan deur die ministeriële regulasies gepak word.
Ander kampvegters vir Afrikaans, waaronder die Afrikanerbond (AB) en die Vereniging van Regslui vir Afrikaans, het volgehou hoewel die Grondwet bepaal al 11 amptelike landstale het dieselfde status, gee die regering voorkeur aan Engels.
“Die regering verkies Engels as die amptelike taal,” het mnr. Jan Bosman, hoofsekretaris van die AB, gekla.
Me. Alana Bailey, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum, het gesê ’n behoorlike Taalwet kan nasiebou en versoening bevorder. “Maar dié wetsontwerp is oorhaastig saamgestel. Die publiek moes vooraf behoorlik geraadpleeg gewees het.”
Die parlement moet die wetsontwerp ingevolge ’n hofbevel teen 15?Maart aanvaar.
Mnr. Cerneels Lourens, ’n prokureur van Brits wat in 2010 ’n suksesvolle hofaansoek gebring het om die regering te dwing om ’n Taalwet te aanvaar, het die LP’s gewaarsku hy sal wéér hof toe gaan as die wetsontwerp bloot deur die parlement gestoomroller word.
“Dit (die wetsontwerp) is verwater en voldoen nie aan die grondwetlike vereistes van veeltaligheid nie.”