Wittes woeker
2012-11-03 23:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Johan Eybers in Johannesburg
Wit mans, die vernaamste teikens van regstellende aksie, staan 18 jaar ná die aanbreek van demokrasie steeds ekonomies kop en skouers uit bo ander Suid-Afrikaners én baie van hul eweknieë in ontwikkelde lande.
Al is daar deesdae byna 20 000 swart mense in die land wat meer as R1 miljoen per jaar verdien en tel amper 15 000 swart Suid-Afrikaners as superrykes met ’n inkomste van meer as R2,4 miljoen per jaar, is wit mans steeds verreweg die groep met die laagste werkloosheidskoers – en wit gesinne verdien nog ses keer meer as hul swart eweknieë.
Rapport het ’n paar kenners gevra om die afgelope week se sensussyfers, wat bevind het net 5% van wit mans was in 2011 werkloos, te ontleed.
Die syfers wys 31% van swart mans was werkloos, 21% van bruin mans, 10% van Indiër-mans en 7% van wit vroue.
Vergelyk dit met Europa, sê prof. Carl van Aardt van die buro van bemarkingsnavorsing aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en dit lyk asof wit mans in Suid-Afrika in ’n utopie lewe.
’n Kwart van Spanje en Griekeland se werkende bevolking sit sonder werk en selfs in Amerika en Engeland steek werkloosheid by sowat 8% vas.
Die ekonomiese krag van wit mense is uitgesonder deur pres. Jacob Zuma met die bekendstelling Dinsdag van die jongste sensussyfers.
Volgens een skatting die afgelope week sal die inkomste van swart huishoudings, wat in 2011 sowat R60 000 per jaar was, eers oor 60 jaar dié van wit mense inhaal, wat gemiddeld R365 000 per jaar was.
Bruin huishoudings se inkomste was in 2011 sowat R112 000 – omtrent ’n derde van dié van wit mense – en Indiër-huishoudings R250 000.
Hoewel werkgeleenthede vir wit mense by die staat en middelslagmaatskappye opgedroog het weens swart bemagtiging en regstellende aksie, doen wit mense steeds ongelooflik goed vir hulself in die formele sektor, sê Van Aardt.
“Hulle het eintlik min rede om te kla oor hul lewenstandaard.”
Die sensus wys wit mense en veral wit Afrikaanssprekende mans het aangepas nadat werkgeleenthede en bevorderingsmoontlikhede in die staatsdiens en by maatskappye opgedroog het, sê Van Aardt.
“Wit mense het in dié tydperk met hul vaardighede gewoeker en vir hulself werk geskep in die formele sektor as entrepreneurs, konsultante en diensverskaffers,” sê hy.
Volgens Dawie Roodt, ekonoom van Efficient Group, het wit mense ongelooflik goeie vordering gemaak as entrepreneurs en hulle pluk nou die vrugte van die risiko’s wat hulle geloop het om hul werk te bedank en hul eie ding te doen.
“Dit sê veral baie van Afrikaners, wat gewoond was aan ’n staatsbestel wat hulle beskerm het, maar eintlik verlam het. Hulle is nou verlos van die staat wat hulle afhanklik en lui gemaak het.
“Dit is goed vir Afrikaners, want dit het hulle geleer om op hul eie voete te staan. Hulle is nou baie beter daaraan toe as in die verlede,” sê Roodt.
Dr. Dirk Hermann, adjunkhoof van die vakbond Solidariteit, sê al is entrepreneurskap onder wit mans nou ver bó die gemiddelde, maak hulle tog ’n kleiner gedeelte uit van die totale werkersbevolking.
“Die meeste wit mense werk nog steeds soos die res van die samelewing vir groter ondernemings en die regering, wat beteken dat hulle slagoffers is van regstellende aksie,” sê hy.
“Die laer werkloosheidsyfer onder Afrikaners kan grotendeels toegeskryf word aan die besonderse hoë standaarde by Afrikaanse skole wat die fondament is om in die arbeidsmark mee te ding,” sê Hermann.
“Afrikaanse skole uitpresteer steeds skole in Amerika, Engeland en Nieu-Seeland wat wiskunde en wetenskap betref,” sê hy.
“Daar is steeds ’n tekort aan baie vaardighede in die land en wit mense wat daarin slaag om aan die voorpunt van kennis te bly, sal verseker wees van werk,” sê Hermann.