Worcester ‘voorbeeld van ware versoening’
2011-12-17 23:06
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
“Ek het nooit kon dink mev. Olga Macingwane sou my vergewe nie. Maar daar was liefde in haar hart.”
Dié woorde van die Winburgse bomplanter Stefaans Coetzee is Vrydag op Worcester tydens ’n Versoeningsdagbyeenkoms voorgelees.
Coetzee (33), wat 15 jaar gelede saam met drie ander verregses bomme in die Shoprite-winkelsentrum hier geplant het om bruin en swart mense te teiken, dien ’n vonnis van 20 jaar in die Pretoria-Sentraal-gevangenis uit.
Hy was destyds 18 jaar oud.
Coetzee se brief is voorgelees deur sy “goeie vriend”, mnr. Tshepo Madlingozi van die Khulumani-ondersteuningsgroep vir apartheidslagoffers en lektor in die regte aan die Universiteit van Pretoria.
Die geleentheid is deur die Worcester-versoening-en-hoopgroep gereël om die bomontploffing op 24 Desember 1996 te gedenk waarin vier mense dood en 67 beseer is.
Prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, het na Worcester gereis “omdat dié dorp ’n voorbeeld is van hoe ware versoening moet werk”.
Madlingozi het gesê hy het alles probeer om Coetzee op parool vrygelaat te kry om self sy saak op die byeenkoms te stel, maar het misluk.
“Daarom lees ék nou sy brief voor. Dis my posisie: Stefaans Coetzee, met wie ek goed bevriend geraak het nadat ek aanvanklik vooropgestelde idees oor hom gehad het, moet vrygelaat word.”
Madlingozi het gesê hy het Coetzee ontmoet nadat die apartheidsmisdadiger Eugene de Kock die twee in 2008 in aanraking met mekaar gebring het.
“Ek was skepties, sinies. Ek was reg om met Stefaans te baklei; het ’n tipiese rassis verwag. En daar ontmoet ek toe iemand heeltemal anders – dieselfde ouderdom as ek; skaam, nederig.
“Ná ’n lang gesprek was ek oortuig van sy opregtheid.
“Stefaans het nooit gevra die slagoffers moet hom vergewe nie. Sy versoek om hulle om verskoning te vra, was onvoorwaardelik.”
Coetzee rig sy brief aan “die slagoffers, die gemeenskap en my familie”.
“Sedert my vroegste kinderdae het ek my plek in die son probeer vind. Ek het gedink wat ek gedoen het, was reg,” skryf Coetzee.
Maar sy jare agter tralies het hom laat nadink.
“Ek het opregte berou. Dis nadat ek my lewe in 2007 aan God oorgegee het dat die begeerte in my hart gebore is om om verskoning te vra.”
Coetzee het toe gevra een van die beseerde slagoffers, Macingwane, moet na hom kom.
“Ek het nooit verwag sy sou my vergewe nie, maar daar was liefde in haar hart. Ek glo God het ’n plan vir my lewe.”
Macingwane het aangedui sy verkies dat Coetzee vrygelaat word “om saam met my te werk”.