Zuma-vrou ‘weet nie van vennoot se sake’
2012-09-01 23:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Adriaan Basson en Charl du Plessis
Thobeka Madiba-Zuma, een van pres. Jacob Zuma se vroue, het nie geweet van die korrupsiesaak teen haar sakevennoot toe hulle in Maart drie maatskappye geregistreer het nie.
As sy geweet het van die aanklagte teen Madisa Mokwena, ’n voormalige senior werknemer by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), sou sy nie sakebande met haar aangeknoop het nie, sê Madiba-Zuma.
Mokwena is in 2009 in hegtenis geneem toe sy na bewering die SAID uit R11 miljoen bedrieg het deur tenders aan haar vriende uit te deel.
Luidens die klagstaat het Mokwena R977 000 en steun vir haar doktorale studie van voormalige akademici by Unisa en die Universiteit van Venda gekry in ruil vir SAID-opleidingstenders.
Mokwena se man is Barnard Mokwena, visepresident van menslike hulpbronne en eksterne aangeleenthede by Lonmin. Hy was Lonmin se woordvoerder oor die onlangse onrus by die Marikana-myn en is ook weens geldwassery in sy vrou se saak aangekla, maar die aanklagte teen hom is in Maart laat vaar.
“My mede-direkteur, Lindani Sigxashe, het my aan dr. (Mandisa) Mokwena voorgestel en gesê sy sal met die handels- en administratiewe aspekte van die maatskappye kan help,” sê Madiba-Zuma.
Sy het eers “baie onlangs” uitgevind van die aanklagte teen Mokwena, wat kort daarna aangebied het om uit haar direkteurskappe te bedank. “Haar bedanking is aanvaar en sal met verloop van tyd geregistreer word,” sê Madiba-Zuma. Mokwena en haar mede-beskuldigdes verskyn op 15 Oktober in die hooggeregshof in Pretoria.