Oos, wes – sê jý ons waar’s bes
2010-03-27 23:23
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Vergeet vir ’n oomblik van misdaad en korrupsie en die goed wat jou bloeddruk laat styg as jy die koerante oopslaan.
Feit is, Suid-Afrika is ’n lékker plek om te bly. Sonskyn en braaivleis – winter en somer, die pragtigste natuurskoon en hel, man, mense wat ken van lag. En van kuier saam met familie en pêlle.
Maar vra nou ’n slag oor ’n tjoppie op die rooster jou vrinne wáár in Suid-Afrika is die lekkerste plek om te woon of om heen weg te breek?
Is dit ’n dorp op die wynroete van die Boland? Is dit êrens in die Bosveld waar jy met hadidas en die getjank van hiënas kan wakker word?
Lê jou hart se punt aan die Weskus met sy hartlike mense, kreef en harders? Of wil jy die son sien ondergaan soos hy nét oor die Laeveld kan sak?
Dis vanjaar jóú kans om te sê watter dorp die lekkerste, die mooiste, die hartlikste plek in die land is.
Rapport het hande gevat met die kykNET-joernaalprogram Kwêla en saam gaan ons vanjaar die gewildste dorp in Suid-Afrika aanwys.
Die kompetisie word nie deur burgemeesters en belanghebbendes bepaal nie, maar deur ons lesers en kykers sélf.
Kwêla en Rapport se Dorp van die Jaar-kompetisie word geborg deur Leopard’s Leap Wyne. Hieroor sê Henniel Smit, handelsmerkbestuurder: “Leopard’s Leap Wyne is met trots ’n borg van dié kompetisie. Dit is vir ons opwindend om seker te maak dat die dorpe met die grootste gees, mees betrokke inwoners en diepste wortels op die voorgrond kom. Leopard’s Leap sal natuurlik deurentyd seker maak dat gelukkige kykers en lesers met ’n wyntjie beloon word.”
Rapport gaan voortaan elke Sondag berig oor die kompetisie en lesers op hoogte hou van die nominasieproses.
Kwêla, wat op Woensdae om 20:00 op kykNET uitgesaai word, begin dié week, op 31 Maart, saam soek na die lekkerste dorp in die land.
Die program sal dan ook, soos Rapport, oor die volgende paar maande besoek aflê by die top-dorp in elkeen van die nege provinsies. As jy
Kwêla op Woensdae mis, kyk uit vir heruitsendings deur die loop van die week.
Só verloop die proses:
Van vandag af kan mense per SMS énige dorp in die land benoem. Uit dié stemme gaan die drie gewildste dorpe in elkeen van die nege provinsies gekies word.
Dan raak die kompetisie taai. Lesers gaan dan stem vir hul gunsteling uit die top-drie van elke provinsie.
En as ons ’n wenner in elke provinsie het, dan vat ’n verslagspan van Rapport en Kwêla die lang pad na die uithoeke van die land om dié nege dorpe te besoek. Ons skryf en verfilm die lekker uit elkeen van die nege dorpe los – en dan’s dit lesers en kykers se laaste kans om die top-dorp van Mzansi te kies.
Dié is ’n kompetisie nié vir die skoonste dorp of die dorp met die beste munisipaliteit nie – daarvoor is daar ander kompetisies wat op ’n politieke vlak bedryf word. Nee, dié kompetisie gaan oor waar Rapport se lesers en Kwêla se kykers hulself tuis voel.
Deurentyd sal lesers en kykers wat per SMS stem pryse kan wen met die komplimente van Leopard’s Leap. Ietsie om te drink langs die braaivleisvuur.
Die ‘huisreëls’:
Die volledige bepalings en voorwaardes word hier uiteengesit.
Die belangrikste is die vraag: Wat is ’n dorp? Mense mag enige plek benoem met minder as 500 000 inwoners. Ja, ja, ons weet, party mense sê sodra daar ’n katedraal is, is dit ’n stad, maar ons gaan met die afsnypunt van ’n halfmiljoen inwoners, met of sonder die katedraal!
Enige woondeel of dorp wat binne ’n metropolitaanse gebied lê, kan nie deelneem nie. (Jammer dus aan Kaapstad, Pretoria, Johannesburg, Bloemfontein en al hul woonbuurte of voorstede.)
Lesers/kykers mag enige dorp benoem – nie noodwendig die een waarop hulle bly nie.
En hulle kan selfs meer as een dorp benoem in die eerste fase van die kompetisie.
* As jy die bepalings en voorwaardes gelees het en steeds ’n navraag het, bel Hetta Saunderson van M4 Events and Promotions by 082 920 3444.
* Besoek gerus ook die webwerwe www.rapport.co.za, www.kwela.co.za of www.leopards-leap.com vir inligting oor die kompetisie en sy borge.
* Benoem jou gunsteling-dorp deur doodeenvoudig net die naam van die dorp te SMS na 33157. Elke SMS kos R1,50. (As die dorp se naam onlangs verander het of in die proses is om te verander, kan jy die ou óf die nuwe naam SMS.)
Die nominasies in dié eerste ronde van die kompetisie sluit op 13 April om 12:00.
- Rapport