As Afrikaans moet sterf, laat hom sterf!
2010-04-17 14:51
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
These are the last words I have to say
That’s why this took so long to write.
Uit Famous Last Words, Billy Joel.
Deesdae woel dit in bruin geledere oor watter standpunt hierdie groep moet inneem in die debat wat woed rondom die naderende afsterwe van die Afrikaanse taal, hoofsaaklik en voorlopig dan in sy hoedanigheid as taal van hoëre funksies.
Max du Preez het in ’n onlangse rubriek in By hard op Christo van der Rheede se tone getrap (tot sy en baie ander bruin kommentators se verbasing) omdat Van der Rheede wou weet of bruines nie net aan die kraag nadergesleep word wanneer dit die wit taalstryders pas nie.
Uit korrespondensie oor Die Taal se bagasie, die Vrye Afrikaanse Universiteit en ander verwante aangeleenthede wat via e-pos gesirkuleer word, is dit duidelik dat daar twee groeperinge bestaan: enersyds die ietwat ouer, hoofsaaklik Wes-Kaapse groep, met “struggle credentials” en vreeslik goeie en eerbare (maar soms naïewe) bedoelings, en wat dien in verskeie instellings wat Die Taal bevorder en ook ander bemagtigingsaksies dryf; en dan die jonger Turke andersyds, met Jason Lloyd vooraan, wat ’n tipiese Oos-Kaapse mentaliteit openbaar van nie-alles-wat-aan-my-opgedis-word-is-die-evangelie-nie en ’n hele klomp ongemaklike vrae vra.
’n Nuwe stem is dié van Lionel Adendorf (hy noem homself in Die Burger ’n taalaktivis), wat betrokke is by die reël van ’n simposium vir swart Afrikaanssprekendes aan die UWK. Adendorf het onlangs ruimte in van die Afrikaanse koerante en op RSG verkry vir sy standpunte.
Daar is baie gepraat, maar of daar werklik na die bruin stemme geluister is, daar waar dit saak maak, betwyfel ek sterk.
Maar soos Billy Joel tereg verder sing in die liedjie waaruit hierbo aangehaal is: “Ain’t that the story of my (our) life.”
Om ’n bietjie agtergrond te kry oor die dilemma waarin bruin sprekers hulle bevind, en ter ondersteuning van my standpunt dat die tyd gekom het dat bruin mense hul rug op Die Taal draai, wil ek by Adam Small se kraan gaan drink.
In ’n artikel in Rapport (Sondag 6 Maart 2010) getiteld “Waar is Adam Small se Hertzogprys?” haal Jason Lloyd vir Breyten Breytenbach aan wat opgemerk het: “Dit is ’n absolute skande dat Adam Small nog nie die Hertzogprys gekry het nie.”
Lloyd se artikel het my laat dink… Dink oor hoe ons die verloop van die geskiedenis wil verander, hoe ons die “ongemaklike, skaam” gedeeltes jare later ongedaan wil maak met “regstellende aksies”, hoe flippant ons omgaan met begrippe soos vergifnis, en hoe maklik ons wil vergeet.
Moet die nie-toekenning van die Hertzogprys aan Small nie daar bly staan as vinger- en teregwysing vir die onreg wat Afrikaans sy nie-wit, en pertinent dan, bruin sprekers aangedoen het nie?
Ek was bevoorreg om Small te ontmoet – by die Tweede Swart Afrikaanse Skrywersimposium te Paternoster in 1995. Hier aan die einde van die sessie moes ek my inset lewer. Ek het net voor Small my spreekbeurt gekry en was hoogs gevlei toe hy daarna ’n gedeelte uit my voorlegging aanhaal om ’n punt te staaf.
Op dieselfde simposium het Small ’n referaat gelewer, “Die baklei om uit die slaweding te kom” (opgeneem in Die Reis na Paternoster, 1997).
Small werk daarin breedvoerig met begrippe soos vergewe en vergeet. Hy haal die aksioloog Nicolai Hartmann aan wat gevra het: “Is dit nie histories so dat ons met ons gewete moet saamleef nie?”
Verder maak Small die volgende uitsprake: “U weet, daar is ’n soort wit mens in Suid-Afrika wat my baie ontstel. En ek praat nie rassisties wanneer ek dit noem nie, maar dit is daardie soort wit mens wat my pyn beter vertolk as wat ek dit self kan doen. U weet, lang trane oor my huil terwyl ek al hier onder die kombers besig is om te lag.”
En nog verder het hy dit oor: “Daar is g’n vergeet nie. En ek het ’n groot probleem met vergewe. Ek weet dis vir Christenmense baie moeilik om te kan aanvaar.
“Ek self kom vanuit daardie agtergrond, maar ek worstel met die begrip vergifnis. Want soos ek vergifnis verstaan, kan uiteindelik net God vergewe. Want om te vergewe, beteken eintlik om ’n totale streep te trek deur wat gebeur het tot die mate dat dit waaragtig vergeet is?… vergifnis is nie vir ons mense moontlik nie.”
Small sny hier ’n teer punt aan. Het Suid-Afrika nie met die WVK die hele proses van vergewe kortsigtig toegepas nie? Moes ons nie dieper gesny het nie, meer juridies, pleks van die proses net teologies (minus die Hartmann-inset) benader het nie? Wie beheer nog steeds wat?
In die proses om versoening ten alle koste te bereik, is daar kortpad gevat. As ek dié beeld kan gebruik: daar was ’n hele paar geboue uit die ou bedeling wat tot in die fondamente verrot was.
As gevolg van rekonsiliasie is hierdie geboue met slegte pleisterwerk, maar duur verf toegesmeer, terwyl dit broodnodig was dat van hierdie geboue (instellings) tot op die grond afgebreek moes word. En uiteindelik het Die Taal dit reggekry om Small stil te maak, hom uit te skuif, tot die rand waar ons maar altyd gewees het, buite die agterdeur?… Malan het geskommel, en die dice het vir altyd verkeerd geval! As Small kon, sou hy wel ’n Hertzogprys (wat met hindsight toegeken word) aanvaar? Ek dink ons het ook darem nog ’n bietjie trots oor as om altyd hoed in die hand versoeningsgedienstig te wees.
Bevind die bruin Afrikaanse skrywer hom nie nou, in ’n nuwe bedeling, in ’n veel meer gemarginaliseerde omgewing as sy wit eweknie nie?
Kom ek neem ’n meer onlangse voorbeeld waar ek uit ondervinding (aan die bas) kan praat oor net wáár bruin skrywers hulle tans bevind. Laat ek as vertrekpunt noem dat ek my nie as ’n buitengewoon goeie skrywer beskou nie, maar die Here weet, ek is ook nie ’n uitermate vrot een nie.
Ek het in Oktober 2009 ’n nuwe Afrikaanse digbundel uitgegee, ’n persverklaring daaroor gestuur aan LitNet, Versindaba, een of twee digtersvriende, en die boekeredakteurs van twee Afrikaanse dagblaaie en een Afrikaanse Sondagkoerant.
LitNet het flink reageer, gereël vir ’n onderhoud; Versindaba het my genooi om besonderhede te stuur – voorblad, kort opsomming, asook een of twee verse – sodat ek gratis publisiteit op hul webwerf kon verkry.
Die boekeredakteur van een van die dagblaaie het ’n resensie-eksemplaar versoek; ek het dié onmiddellik gepos, maar vyf maande later wag ek nog op ’n resensie, en ’n onlangse e-pos oor wanneer ’n resensie dan verskyn is onbeantwoord gelaat.
Die Sondagkoerant se boekeredakteur het seker darem die e-pos gelees, hoop ek, voordat hy dit delete het?
Wat probeer ek hiermee sê? Lees maar self tussen die reëls.
Al wat oorbly vir bruin mense wat Afrikaans praat, lees en skryf, is die k*k wat opgedis word in Die Son; vir die res bestaan ons nie. Nou waarom moet ons voortgaan om te klop aan die toe deure, waarom moet ons vir Die Taal baklei as daar f***l vir ons is?
Ek het tot dié slotsom gekom: Kom ons loop weg van Afrikaans en kyk nie ’n oomblik terug nie. En as die taal op Stellenbosch en verder moet sterwe, dan moet dit maar so wees.
Dames en here, ek het nooit gedink die dag sal kom nie, maar die dood van Afrikaans raak my koue klere nie.
Clinton V. du Plessis is ’n skrywer en digter en dié artikel het oorspronklik op LitNet verskyn.
- Rapport