As die Styx toevries, is ons almal bakvissies op dun ys
2012-02-04 14:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
pierewaaier s.nw. Manlike persoon, dikw. welgesteld of van aansien, wat geneig is om te pierewaai of op ’n minder diskrete manier te flirteer. pierewaai ww. Jol, rinkink. Uit Ndl. pierewaaien (1666). In Ndl. oorspr. ’n seemanswoord wat tot die volkstaal deurgedring het. Uit Russies pirowát “fuif”, ’n afleiding van pir “gasmaal”. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. (G.J. van Wyk et al.)
Die lang,
bruingebrande man met die wit tande – koud-wit soos verbleikte doodsbeendere –
is eintlik ’n wandelende cliché. Nie dat hy holrug gery lyk nie, hoor; daarvoor
is Saul Grotman te heteroseksueel.
Met ’n bos pikswart hare stap die Adonis altyd bors uit, maag in,
kiertsregop, net soos enige ander nar wat soos ’n poppe-parodie van die
modewêreld is. En kierienekke en pierewaaiers hou mos van blink klippies, soos
volstruise wat pik-pik na alles wat glinster.
Daarom pas dit hom soos ’n rooi bokshandskoen (op skrikkeldae is hy
ook ’n volkontak-Thaibokser) om die aanbieder van die glans-kosprogram Paella te wees.
Op hierdie program het hy vinnig beroemd geraak onder ryk
grasweduwees en lesers van pretensieuse tydskrifte soos Elle Décor.
“Sy lewe is ’n lang, laat lente,” fluister Venus Visagie eendag oor
’n ligte noenmaal in Stellenbosch, daar onder groen wiegende eikebome. “Hy’s ’n
opregte teelperd,” runnik haar vriendin Aphrodite Agenbach, papnat van die
sweet, soos ’n merrie wat reën ruik en op dieselfde plek begin galop. Sy kan
haar omtrent nie inhou nie – haar beker loop oor.
Op sy program is hy veral gewild omdat hy so mooi-dom soos ’n
harder lyk en sing-sing praat, ook nie uit die vuis nie, watwou, nee, vanaf ’n
koerantplakkaat waarop alles groot geskryf staan.
“Vandag,” neurie hy, “is ek eerste met die nuus. Ronde, deursigtige
visbakke se dae is getel!”
Oor die land heen is daar meteens die geluid van plonsende water.
Jong voorstedelike meerminne, bakvissies en regte goudvissies roer
tesame hul vinne in harmonie.
So opgewonde is hy dat hy sommer die een alleen-vis op stel, wat as
rekwisiet moes dien, net daar uit sy bakkie pluk en in die stomende pan gooi.
Nou is die rooi goudvissie deel van die dag se paella. Knoffel,
brandrissie, saffraan, en hy roer, terwyl vis se kind finaal oor die Styx
spartel.
Hy lag met wit tande, gesig kamera toe. Min weet hy dat die
Nasionale Raad van die Dierebeskermingsvereniging onmiddellik ’n lasbrief vir sy
inhegtenisname uitgereik het.
Sy laaste woorde was (net voordat die polisie die ateljee
binnegestroom en hom hard teen die grond geskop het): “Die onmenslike visbakke
is reeds in Rome en Swede verbied!”
En net soos die ware Adonis uit ou Griekse tye het sy vroeë dood
deur wildevarke, roufeeste – genaamd die Adonia – onder baie vroue en
laventelhane laat ontstaan.
Ai, of is dít bloot wensdenkery?