As selfs die kranse nie antwoord gee nie...
2010-04-10 14:16
Elke nou en dan verdwaal ek in ’n doolhof op die internet.
Onlangs, nadat ek na skakels na Breyten Breytenbach se “Mandela’s Smile” gesoek het, verdwaal ek in ’n doolhof van wit Afrikaanse regse blogs en forums.
Sommige van hierdie blogs het ’n droë, professionele politieke beeld met historiese en grondwetlike ontledings en is op soek na ’n wetlike presedent en konstitusionele regverdiging vir ’n Afrikaner-volkstaat. Sommige faksies wil ’n wit volkstaat vestig, terwyl ander faksies almal wie se moedertaal Afrikaans is wil insluit.
Daar is ’n menigte faksies in hierdie breë beweging van wit Afrikaanse ontnugtering en ontevredenheid. Daar word gepraat van gewapende opstand of weerstand, terwyl ander teen sulke “onverantwoordelike” praatjies maan. Sommige blogs fokus daarop om berigte en statistiek van gewelddadige misdaad op te teken, veral as die slagoffers wit is. Maar sommige blogs sluit nou alle gewelddadige misdaad in, ongeag die kleur van die slagoffer, om sodoende enige aanklag van rassisme te vermy.
Sommige van hierdie blogs is mildelik konsepsueel rassisties. Maar ’n menigte is propvol histeriese, aaklige rassisme en volgehoue, tasbare woede.
’n Mens vind dit ook in die aanlyn-kommentaar op sowel Afrikaanse as Engelse koerantwebwerwe.
Dit is maklik om dit alles af te maak as ’n verregse loony fringe. Sensitiewe lesers kan selfs ’n bietjie besmet voel deur van die inskrywings op die blogs.
Ek het self aanvanklik besmet gevoel, en soms ook persoonlik aangeval weens die rassistiese retoriek.
Maar as ’n mens verby die rassistiese en sensasionele taal kyk, raak die tasbaarheid van die woede ’n mens aan. Die emosionele dimensie van die kommentare is moeilik om te ignoreer. Daar is ’n diep woede, maar daar is ook ’n diep hartseer.
In ’n kultuur met ’n lang geskiedenis van onder meer landbouverbondenheid aan die grond en ’n sterk literêre viering van die landskap en landelike verbondenheid, is dit nie moeilik om hierdie woede te sien en te verstaan as ’n produk van harteleed nie. ’n Maklike, siniese en onsimpatetiese ontleding sou wees om die hartseer en woede af te maak as die netto resultaat van verlore apartheidsmag: ’n Histeriese ontsteltenis omdat ’n groep Suid-Afrikaners rondval ná die verlies van politieke mag. Dit is sekerlik so, maar dit is ook meer as dit. En dit is hartverskeurend.
Ek sou dit waag om te stel dat hierdie blogs meestal die stemme van mense verteenwoordig wat nie in die meer super-gemaklike ekonomiese groepe val nie: werkers- en lae-middelklas.
Werkende mense wat belasting betaal, maar wat voel dat hierdie belasting vir hulle niks bring nie. Op sommige blogs, byvoorbeeld, word Dan Roodt afgemaak as ’n snobistiese pierewaaier wat nie moet droom daarvan dat hy hierdie alledaagse Suid-Afrikaners kan verteenwoordig nie.
Maar onder hierdie woede en hartseer lê sekerlik ’n ware gevoel van ontmagtiging. Of hierdie gevoel van ontmagtiging geregverdig is of nie maak nie saak nie, die woede en hartseer is tasbaar en outentiek.
Hoekom dit hartseer noem? En hoekom voel ek dat dit, op sy beurt, my eie hart seermaak, veral siende dat ek self ’n teiken van daardie rassisme is?
Dit is hartverskeurend omdat dit ’n uiting van hartseer is. Dit is hartverskeurend omdat die vitrioel en woede ’n indeks van ’n vorige liefde is – of ’n verwronge uitdrukking van hierdie vorige liefde.
Verder, onder al die woede en haat, is dit duidelik, ook, dat daar ’n klaaglied is wat ongehoor bly. Dat niks of niemand antwoord gee nie. En dit verdiep die woede, die hartseer, die verlies van nog meer liefde. Belangrikste, dit maak die gevoel van ontmagtiging meer akuut, wat weer meer seermaak.
Die klaaglied bly ongehoor deur die staat, en word dikwels afgemaak in die hoofstroommedia. Dit word nie herken nie, dit word nie erken nie; dit word ontken, en dit word misken.
Dit is inderdaad asof selfs die kranse nie antwoord gee nie. Sekerlik is dit hartverskeurend?
Enigiemand wat in die apartheidtyd as nie-wit grootgeword het moet tog hulself in hierdie woedende, hartverskeurende uitdrukking van hartseer en ontmagtiging kan herken.
Benewens die politieke en ekonomiese ontmagtiging van apartheid, kan die apartheidstelsel se ontsegging van burgerskap ook gesien word as ’n klap in die gesig, ’n verwerping en verloëning van liefde.
So, byvoorbeeld, kan ’n mens die ontsegging van eiendomsbesit of die wet op aparte geriewe sien as wette wat inderdaad ’n verbintenis met of liefde vir die landskap wou ontsê.
En so is dit moontlik om die emosionele vlak van die teenswoordige ontevredenheid te verstaan en te herken.
En ek herken ook my pa se woede, frustrasie en hartseer: In die aangesig van sy ontmanning deur ongelyke lone al was hy gereeld die beste werktuigkundige by ’n garage, of as hy nie sy kinders na die veiligste strand kon neem nie.
Maar die hartseer in die teenswoordige wit Afrikaanse ontevredenheid soos dit op hierdie blogs voorkom, is ook hartverskeurend, want dit misken ’n paar goed weens die rassisme en apartheidslof. Dit misken die hartseer wat apartheid veroorsaak het. Dit misken dat die meeste swart Suid-Afrikaners steeds ontmagtig is; wat ons in die media sien is die self-verrykende politici en celebrities. Dit misken dus ’n teenswoordige ontevredenheid onder alledaagse swart Suid-Afrikaners wat self hartseer is oor die vertrapte ideale van die anti-apartheidsbeweging.
Maar mees belangrik misken hierdie klaaglied, deur sy bitsige rassisme, selfs?die moontlikheid dat swart Suid-Afrikaners hulself in wit Afrikaners se uitdrukkings van ontevredenheid kan herken.
Hierdie miskenning kweek verdere woede en haat.
As ’n mens na aanlyn-kommentaar op Suid-Afrikaanse webwerwe kyk, sien ’n mens hoe Suid-Afrikaners almal laer trek, terug in hul nou meer verharde groepe: ras, taal, kultuur, geloof.
’n Verkalking in verskille soos ons aanhou weier om onsself in mekaar te herken en om te erken dat ons eintlik ’n gemene hartseer deel.
Hierdie, my eie klaaglied, is nie ’n voorstel aan regses om hul beeld te verbeter nie. En ek het nie antwoorde nie. Maar ek wil weet, hoe begin ons om mekaar te herken?
Rustum Kozain is ’n skrywer.
- Rapport