Aweregs: Nie almal is ten gunste van Bybel en gebed op skool
2009-09-19 15:33
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Attie Koekemoer van
Linden in Johannesburg het onlangs ’n skool vir sy vyfjarige begin soek. Die
Laerskool Louw Geldenhuys, waar hy ook skoolgegaan het, is vir hom gerieflik
geleë.
“Met groot verwagting het ek by die ope dag van die skool opgedaag.
Ek was verbaas dat verrigtinge daar steeds met Skriflesing en gebed geopen word
soos in die ‘ou Suid- Afrika’.”
Die godsdiensbeleid van die departement van onderwys (Wet op
Nasionale Onderwysbeleid nr. 27 van 1996) wat in 2003 gepromulgeer is, is aan
Attie bekend. Die hart van die beleid is om alle kinders tuis te laat voel in
hul skool en respek vir ander se oortuigings te leer. Enige voorkeur aan ’n
spesifieke godsdiensoortuiging in openbare skole is taboe.
(www.info.gov.za/view/DownloadFileAction?id=70211.)
“Dit is teenstrydig met die riglyne van die nasionale beleid. Ek
was geskok toe ’n personeellid die gehoor meedeel dat godsdiensaktiwiteite
afgeskaal word wanneer die onderwysdepartement die skool besoek sodat slapende
honde nie wakker gemaak word nie.”
Hierdie
ingesteldheid is deur nog ’n skoolhoof (anoniem) van Pretoria beaam. Hier word
alles “reg gedoen” wanneer hulle ’n besoek van die departement ontvang. Maar
sodra die departement by die hek uit is, gaan die skool voort met Bybelstudie
volgens die ou TOD-leerplan. Talle bekeringsaktiwiteite, soos CSV, gewyde
sangperiodes, skriflesing en gebed vind in klastyd plaas.
Die nasionale beleid het reeds tydens die opstel daarvan opslae
gemaak. Die stof ná die promulgering daarvan het nog nie gaan lê nie. Voorheen
was die meeste kritiek vanuit godsdiensgeledere en téén die beleid. Maar dit
word nou duidelik dat daar ouers en organisasies is wat die beleid geesdriftig
ondersteun. Hulle is krities oor skole wat huiwer om die beleid te implementeer.
Mnr. Walter Mercuur, adjunkdirekteur van kurrikulum-ontwikkeling
in die Wes-Kaap, sê die dae van window dressing is getel.
“Skole is verplig om die riglyne wat reeds daar is, na te
volg.
“Skole mag nie adverteer dat hulle ’n spesifieke geloof voorstaan
nie, al is die meerderheid van die kinders van daardie geloof. Dit druis in teen
die wet wat sê dat daar in model C-skole aan geen godsdienstige oortuiging
voorkeur gegee mag word nie.”
Hans Pietersen is ’n ouer wat gefrustreerd is omdat die Laerskool
Stellenbosch hul eie godsdiensbeleid opgestel het, en dit eers nadat ouers
verlede jaar gekla het.
Hy verwag dat skole
kinders realisties moet voorberei vir die openbare lewe en hul toekomstige
werkplek, waar mense moet saamwerk en godsdiens niemand beskerm nie. Elke
leerling, watter geloof sy ouers ook al aanhang, moet welkom en gerespekteer
voel. Demokrasie vereis dat alle godsdiensoortuigings ’n gelyke speelveld in die
openbare ruimte moet hê en dat kinders onbevange onderrig moet word.
“Ek het ’n probleem daarmee wanneer tradisie nie bevraagteken mag
word nie, veral wanneer ’n skool kwansuis kritiese denke bevorder. Geloof het
nie ’n monopolie op waardes of waarheid nie. Die Christelik-Nasionale onderwys
van ons verlede het juis ons Boetman-geslag soos sampioene hanteer; ons was in
die duister gehou en perdevye gevoer.
“Kernaspekte van wetenskap en politiek word steeds op aandrang van
konserwatiewes opsetlik verskraal of vermy. Darwin het byvoorbeeld ’n
fantastiese deurbraak vir die wetenskap gemaak, maar hoeveel van ons skole
herdenk vanjaar sy 200ste geboortejaar?”
Volgens Mercuur is dit skandalig dat ons kinders afgewaterde
godsdiensonderrig ontvang. ’n Spesifieke kurrikulum vir godsdiensonderrig moet
gevolg word en uitkomste moet soos enige ander leergebied gemeet word. Ouers het
nie die reg om die inhoud van ’n leerplan te bepaal nie.
Prof. Chrissie Steyn, skrywer van Religion in Life
Orientation, het bevestig dat selfs die bietjie godsdiens wat in die vak
lewensoriëntering voorgeskryf word, deur baie skole geïgnoreer word. Volgens
haar moet ’n kind reeds op ’n vroeë ouderdom aan die rykdom van verskillende
godsdienste blootgestel word.
“Net deur kennis van die ander kan ’n kind geleer word om mense wat
nie noodwendig soos hy glo nie, te respekteer.”
Dirk
Koekemoer van Faerie Glen in Pretoria het verlede jaar sy tweeling by die
Laerskool Tygerpoort ingeskryf. Hy was in ’n plaasskool en wou sy kinders ’n
soortgelyke ervaring gee. Die skool se ope dag het hom egter onwelkom laat voel
en hy het ’n brief aan die skoolhoof gerig om sy misnoeë te betuig.
Hy skryf: “Ons gesin volg ook Jesus, maar ek was verbaas om te sien
hoe ’n skool in die ‘nuwe Suid-Afrika’ ’n spesifieke lering ondersteun en
bemark, boonop ten koste van ander godsdienste. Ek wil nie eers dink wat ’n
Katoliek, Jehovasgetuie, Hindoe of Moslem sou gevoel het as hulle Tygerpoort se
ope dag bygewoon het nie. Ek het nêrens, voordat ek by die skool ingeloop het,
’n bord ‘Slegs Christene’ gesien nie.
“Ek het julle webblad besoek en was geskok dat Tygerpoort selfs
hier ’n spesifieke godsdiens aanhang. My vrees is dat ek geen benul het wat
hierdie sogenaamde Christelike ‘norme en waardes’ is wat bemark word nie. Is
aborsie reg of nie, is Jesus ’n god of nie, moet ek tot Maria bid of nie, is
Satan ’n werklikheid of nie, is Islam die Antichris, mag ’n man met meer as een
vrou trou of nie? – en nog vele ander vrae – almal onoplosbare Christelike
kwessies. Dit is duidelik dat die skool nie net ‘norme en waardes’ bemark nie,
maar voorkeur aan ’n spesifieke lering gee.”
Volgens Koekemoer, ’n oud-teoloog, is daar nie ’n
algemeen-aanvaarde “Christelike karakter” nie, want Christene kon nog nooit
saamstem oor wat presies dit beteken om ’n Christen te wees nie. Soos ander pa’s
wil Koekemoer nie godsdiens van kinders ontneem nie, “maar bid self vir jou kind
in die motor voordat jy hom by die skool aflaai.
‘Dit is my
verantwoordelikheid om my kind in sy religieuse ontwikkeling te begelei. Dit is
nie die onderwyser se voorreg nie.
“Hoe word gekontroleer wat my kind vertel word? Christene verskil
dramaties. Gaan my kind moet hoor dat hy in die hel gaan brand as hy ‘sondig’?
“Moet hy hoor dat gays en Moslems gedoem is en dat evolusie ’n
duiwelse geloof is?” vra Koekemoer.
“Openbare skole is nie die plek vir geloofsinskerping nie – daar is
ruim tyd buite die skool daarvoor. Dit is ouers se voorreg om hul geloof aan hul
eie kinders oor te dra,” sê Pietersen.
“Maar daardie voorreg strek nie tot ander se kinders nie. Elkeen
moet sy oortuigings op sy eie manier kan uitleef.
“Om skole aan dogma onderhewig te maak verleen ’n spesiale status
aan godsdiens. Só word plaaslike groepwaardes bo staatswette verhef, wat
polities baie gevaarlik is.
“Vergelyk maar wêreldwyd die lande waar godsdiens en politiek meng,
selfs informeel, met lande waar staat en kerk goed geskei is. Dit is duidelik
oorwegend eersgenoemdes wat deur geweld en armoede gekenmerk word en
laasgenoemdes wat welvarend en veilig is.
“Bybelboere moet vrede maak met die beginsels van ’n oop,
demokratiese gemeenskap. Beskerm ons skole teen fundamentalisme.”
’n Gesprekforum is gestig vir ouers wat die nasionale beleid
ondersteun en gedagtes wil uitruil by
http://groups.google.com/group/skoolbeleid.
Daar
is ook ouers wat sou wou sien dat godsdiens in skole afgeskaal word, skryf ROTHEA
KLEYNHANS.