Betaal en wys só toewyding tot land se ontwikkeling
2010-03-13 14:45
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
As jy in die Suid-Afrika van vandag woon, veral in die histories “bevoorregte” gebiede, of op die land se paaie ry, voordeel trek uit die straat- en verkeersligte, jy ’n goeie rioolstelsel het, kan jy jouself as geseënd beskou.
In dieselfde land kan jy ook ’n inwoner van Slovopark of Mdantsane wees en nie eens toegang hê tot die basiese padnetwerk nie – dan praat ek nie eens van skoon drinkwater of ordentlike toiletgeriewe nie!
Sal dit dan die weerhouding van jou belasting regverdig as die regering nie al hierdie dienste aan jou lewer nie?
Natuurlik nie! Dit sou ’n algeheel bysiende manier wees vir ’n toegewyde inwoner van ’n ontwikkelen-de land.
Stel jou voor elke Suid-Afrikaner begin om sy belasting of dienstegeld te weerhou as hulle nie gelukkig is met die een of ander aspek van dienslewering wat hulle van die regering kry nie.
Die gevolg? Chaos en agteruitgang sou afmetings aanneem wat geen mens wat by sy verstand is sou wou sien nie. As jy ’n slag oor die grense van ons land na ander lande in Afrika of buite die vasteland gaan, sal jy terugkom met ’n heel ander sienswyse van dié land wat ek “huis” noem.
Elke inwoner van die land verdien en wil graag doeltreffende dienslewering hê wat deur ’n deursigtige en verantwoordelike munisipaliteit gelewer word. Dit is die hart van die toepassing van plaaslike regerings se omdraaistrategie (Local Government Turn Around Strategy, of LGTAS). Dit is wat gemeenskappe daartoe dryf om beswaar te maak nadat alle ander pogings om gehoor te word langer as tien jaar geen resultate gelewer het nie.
Maar daar is geen kwessie hieroor nie: Dit is die verantwoordelikheid van elke burger om hul belasting te betaal as deel van ’n gedeelde verantwoordelikheid en toewyding tot die ontwikkeling van die land, veral een wat skree weens die ongelykheid van die verlede. Dit is ’n kollektiewe verantwoordelikheid tot voordeel van die hele volk.
Vandag is altesame 15 munisipaliteite onder administrasie kragtens afdeling 139 van die Grondwet.
Binne enkele dae gaan dié getal tot 18 styg. Hulle is in die provinsies Noordwes, die Vrystaat, die Noord-Kaap, die Oos-Kaap en elders. Daar is geen duideliker aanduiding van dié kant van die regering om teenoor Suid-Afrikaners te erken dat die uitdagings op plaaslikeregeringsvlak ernstig is nie. Diegene wat betrokke was in onwettige aksies, of teen wie daar klagtes is, moet ondersoek word sodat ’n regverdige proses verseker kan word.
Die doelwit van die huidige wetgewende hersieningsproses wat tans gedoen word, is juis om die regsproses te verfyn om gapings van die verlede te sluit en voornemende oortreders die skrik op die lyf te jaag.
Die regering, saam met die land se burgers, stem saam dat ons plaaslike regerings gesond moet word.
As jy tot nou ’n perfekte padnetwerk, rioleringstelsel en vullisverwyderingstelsel ervaar het en ’n oorvloed van elektrisiteit geniet het, kan jy jouself as ’n baie geseënde mens beskou.
Munisipaliteite staan voor die uitdaging van krimpende begrotings en groeiende bevolkings.
Dit was maklik voor 1994 omdat die hulpbronne bedoel was vir ’n klein deeltjie van die gemeenskap. Dit het beteken dat alle infrastruktuur bedoel was vir net meer as 3 miljoen Suid-Afrikaners.
Ek ontken nie die bestaan van swak munisipale bestuur, finansiële wanbestuur, korrupsie en swak reaksie op dié vlak nie. Dit is deel van die nalatenskap van die verlede.
Maar om jou belasting te weerhou is onwettig. Jy oortree die wet. Dit is waarom mense wat dit doen altyd tweede gaan kom in ’n hofgeding.
Die regering wil sulke kwessies sáám met sy inwoners oplos, eerder as om deur regsprosesse te gaan.
Dit is waarom min. Sicelo Shiceka die roete van betrokkenheid by die burgers van die land verkies. Samewerking, dus om saam oplossings te vind, is sy benadering.
Dié wat verkies om die wet te oortree deur hul belasting te weerhou, moet weet dat die minister met hulle in gesprek wil tree.
Suid-Afrikaners het ’n trotse geskiedenis van weerstand en protesaksies teen enige vorm van onreg en diskriminasie. Die regering moedig Suid-Afrikaners aan om hul stem te laat hoor en hul griewe te lug. Maar protesaksie beteken nie geweld, die vernietiging van eiendom of selfs die weerhouding van munisipale belasting nie. Waar sulke dade gepleeg word, moet die reg sy gang gaan wanneer dialoog en onderhandeling misluk het.
Vuyelwa Vika is kommunikasiehoof van die departement van koöperatiewe regering en tradisionele sake.
- Rapport