Bosman se veelbewoë lewe
2011-10-15 12:47
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
As dit so is dat ’n skrywer en sy werk nooit volkome los van mekaar staan nie en dat daar dikwels raakpunte tussen die werklikheid en fiksie is, is daar sekerlik baie wat ’n mens kan put uit die werk van Herman Charles Bosman.
Bosman se werk het soms ’n ernstige, somber kant. Selfs in sy ligter verhale skuil daar skadu’s. Dit laat die vermoede dat daar iets oor hom is waarvan min mense weet.
Bosman het in Johannesburg grootgeword: ’n avontuurlustige, rebelse kind. Sy Afrikaanse ouers het hom tweetalig grootgemaak. In die Bosman-huishouding is daar baie gelees en intellektuele gesprekke gevoer.
Herman Charles het egter nie met sy pa oor die weg gekom nie. Sy ma het aan ’n vriendin verklap dat sy “moes” trou omdat sy swanger was en dat haar swaer, Charles, eintlik die klein Herman se biologiese pa is.
Charles, ’n bekende in politieke kringe en persoonlike vriend van Jan Smuts, het ’n groot invloed op die jong Herman gehad.
As hoërskoolseun het Bosman bygedra tot die skoolkoerant en humoristiese stukkies vir The Sunday Times geskryf. Tydens sy studie aan die Universiteit van die Witwatersrand het hy die derde plek in ’n poësiekompetisie verower. Die gedig is egter nie Bosman se eie werk nie – dis ’n vers van die Romantiese Engelse digter Shelley: ’n vroeë bewys, miskien, van Bosman se absurde humorsin.
Nadat sy pa in ’n mynongeluk dood is, het Herman ligsinnige opmerkings daaroor teenoor sy jongste broer, wat besonder geheg was aan sy pa, gemaak: Die lewe was vir Herman Charles ’n kaartspel en aweregse humor het sensitiwiteit getroef.
As jong man was Bosman verlief op Vera Sawyer en is onder ’n vals naam met haar getroud. Vera het lank nie van sy Afrikaanse agtergrond geweet nie. Die paartjie het nooit ’n blyplek gedeel nie.
Bosman het ’n onderwyspos in Groot-Marico aanvaar. Hy het sy hart op die omgewing en sy mense verloor, baie tyd in die veld deurgebring en ’n jaggeweer aangeskaf. Sy ma is intussen met ’n welgestelde Skot getroud.
Die Anglo-Boereoorlog was vars in die geheue en die Bosman-broers het daarby op hul stiefbroers neergesien omdat laasgenoemde nie intellektueel ingestel was nie.
In 1926 skiet Bosman sy stiefbroer David. In die daaropvolgende hofsaak het dit geblyk Herman, wat die skoolvakansie in Johannesburg deurgebring het, en David het in dieselfde kamer geslaap. Die lig was afgeskakel. Herman se broer Pierre het die kamer binnegekom en in ’n wastafel vasgeloop. In die harwar het Herman ’n skoot geskiet en David getref.
Bosman sou later te velde trek teen ’n regstelsel wat geen onderskeid maak tussen moord met voorbedagte rade en strafbare manslag nie, maar sy jaggeweer was tydens die skietvoorval gelaai en gereed om te gebruik.
Die aanklaer het ook aangevoer daar was genoeg maanlig in die kamer vir Bosman om sy slagoffer te eien en dat Bosman dus nie ’n skoot lukraak in die donker geskiet het nie. ’n Manuskrip oor ’n “koelbloedige moordstorie” wat deur Bosman geskryf is, is boonop as bewysstuk ingedien.
Bosman is gevolglik op 21-jarige leeftyd ter dood veroordeel. Ná nege dae is sy vonnis versag tot 10 jaar tronkstraf. Vertoë is vergeefs tot die minister van justisie, Tielman Roos, gerig om Bosman vrygelaat te kry.
Ná ’n emosionele uitbarsting word hy drie maande in ’n hospitaal vir waarneming opgeneem.
Hy sou later opmerk hy het in dié tyd tot die oortuiging gekom dat hy “mal” is, die hele wêreld stapelgek is en hy self bloot die skyn van normaliteit probeer voorhou.
In 1930 is hy op parool vrygelaat. Hy het saam met skrywersvriende ’n drukkersmaatskappy op die been gebring en dit onder meer ingespan as deel van ’n veldtog om Daisy de Melker vrygelaat te kry.
In dié tyd raak hy op Ella Manson verlief. Vera het ’n egskeiding toegestaan sodat Bosman met Manson kon trou, maar Bosman en Vera het lewenslange vriende gebly.
Bosman en Manson het nege jaar lank deur Europa gereis en heelwat tyd in Londen deurgebring. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog keer hulle terug na Suid-Afrika. Bosman vestig hom in 1943 in Pietersburg as redakteur van die plaaslike koerant. Hy skei van Ella en trou met Helena Stegman, ’n onderwyseres. Die paartjie trek Johannesburg toe en was bekend om hul boheemse leefstyl.
Kort ná ’n partytjie is Herman met borspyne na die Edenvale- hospitaal geneem. Toe hy gevra is waar hy gebore is, antwoord hy: “Gebore in Kuilsrivier, sterf in Edenvale-hospitaal.”
Hy is ontslaan, maar het ure later ineengesak en is na dieselfde hospitaal geneem waar hy feitlik onmiddellik gesterf het.
Sestig jaar ná sy dood is die algemene opvatting steeds dat Herman Charles Bosman ’n romantiese, weerlose, soms rebelse siel was. Volgens sommige bronne was die moord op David ’n ongeluk, al is daar geen bewese rede om die hofuitspraak te betwyfel nie. Maar Bosman was ook onpeilbaar, onvoorspelbaar en roekeloos, dalk matig versteurd en obsessief oor die dood.
Om te bepaal in hoe ’n mate die lewe van ’n skrywer die subteks van sy of haar werk beïnvloed, is allermins ’n eksakte wetenskap; dis eerder futiel. In Bosman se geval blyk dit dat sy persoonlikheid eerder as sy lewe die grootste invloed op bepaalde nuanses in sy werk gehad het. Die “skadu’s” kan byvoorbeeld nie regstreeks in verband gebring word met die moord op sy stiefbroer nie. Dit wil voorkom asof sy tronkstraf vir Bosman meer traumaties was as dat hy iemand doodgeskiet het.
Bosman se lewe bewys hoe vreemd die werklikheid kan wees; veel meer as fiksie.
- Rapport