Breyten Breytenbach: leuenverklikker, manteldraaier of albinoterroris?
2010-01-23 15:01
Onlangs op die langpad lui my selfoon. Dis Georges Lory, vermaarde Frans-vertaler. Sy Afrikaans is lieflik.
Hy bel net om te sê hy is nou in Suid-Afrika as hoof van die Alliance Française en hy het Oorblysels, die jongste Breyten-bundel, in Frans vertaal. Voor ons uitsny, sê hy: “Breyten is die grootste beeld-digter in die moderne poësie.”
Dit is ’n besondere kompliment van ’n Franse leser, gegee die feit dat Breytenbach se werk moeilik vertaalbaar is.
Lory se opmerking laat my opnuut wonder of Breytenbach nie ’n klassieke voorbeeld is van ’n profeet wat nie in sy eie land geken word nie.
Afrikaanse lesers beleef sy digkuns dikwels as grillig en romanties. Maar dit rym nie met die sistematiese en oorwoë denkbeeld van die wêreld daarin nie.
En as politieke agent is hy kwansuis ’n manteldraaier, of hy word uitgekryt as “voormalige terroris” wat nou ’n Damaskus-ervaring het. Self glo ek hy is buitengewoon konsekwent, en eerder leuenverklikker vir al die mantels wat in die kas gedraai het.
Voorverlede week, nadat hy die Max Jacob-prys in ontvangs geneem het, wens ek hom per e-pos geluk en vra ook uit oor die sinergie en ooglopende ooreenkomste tussen Jacob en homself. (Dié Joods-Franse skrywer was, soos Breytenbach, digter én prosaïs én skilder; en ’n skakel tussen die simbolisme en surrealisme.) Die prys plaas Breytenbach in die geselskap van voormalige ontvangers daarvan wat skryf uit kwesbare kulture.
“Beteken dít die siening van Afrikaans as onderdrukkerstaal het oorsee verander?” vra ek.
“Ek het ’n paar toekennings gekry wat name dra wat vir my regtig tel. Die Jan Campert (genoem na die Nederlandse digter/versetstryder), in Italië die Malaparte en die Pier Paolo Pasolini, in Suid-Afrika die Alan Paton en nou die Max Jacob.
“Hierdie figure was gemarginaliseerd en kon as verstekelinge beweeg in ’n area van suiwer betrokkenheid deur skryfwerk.”
Hy sê die idee van “Afrikaans-as-gewas-van-apartheid” het nog ’n houvas (soortgelyk aan die een dat elke Arabier ’n terroris is), maar dié siening is aan’t verander.
“Die taal van die Nazi’s, Duits, was tog ook die taal van Paul Celan?” por ek hom aan.
“Natuurlik! As ’n taal gemeet moet word aan die rassisme in midde, is daar geen staanplek vir Engels, Frans, Russies of Chinees nie. Het Bettie du Toit en Bram Fischer en Adam Small en Van Zyl Slabbert en Beyers Naudé hulle nie van Afrikaans bedien nie? Met Alex la Guma kon ek slegs Afrikaans praat.”
Kyk ’n mens na die vorige wenners van die Max Jacob-prys, lyk dit asof die prys die sekularisering van kultuur aanmoedig. “Hoe vorder Suid-Afrika op die pad na ’n opregte moderne, sekulêre staat?” vra ek.
“Vir die ANC is demokrasie ’n sjibbolet, ten nouste verwar met eenpartymeerderheidsregering. En die staat as ‘geprivatiseerde’ lobola-koei word gemelk totdat sy huil van armoede,” sê hy.
“Die ANC is nié draer van moderniteit, opregte sekulêre waardes, afwenteling van mag en uitwissing van ekonomiese onregverdighede nie. En hierin is dit fundamentalisties: alleenbesit van mag, straffeloosheid en patronisering.”
Maar hy voeg tog by: “Die vraag is, met hierdie kreeftegangkennis, sou ek hulle steeds ondersteun het teen apartheid? Beslis!”
Dié opmerking bring ons by die skreiendste mistasting, toe hy onlangs deur rassiste in die pers uitgekryt is dat hy nou eers sou sien apartheid was nie ’n fout nie! Ook Jakes Gerwel betreur onlangs in sy Rapport-rubriek dat “baie wit intellektuele” deesdae “regs voorkom”.
“Jammer, maar ek het geen simpatie met sulke sedeleerders (ek noem hulle sommer boudestoeiers) nie. ‘Regs’ is veronderstel om in te staan vir ‘rassiste’ wat ons polities korrekte paradys probeer ondermyn. Hoekom sê Gerwel nie reguit ’n aantal wit skrywers het vir Chris Louw tot selfmoord aangehits sodat hulle sy lyk op die ANC se stoep kon gooi nie?
“En terloops die ANC het g’n vir Suid-Afrika ‘bevry’ nie. Hulle het dit oorgenéém. Ek hoop een het FW se lighter as aandenking gekry.
“Dis druk van binne – van die civics, vakbonde, kerke, wat die strukturele geweld daagliks aan die bas gevoel het – wat dit verander het,” gaan hy voort, nou goed warm onder die kraag.
“Die tragedie is dat die buitelandse vleuel van die ANC met die oorname slimmer as tien Manuels was. As toegif is die wittes ontslaan en hulle kinders noodgedwonge landuit. En die werklike ramp is die ellende veroorsaak deur die Gucci-comrades.”
Dis miskien hartstogtelike taal soos hierdie wat sommige laat glo dat Breytenbach een is wat graag alleen staan, eerder kritiseer as saamwerk of terugploeg. Tog is hy baie aktief in ’n groep wat hulle beywer vir ’n nuwe vrye Afrikaanse universiteit – bied selfs aan om gratis by so ’n universiteit klas te gee.
Hierin deel hy duidelik die siening dat die Universiteit van Stellenbosch se argumente waarom hulle Afrikaans afskaal, naamlik om meer bruin en swart studente te lok, vals is.
“Stellenbosch word merendeels ’n wit, Engelstalige universiteit. Kom ek gooi ’n klip in die Bosch – Stellenbosch gee nie ’n trippens om vir bruin of swart studente nie. Dis belangrik dat moontlikhede gebied moet word aan ’n geslag wat nie die voorregte van ’n Emma Malema het nie. Maar om te slaag móét so ’n inisiatief gedryf word deur die burgerlike samelewing met steun van die private sektor.”
Hy het dit veral teen die hegemonie van, wat hy noem, “een kaktaal”.
“Diversiteit, en die voortdurende opskerping wat voortvloei uit die interaksie tussen minderhede en die geheel, is progressief en in teenstelling met die verstokking van ’n hegemoon van ‘oorwinnaars’. Vergeleke met die res van die wêreld, is Msanzi agter die klip.”
Hierdie aandrang dat daar meer gedoen moet word om die regte van minderhede in Suid-Afrika te beskerm, is ’n ontluikende tema in Breytenbach se onlangser politieke geskrifte.
Dis egter ’n idee wat al erge teenstand, nie die minste van Afrikaner-elites nie, gekry het. (Hermann Giliomee skryf hoe Afrikaanse sakeleiers en die filosoof Willie Esterhuyse in 2000 pres. Thabo Mbeki gewaarsku het teen “ondermynende neigings” soos minderheidsregte.)
“Is dit nie tyd vir ’n waarheidskommissie oor die fasiele en selfsugtige begrippe wat pseudobevryding meegebring het nie?” vra ek moedswillig.
“Jy terg my nou,” sê Breytenbach.
“Jy behoort te weet van die hoë agting wat ek koester vir die wittes wat met die oë klam van ’n nuutgevonde patriotisme aan die baas se voete sit, wat vergeet het dat hulle gister vir die Nattes gewerk het of hul geld uit die Afrikaners gemaak het.”
“Natuurlik het ons ’n diepgaande ‘waarheidskommissie’ nodig. En ’n bestekopname van wat gewerk het en wat nié.
“Soos elders in Afrika sal ons nuwe modelle moet beding wat meer ruimte bied.”
Hy het ook ’n probleem met die would-be whites én dié wat smeek om swart te mag wees.
As jy in minderheidsruimtes glo, waarom gun jy nie vir pres. Jacob Zuma sy vele vroue nie? Poligamie is tog ’n minderheidsgebruik, terg ek terug.
“Minderheidsgebruik? Dis nie ’n minderheidsgebruik nie. Wat van Steve Hofmeyr? Poligamie as institusie is wel diskriminasie. Hoekom dan nie veelmannery wettig nie?”
Daar is egter iets wat hom selfs meer ontstel: Die wit tekkies wat die president tydens sy troue gedra het. “Ek wil aanmekaar glo dis deur een of ander groothandelaar geborg. Dalk Shaik’s Shozoloza Shoes?”
Prys van 'n naam wat regtig tel
Die Max Jacob-prys is een van Frankryk se belangrikste literêre
pryse en genoem na Max Jacob, ’n Frans-Joodse skrywer en kunstenaar wat
in 1944 in ’n Nazi-konsentrasiekamp gesterf het.
Dit word sedert 1950 elke jaar aan twee digters toegeken.
Die Franse digter Bernard Mazo was vanjaar die ander ontvanger van die prys.
Breytenbach is vereer vir Outre Voix, die Franse vertaling van sy bundel Oorblyfsel/Voice Over.
Charl-Pierre Naudé is ’n digter.
Hy sou wéér die ANC in hul stryd teen apartheid ondersteun, het Breyten Breytenbach aanCharl-pierre Naudégesê.
En terloops die ANC het g’n vir Suid-Afrika ‘bevry’ nie. Hulle het dit oorgenéém. Ek hoop een het FW se lighter as aandenking gekry.
- Rapport