Briewe uit die dodesel of politieke pamflette?

2012-04-07 13:04

Jopie Fourie. Is die vergeelde briewe wat ’n Nederlander in ’n ou boek gekry het werklik syne?

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

In ’n koue sel met die stille wete dat sy lewensure getel is, sit ’n man by kerslig en skryf sy laaste briewe.

Sommige noem hom ’n held; ander ’n verraaier.

Sy pen griffel oor die papier terwyl hy sy hart uitstort: oor sy frustrasie, woede en sy eie gevoelens van verraad. Hy skryf aan sy vrou, sy familie, die eerste minister en sy volk.

Die man is Jopie Fourie. Min sou hy weet watter impak sy briewe en lewe ná sy dood sou hê.

Bykans 100 jaar later help Bert Koppers om boeke te sorteer in ’n tweedehandsboekwinkel in Claremont, Kaapstad. Dis 1999 en Suid-Afrika se jong demokrasie het ’n uittog van emigrante tot gevolg.

Voor Koppers is die resultaat: bokse en bokse vol boeke – duisende boeke wat die emigrante nie wil saampiekel na hul nuwe tuiste in Kanada of Australië nie.

Koppers, ’n Nederlandse omgewingsbestuurskonsultant, het Kaapstad sy basis gemaak van waar hy reis en werk. Sy vrou werk ’n paar dae per week by ’n tweedehandsboekwinkel en Bert, wat ’n hele paar tale praat, help graag in sy vrye tyd.

Terwyl hy buk om nog ’n stapel boeke uit ’n boks te haal val ’n paar velle papier uit een van die boeke.

Sy hand maak ’n vuis om die paar velle op te frommel en in die snippermandjie te skiet, maar iets trek sy aandag.

“Die velle papier was duidelik baie oud, geel en verweer,” onthou Koppers, wat deesdae weer in Arnhem in die ooste van Nederland woon.

“Die ander ding wat my aandag getrek het, was die taal. Dit was in Nederlands, my moedertaal.”

Tog het Koppers effe gesukkel om die “Hooghollands” te lees en die blaaie opsy gesit om later rustig by die huis te lees.

Daardie aand, oor ’n glasie rooiwyn, begin hy en sy vrou die briewe ontsyfer.

“Dit was nogal moeilik en ons het gesukkel. Aanvanklik het ons nie verstaan waaroor dit gaan nie. Stadigaan het die vier velle papier se inhoud duidelik geword. Dit was werklik roerend,” onthou Koppers.

Die Koppers-egpaar het nie die Suid-Afrikaanse geskiedenis rondom die Eerste Wêreldoorlog geken nie en het aanvanklik gesukkel om die briewe in historiese konteks te plaas. Maar die stukke van die legkaart het mettertyd in posisie geval en hulle het besef dat die briewe moontlik deur Jopie Fourie geskryf is.

Koppers het destyds ’n paar keer navraag gedoen by historici om te hoor of hulle belangstel in die briewe, maar weinig reaksie gekry.

“Ek het nie werklik geweet wat om met die briewe te doen nie, maar wou dit ook nie weggooi nie. Ek besef dit het geskiedkundige waarde vir sommige mense. Op ’n emosionele vlak is dit roerend. Dis ’n man se laaste gedagtes terwyl hy wag op sy teregstelling.”

Koppers sê dis boonop vir hom interessant dat mense geneig is om belangrike of sentimentele foto’s, koerantuitknipsels, briewe en dokumente in boeke te bêre. Boeke is eeue lank al gebruik as wegsteekplekke. Die Fourie-briewe is duidelik deur ’n familielid of vriend daar gebêre.

Jare lank het Koppers nie veel aandag aan die briewe gegee nie en dit in ’n kas gestoor.

Verlede jaar het hy dr. Conrad Steenkamp, ’n Suid-Afrikaanse konsultant, ontmoet.

Steenkamp, wat verlangs ’n afstammeling van Fourie is, het hom aangemoedig om die briewe aan ’n geskiedkundige instituut in Suid-Afrika te skenk.

Koppers wil dit doen, maar wil graag antwoorde hê op vrae wat hom jare lank pla.

Wie het die briewe uit die tronk verwyder? Wie het die briewe al die jare besit? Het Louis Botha ooit die brief wat aan hom geadresseer is, gekry? Wat was sy reaksie daarop? Hoe het die briewe in ’n boekwinkel in Kaapstad beland?

Daar is vier dokumente: ’n brief deur Fourie aan genl. Louis Botha en drie afskrifte van ander briewe wat Fourie aan sy vrou en sy volk geadresseer het. Daar is ook ’n gedig, maar Koppers vermoed dit is deur ’n familielid of nabye vriend geskryf. Dié bladsy toon die naam van ’n hotel êrens in Bloemfontein.

Volgens die skrywer van die boek Jopie Fourie: ’n lewenskets (1940) deur J.M. de Wet, ’n vriend van Fourie, kon die oorspronklike brief wat hy aan Botha geskryf het nooit opgespoor word nie.

Prof. Albert Grundlingh, voorsitter van die departement geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch en skrywer van ’n onlangse boek oor die Rebellie van 1914, meen die brief lyk outentiek, maar dis ’n absolute raaisel hoe die brief so in ’n boek beland het. Hy sê as jy die brief vergelyk met ’n afskrif daarvan in G. Jordaan se boek Hoe zij stierven, wat in 1917 verskyn het, is dit opmerklik dat dit feitlik woordeliks ooreenstem.

“Ek dink die kans is goed dat die brief in Koppers se besit outentiek is. Om 100% seker te maak moet ’n mens egter die handskrif professioneel laat ontleed.”

Nog ’n historikus, prof. Hermann Giliomee, het die brief se handskrif met sy eie bronne van Fourie se geskrifte vergelyk en sê dis moeilik om te oordeel of die Koppers-briewe wel eg is.

“Ek dink dis ’n vervalsing, maar ’n baie goeie een.”

Prof. Fransjohan Pretorius van die departement geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, sê dis moontlik dat die briewe nie die oorspronklikes is nie, maar “tydgenootlike afskrifte”.

“Destyds was die Afrikaner­nasionaliste bitter ontsteld en verontwaardig oor genl. Jan Smuts se goedkeuring dat Fourie tereggestel word, en om die gemoedere op te sweep is talle kopieë van sy vier briewe gemaak en geesdriftig soos ’n kettingbrief versprei.”

Of die briewe eg is of nie, Koppers meen dit is steeds ironies dat hulle gevind is in ’n boek van ’n emigrant wat nie kans gesien het vir die nuwe Suid-Afrika nie – net soos Fourie nie kans gesien het vir ’n Suid-Afrika wat na Brittanje se pype dans nie.

Geskiet 4 dae ná hy gevang is

Josef Johannes (Jopie) Fourie is op 27 Augustus 1878 in die distrik Pretoria gebore.

Tydens die mislukte Jameson-inval – ’n belangrike voorteken van die dreigende Boereoorlog wat in 1899 sou uitbreek – het die 17-jarige Jopie onder kommandant Piet Roos gedien. Hy het ’n sentrale rol in dr. Leander Starr Jameson se oorgawe gespeel toe hy op ’n perd met ’n wit vlag na Jameson se stellings gery het om ’n brief aan hom te oorhandig.

Tydens die Anglo-Boereoorlog was hy ’n verkenner en rapportryer en is hy noord van Pretoria gewond en gevange geneem.

Ná die oorlog het hy by die Burgermag aangesluit en met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het hy hom by rebelle geskaar wat kapsie gemaak het teen die eerste minister, Louis Botha, en sy kabinet se besluit om Duits­wes-Afrika binne te val om die Britse oorlogspoging te steun.

Fourie, ’n kaptein in die 13de Berede Skutters, het hom by die rebelle aangesluit sonder om uit die weermag te bedank of sy rang neer te lê en is op 16 Desember 1914 saam met sy jonger broer, Johannes Petrus Fourie, en 43 ander rebelle naby Rustenburg gevange geneem. ’n Veldkrygshof het hom skuldig bevind aan hoogverraad.

Verskeie Afrikanerleiers, onder wie genl. Piet Joubert se weduwee, het daarna alles in die stryd gewerp om sy lewe te red. Genl. Jan Smuts, die destydse minister van verdediging, het egter geweier om enige van die pleitbesorgers te woord te staan.

Op Saterdag 19 Desember 1914 is Fourie in kennis gestel dat hy teen sonsopkoms die volgende dag voor ’n vuurpeloton sou sterf. Hy is daarna na die Pretoriase gevangenis gebring, waar hy die nag deurgebring het deur te bid en briewe te skryf aan sy vrou, familie, genl. Louis Botha en sy volk.

Een van dié aan sy vrou lui soos volg: “Aan my dierbare vrou, Susanna Fourie, van haar ou Jopie. Vertrou op die Here, van ganse harte! God sal met ons wees tot ons mekaar weer sien, geliefde!”

Die vonnis is om 04:45 die volgende oggend voltrek. Hy was die enigste van die rebelle wat tereggestel is.


Elise-Marie Tancred is ’n vryskut­joernalis wat in Londen woon.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
44 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Nuutste Nuus-kommentaar

Jurie Van Wyk sê... Sjoe die d'aam kwaai Lees die storie...

Weer
Lotto
Ksd: 15-23°C Sunny. Mild. Pta: 10-19°C Morning clouds. Mild.
Jhb: 7-15°C Morning clouds. Cool. Bfn: 9-19°C More sun than clouds. Mild.
Dbn: 14-23°C Sunny. Mild. PE: 12-24°C High level clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Cost Accountant

Midrand
Communicate Cape Town IT
R600000 - R700000

Costing Manager

Midrand
Communicate Cape Town IT
R450000 - R500000

Senior Actuarial Specialist

Cape Town Northern Suburbs
Communicate Cape Town IT
Market Related

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Winchester Mansions

Spend 3 nights at Winchester Mansions from R3 330 per person sharing and pay for 2 nights. Includes accommodation, return flights, car rental and Local Travel Insurance.

Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Drama- & liefdes-DVD’s – 2 vir R99

Moenie ons spesiale aanbiedinge van liefdes- en drama-DVD’s, wat jou ure voor jou skerm vasgenael sal hou, misloop nie. Die aanbod is geldig vir solank daar voorraad is. Koop nou.

Eksklusiewe spesiale aanbod op Wii U

Spaar R999 op hierdie wonderlike aanbod: Wii U 8GB-konsole, basiese pakket, + ’n bykomende stel + Nintendo Land. Nou net R4399.95. Solank daar voorraad is. Koop nou!

Opruimingsuitverkoping! Spaar tot 60%

Besoek ons opruimingsuitverkopingwinkel vir asemrowende aanbiedinge en spaar tot 60%. Solank daar voorraad is. Koop nou!

Witwarm winskopie van die week! Bespaar R2000 op die Samsung Galaxy SIII

Kry die Samsung Galaxy SIII vir slegs R4999.95. Dit is ontwerp vir die mens, maar geïnspireer deur die natuur. Word binne 24 uur versend. Terwyl voorraad hou. Koop nou!

Dan Brown’s se jongste roman, Inferno

In Dan Brown se nuwe roman, Inferno, is die Harvard-simboolkenner Robert Langdon weer aan die stuur van sake. Dit speel af in die hartjie van Europa, waar Langdon ingetrek word in ’n raaisel rondom een van die geskiedenis se oudste en geheimsinnigste literêre meesterwerke. Die langverwagte roman word vandeesweek uitgereik. Plaas jou bestelling nou!

Witwarm Weber-aanbod!

57cm kompakte braaitoestel + GRATIS deksel + GRATIS visbraaier vir R1299.95. Solank voorraad beskikbaar is. Stel nou ondersoek in.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

There are new stories on the homepage. Click here to see them.