Broers se stille roem

2011-08-13 18:49

Driese wys na 'n afdruk van 'n foto wat die bekende fotograaf Roger Ballen in 1993 van hom en sy broer Casie geneem het en aan hulle gegee het. Dié afdruk is op 'n kasdeur in hul kamer geplak. Foto: Herman Verwey

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Verlede Oktober het twee 53-jarige mans, die tweeling Casie en Driesie, in ’n tehuis vir gestremde bejaardes op ’n dorpie in Noordwes ingetrek.

Hul broer en skoonsuster, wat hulle vroeër op ’n dorp in die suide van Namibië versorg het, het self ouer begin raak en besef iemand moet heeltyds na die tweeling kyk. Albei is stom en luidens ’n ou psigiatriese verslag in hul lêer is hulle op die verstandelike peil van vyfjariges. Hulle sukkel onder meer om hul speekselkliere te beheer en elkeen dra heeldag ’n sakdoek in hul hande vasgeklem om gedurig hul kenne af te vee. Ondanks al hul beperkinge, het hulle in die harte van hul nuwe versorgers ingekruip. Hulle deel drukkies uit, lag heeltyd en maak opgewonde geluide wanneer iemand met hulle probeer kommunikeer.

“Driesie is die meeste dae besig om met te tolletjie te brei en Casie vee maar gedurig voor die stoep,” sê die tehuis se bestuurder. “En die dag as hulle lus is om net te sit, dan sit hulle net.”

Seker niks ongehoords vir die inwoners van so ’n tehuis nie, behalwe vir een opvallende verskil. Teen die kasdeur in hul slaapkamer het Casie en Driesie ’n swart-en-wit foto opgeplak van hulle toe hulle omtrent 20 jaar jonger was. Uit die komposisie kan mens aflei dit is deur ’n professionele fotograaf geneem. Maar die tweeling, wat gewoonlik saggeaard en netjies is, lyk op die foto kwaai en agterdogtig. Hul klere is vuil en hul hare deurmekaar. Speeksel drup vryelik van hul gesigte. Dié foto, so blyk dit, is die rede dat Casie en Driesie waarskynlik hul dorp se twee beroemdste inwoners is.

Die foto is in 1993 deur die fotograaf Roger Ballen geneem en ’n jaar later in sy boek Platteland: Images of Rural South Africa gepubliseer.

Platteland, een van die mees omstrede fotoboeke nóg uit Suid-Afrika, was vol foto’s van arm en verwaarloosde mense (’n man met ’n vark in sy arms, afgeleefde mense op vuil matrassies…) en in die herrie wat op die publikasie gevolg het, het kritici gekla hy beeld Afrikaners as agterlik uit.

Platteland het wêreldwyd aandag getrek. Die foto’s is in talle lande uitgestal, word na verwagting binnekort weer uitgegee en in al die debatte het veral een foto aandag getrek.

As jy “Casie Dresie Western Transvaal” op Google intik (Ballen spel Driesie se naam met ’n “i” te min) vind jy artikels uit The Guardian, op Wikipedia en ’n magdom kuberwerwe wat bespiegel oor wie dié twee is.

In die Australiese The Age skryf Gabriella Coslovich ná ’n uitstalling in dié land: “The image provokes an uncomfortable rush of thoughts and emotions.”

Ballen het deur die jare deurgaans geweier om te sê wie dié twee is.

“Ek word al jare oorval deur mense wat oor hulle wil weet,” het hy onlangs weer aan Rapport gesê. “Elke week bel iemand om te hoor of hulle die foto op ’n tamatiesousbottel of iets kan gebruik. Ek het al duisende foto’s in my lewe geneem, maar ek gaan waarskynlik net vir dié een onthou word.”

Dis moeilik om te glo die twee mense wat nou in ’n tehuis in Noordwes woon, is dieselfde twee as op die foto. Die regtige Casie en “Dresie” lag aanhoudend. Veral Driesie is byna obsessief netjies en pak gedurig sy klerekas reg.

Hulle is in Namibië gebore, maar het as volwassenes ’n ruk lank by hul ma in ’n dorpie in die destydse Wes-Transvaal gewoon. Met haar afsterwe 16 jaar gelede is hulle terug na Namibië om deur familie versorg te word.

Niemand is heeltemal seker wat hulle makeer nie, sê Alida, hul skoonsuster. “Die mense het hul afwyking eers op vier maande agtergekom. Die dokters het gesê die breinselle wat jou spraak, hande en speeksel beheer, daardie selle is dood by hulle.”

Van kleins af was hulle soos Jakob en Esau – Driesie het hul ma rondgevolg, terwyl Casie in die tuin gewerk het. Alida vertel: “Eintlik is hulle baie intelligent. Driesie het al my outomatiese wasmasjien gebruik – hy weet wanneer dit ophou en hy kan die wasgoed ophang. En Casie kan ’n elektriese plug omruil.”

Ook die personeellede van die tehuis sê dit lyk of die twee stommes meer van hul wêreld begryp as wat mens met die eerste oogopslag sou raai.

“Hulle sit soms Sondae die radio aan om na die kerkdiens te luister,” sê die bestuurder.

Só dryf hulle sielig deur hul dae. Net as hul skoonsuster uit Namibië bel, raak hulle treurig. (“Dan is dit snot en trane.”) En as hulle weemoedig voel, wys hulle soms vir iemand ’n foto van hul oorlede ma en beduie met die plat hand langs die gesig dat sy gaan rus het.

Ballen is ’n Amerikaner van geboorte. Tydens die Viëtnam-oorlog het hy naam as fotograaf begin maak met sy beelde van die destydse protesbeweging. Toe hy in die 1980’s plattelandse dorpe in Suid-Afrika begin afneem het, het die gevolglike boeke soos Dorps en Platteland hom internasionale aansien besorg. Die rockgroep Die Antwoord het onder meer hul voorkoms op sy werk gegrond.

Onlangs het hy ingestem om aan Rapport vir die eerste keer te vertel hoe hy die foto geneem het. Sy weergawe lui soos volg:

“Ek was met my vrou en kinders op ’n wildplaas. Ek het dorp toe gery en vir Casie in ’n tuin gesien. Ek het uit die motor geklim en hom gegroet. Ek weet nie hoeveel hy verstaan het nie, hy het nie goed gepraat nie. Ek het sy ma toestemming gevra en hom teen die muur laat staan om ’n foto te neem. Meteens het ek van ’n skadu bewus geraak. Toe ek omdraai, sien ek sy broer. Dit was ongelooflik. Sulke sterk figure. Die een se hemp was skoon en die ander s’n vuil. Ek het hul ma gevra hoekom dit die geval was en sy het gesê die een werk heeldag in die tuin en die ander een in die huis.”

Die twee se familie vertel egter ’n ander storie en beweer hul ma het eers besef wat gebeur het toe sy in ’n koerant van die omstredenheid gelees het. Die familie sê ook sy was hartseer oor die onwaardige uitbeelding van haar gestremde seuns, ’n uitbeelding waaruit hulle self geen geld verdien het nie.

Hulle weet van die spottende kommentaar wat meestal op die internet gelewer word, sê Alida, en dit maak hulle seer.

Ballen het vandeesmaand laat weet hy staan by sy weergawe van die gebeure. Hy sê die foto wat tans teen Casie en Driesie se kasdeur opgeplak is, is een wat hy vir hulle gegee het.

Met hul moeder se dood kort daarna is die twee egter Namibië toe en het die debat, die media-soektog en Ballen in die vergetelheid geraak. In die daaropvolgende 16 jaar was daar min mense in hul onmiddellike omgewing wat geweet het presies hoe bekend dié stil tweeling is.

Sommige dae bring Casie en Driesie hul tyd deur in ’n huis aan die anderkant van die dorp waar ’n groep ander volwassenes met geestelike gestremdhede bly.

Van buite lyk dit soos ’n gewone woonhuis: Die werf is groot en twee honde speel buite in die somerson. Een van die honde het net een oog. Net oorkant die heining begin die Noordwes-wintergrasveld. Met Driesie en Casie wat self nie kan praat nie, is dit doodstil waar hulle afgemete stap en die wêreld met nuuskierige groot oë beloer.

Driesie het ’n spesiale talent, sê een van die versorgers. Die mense gaan staan om hom sodat hy dit kan illustreer. “Bid, Driesie,” vra een. Driesie knyp sy oë styf toe en frons soos iemand wat hard konsentreer. Sy tandelose mond rek wyd en hy begin onverstaanbare geluide maak, so ’n bietjie soos ’n kind wat al weet wat hy wil sê, maar nog sukkel om die woorde reg te vorm.

“Ahhhh-hêm,” roep hy as hy klaar is en meteens gaan sy oë oop. Mense lag en klap hom op die rug. “Dis hoe hy amen sê,” sê iemand.

En Driesie straal van trots.

Casie en Driesie se van en die besonderhede van die tehuis waar hulle versorg word, word verswyg om hul privaatheid te beskerm.

* Ballen het net ’n beperkte aantal afdrukke van dié foto gemaak wat almal verkoop is. In kunskringe word vertel dat Elton John onlangs so ’n foto wou koop en bereid was om $100 000 te betaal, maar niemand wou hul afdruk verkoop nie.



Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
29 reaksies
Kommentaar is gesluit vir hierdie artikel

binne rapport

Weer
Ksd: 13-16°C Showers late. Afternoon clouds. Cool. Pta: 4-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 6-18°C Sunny. Mild. Bfn: 2-22°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-24°C Sunny. Mild. PE: 10-26°C Morning clouds. Pleasantly warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!