Daar ís lig aan die einde?

2012-12-02 00:28

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Wat ’n jaar!

Van Marikana tot die globale ekonomie, The Economist se artikel oor Suid-Afrika se ondergang, die nasionaliseringspoke, die afgraderings deur die kredietgraderingagentskappe en arbeidsonrus op plase.

Dit alles speel af teen die agtergrond van toenemend teenstrydige ANC-beleid, sommige staatsdepartemente wat soos siwwe geld laat lek en ’n regerende party wat hom al hoe meer van sy ondersteuners vervreem.

Gegewe dit alles, wat hou die toekoms vir ons in? Is ons op ’n draaipunt of op die rand van die afgrond?

Verrassend genoeg was daar nie veel teenkanting teen The Economist se verdoemende artikel nie. Miskien het die tydskrif net herhaal wat baie plaaslike skrywers al lankal sê.

Dat daar nie juis kritiek op die artikel was nie, beteken dat al hoe meer mense besef Suid-Afrika boer agteruit – miskien nie op álle terreine nie, maar wel waar dit saak maak. Tog is van ons grootste bates, soos ’n op en wakker pers en burgerlike samelewing, kerngesond. Ook bly Suid-Afrikaners lankal nie meer lê terwyl die houe op hulle reën nie.

Dink maar aan die manier waarop die Regterlike Dienskommissie (RDK) aangevat word nadat hulle adv. Jeremy Gauntlett die vierde keer vir die regbank oorgesien het, en die organisasies wat die regering hof toe gesleep het oor die nie-aflewering van skoolhandboeke in Limpopo.

Nog voorbeelde is AfriForum se stryd teen die ANC se sing van “skiet die boer” en Jabu Mabuza, Telkom se nuwe voorsitter, wat sê hy gaan nie regeringsinmenging duld nie.

’n Krisis?

Die agteruitgang word dikwels met pres. Jacob Zuma se presidentstermyn geassosieer, maar dit het begin lánk voordat hy staatshoof geword het. Ook is dit nie net Suid-Afrika wat ’n tekort aan leierskap het nie.

Hoewel lewenstandaarde hier toegeneem het, is ons werkloosheidsyfer selfs hoër as dié van Griekeland wat ’n erge ekonomiese krisis beleef. Danksy antiretrovirale middels is ons lewensverwagting aan die styg, maar ons onderwysstelsel en staatsdiens vaar vrot, misdaad en korrupsie neem toe en openbare gesondheidsorg is skan­dalig.

Zuma sê daar is nie ’n krisis nie. Hy is in ’n sekere sin reg, maar dít is juis deel van die probleem. In ander lande sou koppe gerol het ná ’n voorval soos Marikana. Maar nie hier nie. Tot en met Marikana het dinge “normaal” gelyk, maar nou dink sommige dít was die keerpunt. Is hulle reg?

Marikana

In die oë van die buiteland was Marikana sekerlik ’n keerpunt wat betref hul persepsies oor die land en die ANC. Voorheen sou die buitewêreld altyd die ANC die voordeel van die twyfel gegee het. Nie meer nie.
Negatiewe buitelandse persepsies het ’n invloed op ons ekonomie omdat dit tot laer investering lei.

Maar kan ons enige beleidsveranderings te wagte wees?

Kom ons begin by die polisie. Mens moenie mislei word deur kosmetiese kwessies soos of die polisie bekend staan as ’n “mag” of ’n “diens” nie. Wat tel, is die kultuur, verantwoordbaarheid en leierskap. En dit hou verband met die manier waarop senior offisiere bevorder word en of aanstellings op meriete en ervaring gegrond is. Voor dit kan gebeur, sal die ANC van regstellende aksie en kaderontplooiing moet afwyk.

Dieselfde geld aanstellings in plaaslike regerings. Die onbekwaamheid van munisipaliteite in Noordwes is immers deels verantwoordelik vir die Lonmin-mynwerkers se haglike lewensomstandighede.

Marikana het arbeidsverhoudinge – nie net vir die mynbedryf nie, maar vir die hele ekonomie van belang – opnuut onder die vergrootglas geplaas.

Kollektiewe bedinging beperk buigsaamheid, verminder mededinging en prys ongeskoolde arbeid uit die arbeidsmark, veral die ongeskoolde jeug.

(’n Slim regering sou die feit dat vakbonde nou op die agtervoet is, uitbuit deur van hul voorregte in die Wet op Arbeidsverhoudinge te verwyder.) Maar ’n verswakte Cosatu en ’n swak regering gaan dit toenemend moeilik vind om arbeidswetgewing af te dwing. Hulle kan eindelik geen ander keuse hê nie as om wetgewing te verander om vir die nuwe werklikhede op grondvlak voorsiening te maak.

Selfs min. Ebrahim Patel, Cosatu se man in die kabinet, en min. Rob Davies, wie se kiesafdeling De Doorns insluit, blyk nou vir ’n meer buigsame arbeidsomgewing te vinde te wees.

Die NDR

Die ANC se nasionale demokratiese revolusie (NDR) bestaan uit vyf komponente: ekonomies (die radikale herverdeling van rykdom, inkomste en grond), ras (regstellende aksie), politiek (kaderontplooiing), nasionalisme (Afrikane moet in die politieke, sosiale en ekonomiese sfere in beheer wees) en ideologie.

Die NDR kom neer op diepliggende partybeheer en toenemende beheer oor die ekonomie deur die private sektor vir ontwikkelingsdoelwitte in te span. Sou dít misluk, is daar altyd sosialisme om op terug te val.

Maar hoe verder die NDR in werking gestel word, hoe meer gaan die ekonomie en die demokrasie daaronder ly. En net soos met apartheid gebeur het, net so gaan die NDR stelselmatig afgetakel word.

Die NDR veronderstel die ANC kan die ekonomie beheer, plaaslike regering regruk, ’n groeiende bevolking voed, armoede takel, ’n welsynstaat finansier, elektrisiteit opwek én werk skep sonder om die onderwysstelsel reg te ruk, wit mense se vaardighede te benut, die staatsdiens in ’n professionele werksomgewing te verander en ’n sake-vriendelike klimaat te skep. Dit is onmoontlik.

’n “Gebrek aan kapasiteit” het intussen ’n gerieflike manier geword waarop die ANC sy “uitdagings” verwoord, maar eintlik is dit maar net die nagevolg van kaderontplooiing en rasse-ideologie. Al hoe meer mense begin dit insien – van media-kommentators tot sekere amptenare in die staatsdiens.

Nadat apartheid gedisintegreer het, het die Nasionale Party niks meer gehad om in te glo nie. ’n Soortgelyke risiko staar die ANC in die gesig namate die ondersteuning vir sy revolusionêre ideologie weggevreet word.

Geloofwaardigheidskrisis


Behalwe as iets onvoorsiens gebeur, gaan die ANC later vandeesmaand Zuma as leier herkies – ’n man wat, soos baie ANC-lede glo, agter tralies behoort te wees. Dit is dieselfde man wat die ANC nie wil blootstel aan ’n mosie van wantroue nie in ’n parlement waar hulle ’n tweederdemeerderheid het.

Maar ’n geloofwaardigheidskrisis staar nie net Zuma in die gesig nie. Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, is onder beleg deur sommige van die einste werkers namens wie hy praat. Talle ANC-raadslede loop onder geweld­dadige aanvalle deur. Durban bestee reeds R18?miljoen aan lyfwagte om sy raadslede op te pas.

Voorts is dit onwaarskynlik dat die ANC gaan afsien van sy onvolhoubare beleidsbesluite voordat daar nog skade gedoen is. Soos Wladimir Poetin, sal die ANC probeer om onafhanklike nie-regeringsorganisasies te vernietig en sal hy nog mag vir homself toe-eien.

Maar daar is perke aan hoe ver die ANC kan gaan in ’n situasie waar sy beleidsbesluite die staat verswak en sy geloofwaardigheid stelselmatig weggekalwe word – deels deur korrupsie en deels deur hoe die ANC as party funksioneer.

Daar is talle voorbeelde van hoe die ANC van sy ondersteuners vervreem raak.

Weens die kiesstelsel en kaderontplooiing is die parlement ver verwyder van die mense. Vroue word vervreem deur die Wetsontwerp op Tradisionele Howe, regslui deur die Wetsontwerp op Regspraktisyns en akademici deur dr. Blade Nzimande se planne om by universiteite in te meng.

Die onderwysstelsel is ook besig om die ANC te sink. Voormalige model C-skole word gedwing om meer leerlinge van townshipskole in te neem en daar is planne om graadkursusse tot vier jaar te verleng.

Daar is konferensies, komitees en planne – dít terwyl almal weet die enigste manier om die onderwys reg te ruk is om oorlog te verklaar teen die onderwysvakbond Sadou.

Toe apartheid in duie gestort het, het dit nie ’n vakuum gelaat nie. Ook is die post-apartheid-Grondwet nie in ’n vakuum geskryf nie, maar berus op liberale idees van regdeur die politieke spektrum. Soortgelyke energie en moed word vereis om alternatiewe vir die ANC se NDR en ander beleidsbesluite te bied.

’n Lang stryd lê voor

Die Instituut vir Rasseverhoudinge het al in 1984 vir die ontbanning van die ANC en die PAC gevra en die vrylating van politieke gevangenes versoek.

In daardie jare het ons gehore van New York en Chicago tot Londen oortuig apartheid is op pad uit.

Toe byna almal in 1987 voorspel het die land stuur op ’n gewelddadige revolusie af, het ons gesê Suid-Afrika is nie op die rand van die afgrond nie, maar op die rand van onderhandeling.

Ons het dit met selfvertroue gedoen, want ons het geweet die Nasionale Party het geweet hy is in ’n doodloopstraat.

Daardie proses vir ekonomiese en politieke bevryding het op die lang termyn stamina vereis.

Die stryd teen die nasionale demokratiese revolusie gaan soortgelyke energie verg. Dit gaan vereis dat ons opstaan vir die Grondwet en die liberale instansies wat ons reeds het.

Dit gaan ’n stryd op die lange duur wees, só ook om ons agteruitgang te stuit en om te keer.

Wat die instituut betref: Ons het tydens apartheid die stamina gehad en ons het dit steeds! Hierdie is ’n geredigeerde weergawe van ’n toespraak wat John Kane-Berman, ­hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, op 21 November gelewer het.

Die krisis by Marikana en ander Suid-Afrikaanse myne kan ’n draaipunt in Suid-Afrika se politiek verhaas, reken die skrywer.

Maak só om SA beter te maak


Wat kan gedoen word om Suid-Afrika ’n beter land te maak? Ons het tien voorstelle vir ’n doeltreffende staat:

1. Skep ’n professionele staatsdiens deur kaderontplooiing en regstellende aksie te skrap. Dit sal dienslewering verbeter.

2. Desentraliseer die regering en laat die staat net die nodigste doen. Hoe kleiner die staat, hoe minder mense om om te koop.

3. Maak parlementslede verantwoordbaar aan die kiesers, nie hul partye nie. Doen dit deur die parlement in twee huise met gelyke magte te verdeel waar 200 LP’s deur regstreekse en 200 LP’s deur proporsionele verteenwoordiging aangewys word.

4. Verkoop die Suid-Afrikaanse Lugdiens en ander staatsondernemings op ’n veiling.

5. Voorsien in die vraag na private skole deur soveel moontlik openbare skole op ’n veiling aan nie-regeringsorganisasies, skoolbeheerliggame, maatskappye en kerke te verkoop. Laat hulle onder mekaar meeding vir leerlinge wat met staatskoeponne vir hul skoolgeld betaal.

6. Verkoop staatshospitale en -klinieke aan plaaslike en internasionale hospitaalgroepe. Bevorder private siekefondse en gee die armste burgers koeponne waarmee hulle gesondheidsorg van die dokter, kliniek of hospitaal van hul keuse kan koop.

7. Herroep alle arbeidswetgewing, behalwe die basiese voorwaardes wat gesondheid en veiligheid reguleer.

8. Herontwerp regstellende aksie en swart bemagtiging sodat die staat kan ingryp om alle behoeftiges te help, ongeag ras.

9. Verander die fokus van herverdeling na ekonomiese groei.

10. Verander die welsynstaat in ’n staat van entrepreneurs.


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
15 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-17°C Showers late. Afternoon clouds. Cool. Pta: 3-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 6-18°C Sunny. Mild. Bfn: 1-22°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-25°C Sunny. Mild. PE: 10-26°C Morning clouds. Pleasantly warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!