Die Amerikaanse hond het nou eindelik die Afgaanse bus gevang
2010-03-06 16:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die duisendste Amerikaanse soldaat het die afgelope week tydens Operasie Mosjtarak (“gesamentlik”) in die suide van Afganistan gesterf.
Daarmee, soosTheWashington Postdit genoem het, is ’n mylpaal in ’n negatiewe sin in die oorlog teen die Taliban in Afganistan bereik.
En tog, vir die eerste keer het dit gelyk of dinge heel versigtig in die regte rigting begin loop. Dalk het daardie gesneuwelde Amerikaner se dood tog sin gehad.
Operasie Mosjtarak is ’n soort eksperiment, ’n prototipe vir ’n totaal nuwe strategie in Afganistan. En die drie mense wat saam as die dryfkrag daaragter beskou kan word, is pres. Barack Obama, genl. David Petraeus (bevelvoerder van die kommandement Midde-Ooste, wat onder meer die oorhoofse verantwoordelikheid vir Afganistan dra), en genl. Stanley McChrystal (bevelvoerder van die ISAF, oftewel die internasionale veiligheidsbystandmag in Afganistan).
Dis nodig om die agtergrond te begryp.
Ofskoon die Amerikaanse weermag aansienlike ervaring in teeninsurgensie-oorlog in Viëtnam opgedoen het, het hy dit alles verlore laat gaan en hom op konvensionele oorlogvoering toegespits. Dié fokus het in die twee Irakse oorloë (1991 en 2003) op operasionele vlak uitstekend gewerk, want die Amerikaanse eenhede het briljant gevaar.
Die mislukking het op politieke vlak gelê, waar die Withuis van pres. George W. Bush en die Pentagon onder die verdedigingsminister Donald Rumsfeld feitlik geen enkele voorbereiding vir die dag ná die oorlog getref het nie.
Die gevolg was dat ’n chaos oor Irak geswiep en uiteenlopende elemente van die Irakse gemeenskap ’n bloedige guerrilla-opstand teen die Amerikaners begin het. Dit het laasgenoemde heeltemal onkant betrap, en omdat alle ervaring insake teeninsurgensieoorlog daarmee heen was, het hulle konvensioneel gereageer – met die maksimum geweld.
In ’n teeninsurgensie-oorlog is so iets egter heeltemal teenproduktief. Anders as in ’n konvensionele konflik, moet die hooffokus nie wees die vernietiging van die vyandelike strydkragte nie, maar die win van die bevolking se lojaliteit.
Anders gestel, die rede vir die oorlog moet weggeneem word.
Die man wat verantwoordelik was vir die herlewing van teeninsurgensieteorie in die Amerikaanse weermag was Petraeus. Petraeus was as bevelvoerder van die Amerikaanse weermag se sentrum vir verenigde magte in Fort Leavenworth verantwoordelik vir die opstel van ’n nuwe teeninsurgensiedoktrine, en nadat hy in 2007 die bevel in Irak oorgeneem het, het hy dit in die praktyk daar begin toepas.
Binne enkele maande het dit vrugte afgewerp, en toe hy Irak einde 2008 verlaat, was die oorlog daar omgedraai. Die plaaslike bevolking het hul steun aan die opstandelinge op groot skaal onttrek en die geweld het dramaties afgeneem.
Dit is dié benadering wat nou met Operasie Mosjtarak in Afganistan op die proef gestel word.
Tevore het die ISAF offensiewe van stapel gestuur, die Taliban uit ’n gebied verjaag en dan weens ’n gebrek aan troepe padgegee om die Taliban eldersaan te pak. Waarna die Taliban eenvoudig teruggekom en diegene wat met die ISAF saamgewerk het, vermoor het.
Wanneer die ISAF dan ooit weer sy opwagting maak, was geen Afgaan om begryplike redes gewillig om hulle te help nie.
Nou is dit veronderstel om anders te wees.
Vir eers blý die ISAF dié keer. Deurdat Amerika en sy bondgenote aansienlik meer troepe in Afganistan het, kan hulle bly in die streke waar hulle die Taliban verdryf het.
Ten tweede bring hulle ’n horde Afgaanse amptenare (wat oor ’n tydperk van maande intensief opgelei is) saam om die plaaslike regering oor te neem. Hulle gaan paaie, klinieke en skole bou, en telefoonlyne, waterpype en elektrisiteit aanlê.
Dis uiteraard te vroeg om oor die sukses van die operasie te gis. Die Taliban het wyslik besluit om nie ernstige weerstand te bied nie, maar hulle stilweg uit die voete gemaak, wagtend op ’n oomblik om terug te sypel.
Dán gaan dit daarvan afhang of die plaaslike bevolking seker genoeg van hulself voel om die insurgente aan die ISAF-troepe te verraai. As dit alles slaag, kan die ISAF die gebied mettertyd aan Afgaanse troepe oordra.
Tot dusver hou die ISAF se internasionale solidariteit ook redelik. Al die deelnemende lande, van Australië tot Duitsland, het positief gereageer opObama se oproep om meer soldate te stuur – behalwe Nederland, wie se kabinet erg verdeeld was oor die saak. Nederland het homself nou geïsoleer deur die enigste land te wees wat binnekort al sy troepe uit Afganistan gaan onttrek.
Twee belangrike probleme bly oor. Die eerste is die feit dat die Afgaanse regering van pres. Hamid Karzai onbekwaam en korrup is, en die tweede dat die Afgaanse troepe nie veel gesag inboesem nie. Hul gedrag tydens Operasie Mosjtarak was hoofsaaklik om agter die ISAF-eenhede te skuil en nie self in gevaarsones te kom nie.
Tog, die ISAF-offisiere is versigtig optimisties. Die vroeë aanduidings is positief. Hulle het reeds tientalle vergaderings met plaaslike leiers gehou, wat aangedui het hulle is nie vyandig nie, maar dat hulle eers die kat uit die boom wil kyk.
Onthou, op een so ’n vergadering is aan McChrystal gesê: “As julle wéér hier padgee, is ons dood net omdat ons met jou gepraat het.” Dit het so ’n indruk op die generaal gemaak dat hy dit aan Obama gerapporteer het, luidens berigte in die Amerikaanse media.
Hoe ook al, Operasie Mosjtarak dien as prototipe vir ’n tweede, groter operasie wat vir later vanjaar in die gebied rondom Kandahar beplan word.
Intussen het die hond die bus gevang. Wat gaan hy met hom maak? Die antwoord hierop sal interessant wees.
- Rapport